×
Skakel na Engels

’n Setsproei vir jou grimering

Hou jou grimering heeldag vars met hierdie sproei wat jy self kan maak
setsproei

Droog jou grimering al teen middagete uit? ’n Grimeersetsproei is dalk die oplossing. Boonop hoef jy nie ’n klomp geld daarop uit te gee nie – maak dit sommer self.

Wat is ’n grimeersetsproei?

’n Grimeersetsproei is ’n mistige sproei wat gewoonlik water, gliserien en/of alkohol bevat. Die produk kan verder aangevul word met bestanddele soos plantekstrakte, essensiële olies of ’n geurmiddel. Sommige produkte is ook dikwels (volgens die verpakking) met vitamiene en minerale verryk.

Setsproei is spesiaal ontwikkel om grimering te laat hou. Dit is ’n wonderlike produk wat help om jou grimering heeldag lank mooi te hou, maar kan duur wees en bestanddele soos alkohol bevat, wat nie goed is vir jou vel nie.

Hoekom ’n setsproei gebruik?

As jy met ’n droë vel sukkel, is ’n setpoeier vir jou grimering nie noodwendig die beste oplossing nie, aangesien ’n droë poeier maklik aangeplak kan voel en lyntjies op die gesig kan beklemtoon. Hoe lank jou grimering hou, word deur verskeie faktore bepaal, soos sweet, humiditeit en hoe gereeld jy aan jou gesig vat.

’n Setsproei bevogtig die vel en bevat bestanddele (hoofsaaklik gliserien) wat jou grimering vars hou en terselfdertyd help dat jou vel nie uitdroog nie.

’n Setsproei wat jy self kan maak

Hier is ’n maklike resep vir jou grimeersetsproei. 

Jy sal die volgende nodig hê:

  • ¼ koppie vars, gedistilleerde water
  • ½ eetlepel plantaardige gliserien (by apteke te koop)
  • 6 druppels essensiële of gesigolie van jou keuse  (teeboomolie vir ’n olierige vel, of roosolie vir ’n droë vel)

Voeg al die bestanddele bymekaar in ’n skoon sproeibottel en skud goed. Spuit aan nadat jy jou grimering aangewend het, of soos nodig gedurende die dag. Hou die bottel 20 cm ver weg van jou gesig en spuit een tot drie keer.

Vrywaring: Nie alle tuisgemaakte produkte is vir almal geskik nie. Soos met enige velsorgresep wat jy self aanmaak, is dit belangrik om te besef dat sommige bestanddele die vel kan irriteer. As jy onseker is hoe jou vel op ’n bestanddeel sal reageer, toets dit altyd eers deur ’n klein bietjie daarvan op jou vel aan te wend.

FOTO: iStock/lisegagne

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Kies die beste onderlaagformule

Jy het dalk die perfekte kleur onderlaag vir jou vel gevind, maar is die formule reg vir jou veltipe?

Close