×
Skakel na Engels

’n Brief aan my 15-jarige dogter

Hierdie brief van ’n ma aan haar dogter was so treffend, ons moes dit net deel
mother daughter

Dié ma se treffende brief aan haar 15-jarige dogter het soos ’n veldbrand op die internet versprei en ons moes dit eenvoudig deel. Ons het die brief hier gekry.

  1. Oor drie jaar kan ek jou uit die huis skop. 
    Klink skrikwekkend, nè? Beslis. Wanneer jy 18 word, is daar twee goed wat jy kan doen: Jy gaan universiteit toe, en ek sal jou ondersteun soveel as wat ek kan totdat jy graad kry of werk kry. Of jy sê nee vir universiteit (en ek sal jou nooit oordeel as jy dit doen nie) en gaan werk dadelik. In daardie geval sal jy na jouself moet kyk. Ek gaan nie ’n meisie bo 18 ondersteun wat nie ’n verdere opvoeding kry nie, want ek dink nie dit is die regte ding om te doen nie. Jy het drie jaar om te besluit … en ons het klaar aan ’n nuwe doel vir jou slaapkamer gedink. Dit gaan ons slaapkamer wees.
  2. Jy is wonderlik. Jy is pragtig. Jy is baie slim. 

    Jy is baie beter as ek. Jy is regtig ’n wonderlike mens. Ek ken jou al 15 jaar, en jy is soveel meer fantasties as wat ek ooit in my wildste drome gedink het. As iemand dit nie verstaan nie, is dit hul probleem (wel, dis in ’n mate ook jou pa se probleem).

  3. Ek is nie ’n voorbeeld wat jy kan volg nie. 

    Jy is ’n heel ander mens as ek. Jy het jou eie individuele persoonlikheid. Jy hoef nie van dieselfde goed as ek te hou nie. Jy het alle reg om my gesag te verwerp en nie my waardes te deel nie. Daar is egter een ding wat daarmee saamgaan: Jy sal verantwoordelikheid vir jou eie keuses moet aanvaar.

  4. Jy is ’n vry mens. Ek het geen verwagtings nie. 

    Jy kan ’n meganikus, sake-analis, tuisteskepper, skoonheidsterapeut, hoëvlakbestuurder of kassiere in ’n supermark word. Ek dink nie ek kan inmeng in die pad wat jy in hierdie lewe kies nie. Maar moenie van punt nommer 1 vergeet nie.

  5. Jy skuld my niks. 

    Ek het jou nie grootgemaak met die verwagting dat jy skuld moet terugbetaal nie. Ek verwag nie van jou om vir my te sorg wanneer ek oud is nie. Jy het die reg om te fokus op wat vir jou belangrik is, op wat jy van waarde ag. Dis jou lewe en jou keuse.

  6. Jy het ’n huis. 

    Wat ook al in hierdie lewe met jou gebeur, ek sal by jou wees as jy my nodig het. Ek sal jou ondersteun, in jou geluk en hartseer deel, en ek sal probeer help as jy my vra. Maar ek sal nie ongenooid ingryp nie.

  7. Ek het my eie lewe. 

    Ek is onder geen verpligting om te kom help as jy jou vingers klap nie. Ek hoef nie alles te los waarmee ek besig is of my gerief vir joune op te offer nie. Ek kan. Maar ek hoef nie.

  8. Jy het jou eie lewe. 
    Met wie jy trou, of jy kinders het, tot watter soort mense jy aangetrokke voel, vir wie jy stem – dis alles jou besigheid. My menings, passies en oortuigings behoort geen definiërende invloed op jou te hê nie. Jy moet doen wat jou hart en jou gewete vir jou sê om te doen. Wanneer jy dit doen, sal jy my nie verloor nie, en jy sal nie ophou om my dogter te wees nie.
  9. Niemand probeer om jou seer te maak nie.

    Dit is nie maklik om te verstaan nie, maar dis waar: Almal dink aan hulself. Ek ook. Elke mens daar buite, wat ook al hul omstandighede, tree eenvoudig op soos hulle dink reg is. Niemand probeer opsetlik om jou lewe erger te maak nie. Hulle doen eenvoudig wat hulle dink die beste vir húlle is, soos hulle dit sien, en niks meer nie. Dis net dat jou siening van die lewe en hulle s’n nie heeltemal ooreenstem nie.

  10. Die lewe is nie regverdig nie. 

    Daar is geen gewaarborgde maniere om sukses te behaal of teenspoed te vermy nie. Jy is nie in beheer van hierdie wêreld nie. Jy kan alles reg doen en steeds in ’n onaangename situasie beland. Jy kan alles verkeerd doen en ’n glanslewe leef. Die enigste ding waaroor jy moet omgee, is om eerlik te wees. Moenie vir jouself jok nie. Leer om jouself te verstaan. Probeer om jou ware behoeftes en gevoelens te verstaan. En dink aan wat die beste vir jou sal wees.

  11. Wat vir jou goed is, sal altyd vir iemand anders sleg wees. 
    Wanneer jy daai werk of plek by ’n universiteit kry, verloor iemand anders hul kans. Wanneer jy saam met iemand op ’n afspraak gaan, is daar ’n kans dat dit iemand anders se eerste liefde was. Jy kan dalk selfs op iemand se gunstelingplek in die fliek gaan sit. Maar moet jou nie daaroor bekommer nie, want wat vir jou sleg is, sal vir iemand anders goed wees, so julle is kiets.
  12. Die enigste mens in wie jy 100% kan glo, is jouself. 
    Nee, nie eens ek nie. Net jy. Ek kan nie heeltemal in jou kop wees nie, en jy sal altyd goed ongesê laat, of iets wegsteek, van almal. Ek weet dit, want ek doen dit ook. Ek het ook ’n ma. Net jy weet ALLES van jouself. Net jy kan dus weet waartoe jy in staat is.
  13. Moenie verantwoordelikheid op ander afskuif nie. 
    Van die dag dat jy 18 word, sal jy verantwoordelik wees vir wat in jou lewe gebeur. Maak jou eie kinders groot as jy dink jy kan dit op jou eie doen. Aanvaar daardie uitdagende werk as jy dink jy kan dit hanteer. Emigreer as jy dink jy kan op jou eie in ’n vreemde land oorleef. ALLEEN. As jy gelukkig is en mense kry wat bereid is om jou te help, sal dit makliker wees. Maar niemand is VERPLIG om jou te help nie. Onthou dit.
  14. Wees voorbereid. 
    Elke daad het ’n gevolg. Die kans is goed dat jy nie alles sal kan voorsien nie. Maar probeer ten minste om vir soveel as moontlik voorsiening te maak. Hoe meer potensiële gevolge daar vir jou optrede kan wees waaraan jy kan dink, hoe rasioneler sal jou gedrag wees.
  15. Jy hoef nie na my te luister nie. 
    Ek het vir jou 14 punte gegee wat ek dink sal help om jou lewe beter te maak as wat myne was. Maar, soos ek hier bo gesê het, jy is nie ek nie. Moenie jouself met my vergelyk nie. Moenie dink ons lewens kan op elke manier ooreenstem nie. Ek wou altyd ’n mens in hierdie wêreld inbring wat haar eie lewe sal leef. So gaan en leef dit. 15a. Moet net nie later terugkom en daaroor kla nie. 15b. En moet nooit jou foon afskakel nie. Dit maak my bekommerd.
Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Wat ouers van ’n leë nes wil hê ander ouers moet weet

Wanneer jou kinders die huis verlaat, kan dit moeilik wees om aan ’n lewe sonder hulle gewoond te raak, maar...

Close