×

Noodhulpgids vir somervakansiebeserings

Behandel hierdie algemene ongelukkies en beserings tuis
noodhulpgids behandel

Moenie dat ‘n bysteek of brandwond jou vakansiepret bederf nie. Met hierdie noodhulpgids wys ons hoe jy ligte beserings tuis kan behandel.

 

Vir brandwonde

‘n Klein brandwond van iets warms (soos ‘n braai) wat so groot soos ’n R5-stuk of kleiner is, kan maklik by die huis behandel word. Spoel dit vir minstens 20 minute onder lopende koue water af; bedek dit dan liggies met gaas en heg met ’n pleister. Ruil die verband daagliks en wees op die uitkyk na tekens van infeksie soos rooiheid, etter of swelling.
Hospitaal toe: Gaan reguit ongevalle toe as die brand deur ‘n elektriese ongeluk veroorsaak is.

 

Vir snye

Druk met ‘n gaaslappie op die wond totdat dit ophou bloei of aansienlik minder bloei. Spoel die wond dan vir minstens twee minute met kraanwater af; klad droog, bedek met gaas en heg met ‘n pleister. ‘n Splinter? Gebruik ‘n gesteriliseerde naald om die punt op te lig sodat jy dit met ‘n gesteriliseerde knyptangetjie kan uittrek. Was met warm water en verbind.
Hospitaal toe: As die wond ná 10 tot 15 minute se drukking steeds bloei, of as die kante van die wond nie aan mekaar kan raak nie, moet jy hospitaal toe gaan.

Vir byte en steke

Vir insekbyte kan jy ‘n kredietkaart gebruik om die angel versigtig uit te skraap. (Om te verhinder dat meer gif uitgespuit word, kan jy onder die gifsakkie werk as dit steeds aan die angel vas is.) Was die deel met seep en water en gebruik koue kompresse om die swelsel te verminder.
Hospitaal toe: As jy ‘n anafilaktiese reaksie vermoed – geswelde lippe of ooglede, swelling van die keel, moeisame asemhaling, braking of diarree – gaan reguit hospitaal toe.

Vir kopstampe

Die grootte van die knop is nie ‘n aanduiding van die erns van die besering nie; dus moet die simptome fyn dopgehou word. Intussentyd kan gelokaliseerde pyn met ys en parasetamol behandel word. Vermy ibuprofen en ander niesteroïedale anti-inflammatoriese middels aangesien dit interne bloedstolling kan beïnvloed – nooit ‘n goeie idee wanneer iemand ‘n kopwond opdoen nie.
Hospitaal toe: As die beseerde persoon sy bewussyn verloor (self vir ‘n kort tydjie), erge hoofpyn het, braak of deurmekaar is, moet julle by die hospitaal uitkom.

Lees ook:

Behandel brand- en skroeiwonde

Die een botteltjie waarsonder geen noodhulpkissie behoort te wees nie

Wat nooddokters in hul huise sal verbied

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
4 maniere om ’n sarong te dra

Met die strandseisoen om die draai is ’n bedekking in die vorm van ’n sarong ’n moet-hê om op die...

Close