×
Skakel na Engels

Nuttige en noodsaaklike bestuurswenke vir beginners

As jou tiener pas haar rybewys gekry het of gaan kry, moet sy hiér lees … Deur Caira-Lee Durand
bestuurswenke

Is jou tiener ’n beginner wanneer dit by bestuur kom en voel hy of sy nog nie heeltemal opgewasse vir die bestuurstoets nie? Vir iemand wat nie gereeld bestuur nie, kan die pad ’n senutergende plek wees. Maak seker jou kind weet wat om agter die stuur te doen (en hoe om te reageer):

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

Jy moet met die regte gesindheid bestuur

Alhoewel dit noodsaaklik is om die toestand van jou motor na te gaan, is ’n “gesindheid-inspeksie” net so belangrik in die voorkoming van ongelukke. ’n Positiewe, proaktiewe ingesteldheid kan botsings help voorkom en vir ’n aangenamer bestuurservaring sorg.

Wees baie wakker en waaksaam

Toestande wat konstant verander, vereis dat voertuie gereeld van snelheid en rigting verander. Bly bewus van al die ander padgebruikers, insluitend waar voetgangers en ander voertuie hulle bevind.

Nagbestuurders

Om in die donker te bestuur kom met sy eie unieke uitdagings. Goeie, duidelike sigbaarheid is noodsaaklik; maak dus seker dat die voorruit skoon is en dat jy die ruitveërs in nat toestande gebruik. Maak seker dat jou sig nooit deur ’n dowwe voorruit belemmer word nie.

Nie’n blink idee nie

Soms word ’n bestuurder verblind deur die skerp ligte van ’n aankomende voertuig, dikwels omdat die ligte (al is dit laat sak) swak gestel is. Moenie kwaad word nie en weerstaan die versoeking om uit weerwraak jou helder hoofligte aan te skakel. Twee “verblinde” bestuurders wat in die nag op mekaar afpyl is ’n ongeluk wat wag om te gebeur.

Lees ook: 9 gereelde instandhoudingsinspeksies wat elke motor nodig het

Stadig oor die klippe

Teen 20 km/h kan ’n klein bestuurfout maklik reggestel word, maar teen 120 km/h kan dieselfde fout noodlottig wees. Moet nooit oor die snelheidsgrens ry nie, want dit kan tot ’n laat reaksie in ’n noodsituasie lei.

Voorkom botsings

In Suid-Afrika is daar elke uur ’n padsterfte, en ongeveer 15 000 mense sterf jaarliks op ons paaie. Een uit sewe Suid-Afrikaners wat vandag lewe, was of sal in ’n ongeluk betrokke wees wat tot ’n besering lei. Dis soos hulle sê: “Voorkoming is beter as genesing”.

Om genoeg tyd wil hê om ’n botsing te voorkom, moet ons die standaardformule vir ongeluksvoorkoming ken en toepas:

Herken die gevaar

Dink en kyk so ver moontlik vooruit. Moet nooit aanvaar dat alles sal reg loop nie en verwag altyd die onverwagte.

Weet hoe om te reageer

Daar is sekere metodes vir die hantering van elke verkeersituasie; raak vertroud daarmee en reageer positief wanneer die situasie ontstaan.

Tree betyds op

Wanneer jy die gevaar gesien het en weet hoe om op te tree, mag jy nooit ’n “wag en kyk”-houding inneem nie, want sodoende sal jy kosbare tyd en afstand inboet.

Uit: WOW

FOTO: iStock/londoneye

LEES OOK:

5 motors vir jou tiener onder die R180 000-merk

7 wenke om jou kinders te help om hul bestuurstoets te slaag

8 slegte bestuurgewoontes – en waarom dit so gevaarlik is

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief