×
Skakel na Engels

Dís waarna jy moet uitkyk wanneer jy na ’n nuwe huis soek

Dis makliker om ’n goeie besluit te neem as jy weet waarvoor jy op die uitkyk moet wees
huis koop

Om huis te soek is ’n baie opwindende avontuur – om die volmaakte gesinshuis aanlyn te soek, ’n huisagent met ’n hoopvolle hart te skakel en uiteindelik na die huise te gaan kyk wat jou oog gevang het. Maar dit kan ook baie spanningsvol wees. Veral as jy onvoorbereid is en jy en jou maat nie saamstem oor wat julle wil hê nie.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

Hierdie kontrolelys sal jou minder senuweeagtig oor die hele onderneming laat voel en jou help om die huise uit te skakel wat te veel werk benodig of nie in jou gesin se behoeftes voorsien nie.

1. Weet wat jy wil hê

Vra jouself af waarom jy wil trek. Is julle huidige huis te klein? Het julle ’n groter tuin vir die kinders nodig? Meer stoorplek? ’n Groter kombuis? Wanneer jy weet presies waarna jy soek, behoort jy seker te maak dat die plekke waarna jy aanlyn of deur ’n agent soek, aan hierdie vereistes voldoen. Moenie tyd mors deur na plekke te gaan kyk wat net ’n voortsetting van jou huidige woonsituasie gaan wees nie. Stel ’n lys op van alles wat jy nodig het en wil hê, en moenie eens na ’n plek gaan kyk wat nie aan daardie kriteria voldoen nie. 

 

2. Moenie net aanlyn soek nie

Neem ’n Sondagmiddag en gaan ry deur die omgewing waar jy graag wil gaan bly. Daar is baie huise wat op Sondae geskou word en jy kan agente ontmoet wat jou in jou soektog kan help. Jy kan letterlik instap en na hierdie huise kyk. Wees op die uitkyk vir skoubordjies in jou omgewing. En hou jou oë oop vir “TE KOOP”-borde voor huise wat nie daardie dag geskou word nie. Skakel die agente om te vra hoeveel die huis kos of om ’n idee te vorm van hoe die mark in daardie area lyk en reël om die huise te gaan kyk waarin jy belangstel. WENK: Stoor die agente se nommers op jou foon saam met die straatadres van die eiendom waarin jy belangstel – dit kan nogal verwarrend raak as jy 10 agente op een dag bel en hulle almal begin jou terugbel of WhatsApp’s stuur. 

 

3. Moenie tyd mors nie

Wanneer jy aanlyn soek, kan jy reël dat jy kennisgewings ontvang nuwe eiendomme wat aan jou kriteria voldoen. Sodoende kan jy ’n besigtiging reël vir die dag waarop ’n huis in die mark kom, en een van die eerste mense wees om te gaan kyk en sodoende teleurstelling voorkom.

 

3. Gebruik meer as een eiendomsagent

Dit is makliker om ’n agent te vra om die perfekte huis vir julle gesin te kry, maar doen eerder ’n bietjie ekstra moeite en stel self ook ondersoek in. Hoe meer agente weet dat jy huis soek, hoe groter is jou kans om geholpe te raak. Moenie die fout maak om te dink dat jy ’n week later na ’n spesifieke huis sal gaan kyk nie, want daar is ’n kans dat dit nie meer beskikbaar sal wees nie. 

 

4. Moets en moenies wanneer jy huise gaan besigtig

Tensy jy ekstra kontant vir opknap- en herstelwerk het, sal jy na ’n huis soek wat mooi in stand gehou is en min werk nodig het. Hou die volgende in gedagte wanneer na ’n huis gaan kyk om latere kopersberou te voorkom:

  • Stel jou die plek sonder hulle meubels voor. Moenie dat hulle dekor jou afskrik nie. Probeer jou indink hoe die plek leeg of met jou eie meubels gaan lyk. 
  • Doen navraag oor die buurt, die onmiddellike bure en misdaadsyfers in die area.
  • Vra uit oor die geraasvlakke as die huis naby ’n besige pad geleë is.
  • Vra wanneer laas die huis geverf is.
  • Vra hoe oud die geiser en stoof is en of die stoof gaan bly as hulle trek.
  • Kyk na die vloere en matte. Is daar gekraakte of gebreekte teëls? Is die matte in ’n goeie toestand?
  • Kyk na die mure. Is daar enige sigbare krake? Kom die verf af en hoe lyk dit naby die waterpype? Is daar enige vreemde vlekke en indien ja, hoekom? Sal jy die mure moet oorverf?
  • Kyk binne die kombuis- en slaapkamerkaste. Is dit groot genoeg vir al julle goed? Is daar genoeg hangplek? Gaan julle beddens in die kamers pas met genoeg plek om die kasdeure oop te maak?
  • Het al die deure slotte en werkende handvatsels?
  • Is die voegbry rondom die bad en vensters in ’n goeie toestand?
  • Toets al die krane, storte en toilette om die waterdruk te bepaal en wees op die uitkyk vir lekplekke.
  • Is die geute in ’n werkende toestand en is hulle gereeld skoongemaak?
  • Is daar diefwering en is al die vensters heel en sluit hulle dig?
  • Is daar ’n alarmstelsel?
  • Is daar enige krake in die plafonne, en is daar muf teen die badkamerplafon?
  • Is die buitenste plaveisel in ’n goeie toestand?
  • Is daar ’n put of boorgat?
  • Is daar veselinternet en/of Wi-Fi?

5. Maak ’n video/neem foto’s

Wanneer jy ’n plek sien waarvan jy hou, is dit ’n goeie idee om self baie foto’s te neem en selfs ’n video te maak. Sodoende kan jy die plek later uit jou eie perspektief bekyk wanneer jy en jou maat moet besluit of julle die plek wil koop/huur of nie. Baie eiendomsagente se foto’s is gestileer om ’n sekere voorkoms te skep, maar jou eie foto’s sal jou die ware gevoel van die plek gee. 

Foto: iStock/Peopleimages

 

LEES OOK:

6 verhuisingswenke

Verhuis sonder sorge

Vier maniere om die rente op jou huislening te verminder

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
5 eenvoudige stappe om jou huis te beveilig wanneer jy met vakansie is

Gaan jy met vakansie? Hierdie stappe sal help om jou huis te beveilig terwyl jy weg is

Close