×
Skakel na Engels

’n Beginner-grimeerstel vir jou tiener

Hier is ’n paar bekostigbare idees van wat om in te sluit

As jou jong tienerdogter aanhoudend jou grimering leen, is dit miskien tyd om haar ’n basiese skoonheidsroetines te leer en haar te help om haar eie grimeerstel te koop. Hier is ’n paar voorstelle van wat om te koop:

1: ’n Ligte BB- of CC-room of getinte vogroom

’n Jong vel het nie regtig swaar bedekking nodig nie, maar jou tiener sal dalk vlekkies of puisies wil verbloem. Kies ’n BB- of CC-room of ’n getinte vogroom wat by haar veltoon pas. Leer haar om dit op haar voorkop, neus en wange aan te tik en dit dan met ’n grimeersponsie of haar vingers na buite te vermeng. Leer haar ook om grimering afwaarts in haar nek te vermeng om die natuurlikste afwerking te skep en ’n duidelike lyn te vermy.

Pure Active BB Cream Medium 50ml, R79.95 – Clicks

2: ’n Verbloemer wat by haar veltoon pas

Puisies is sinoniem met die tienerjare en kan dalk ’n bietjie ekstra bedekking verg. Help jou tiener om ’n bekostigbare verbloemer (handelsmerke soos Essence of Maybelline het goeie verbloemers wat sal werk) in haar veltoon te kies. Leer haar om dit liggies op die aangetaste deel aan te tik en met ’n deursigtige gesigpoeier te bedek om die produk te laat set. 

All About Matt Oil Free Matt Mahogany Make-up 30ml, R79.95 – Clicks

3: ’n Roomblosser

Jou tiener se jong vel het nog ’n mooi kleur en gloed, maar laat haar ’n ligte roomblosser gebruik vir ’n bietjie ekstra kleur. Kies ’n rosige pienk skakering soortgelyk aan haar natuurlike wangkleur en leer haar om dit liggies aan die appels van haar wange aan te wend en met haar vingers opwaarts te vermeng.

Lees: 6 geheime wat jou gesig jare jonger sal laat lyk

4: Getinte lipbalsem of lipglans

Hoewel dit heeltemal oukei is dat jou tiener met kleure wil eksperimenteer, sê vir haar sy sal jeugdiger lyk met ’n lipbalsem of lipglans in plaas van ’n swaar, mat lipstiffie. Daar is goeie lipbalsems en -glanse van bekostigbare handelsmerke beskikbaar.

XXXL Shine Lipgloss Glamour To Go 5m, R39.95 – Clicks

5: Maskara

Maskare is noodsaaklik in enige grimeersakkie, of jy nou jonk of oud is. Dit sal haar oë ’n bietjie ekstra definisie gee en is maklik om aan te wend.

6: ’n Basiese oogskadupalet

As jou tiener in grimering belangstel, sal sy beslis met verskillende kleure wil eksperimenteer. Daar is verskeie helderkleurige oogskadu’s op die mark, maar ’n basiese, neutrale oogskadupalet sal meer as genoeg wees vir haar om mee te eksperimenteer.

 

7: ’n Bekostigbare stel ooggrimeringkwaste

Jou tiener sal haar produkte met ’n roombasis met haar vingers of ’n eenvoudige grimeersponsie kan aanwend, en daarom is dit nog nie nodig om geld aan te veel grimeerkwassies uit te gee nie. ’n Eenvoudige stel ooggrimeringkwassies waarmee sy kan eksperimenteer, sal egter ideaal wees om oogskadu mee aan te wend.

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
4 stappe om jou maskara elke keer perfek aan te wend!

Vind uit hoe om jou maskara soos ’n kenner aan te wend

Close