Vanjaar vind die Jozi Book Fair van 11 tot 13 September by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) plaas. Toegang is gratis en die hele gesin is welkom.
Daar is meer as 120 geleenthede en aktiwiteite om aan deel te neem, van voorlesings met skrywers tot Khoi-San-storievertellers van Oudtshoorn, jazz, teater, oop-mikrofoon-poësie, fliekfeeste, werksessies en paneelbesprekings.
Om met vanjaar se tema, kinderliteratuur en kinderjare, saam te val, is die gasspreker Enrique Perez Dias, ’n Kubaanse skrywer, resensent, joernalis en navorser van kinderliteratuur. Diaz sal oor die rol van kinderliteratuur in die bou van ’n progressiewe nasionale kultuur praat en oor hoe boeke toegankliker en meer bekostigbaar gemaak kan word.
Die kinderprogram is van 09:30 tot 14:00 op Saterdag en Sondag en sluit ’n storievertelfees, “Poetry Buddies”, in, asook verskeie toere en uitstallings by die Origins-sentrum vir kinders en ouers.
Om die volledige program te besigtig, besoek www.wits.ac.za of www.jozibookfair.org.za.