×
Skakel na Engels

Moet NOOIT hierdie skoonmaakprodukte meng nie

Dié reinigers is algemeen (en nuttig om te hê), maar die verkeerde kombinasies kan baie gevaarlik wees
cleaning products

Wanneer jy sukkel om iets skoon te kry, is dit maklik om gefrustreerd te raak – en ’n versoeking om kreatief te raak met hoe jy dit gaan regkry. Maar voordat jy elke moontlike skoonmaakproduk onder jou wasbak uithaal en chemikus begin speel, lees eers hier.

“Mense dink dikwels as een produk werk, sal dit nog beter wees as jy dit met nog een meng,” sê Carolyn Forte, direkteur van die Cleaning Lab by die Good Housekeeping Institute in New York.

Maar hier is die skrikwekkende waarheid: “Sekere produkte wat veilig is wanneer dit alleen gebruik word, kan soms onveilige walms of ander chemiese reaksies veroorsaak wanneer dit met ander produkte gemeng word,” sê Nancy Bock, senior visepresident van vergaderings en opvoeding by die American Cleaning Institute.

En selfs al is jou ad hoc-skoonmaakkombinasie nie gevaarlik of giftig nie, kan jy nooit seker wees watter uitwerking twee produkte op ’n oppervlak of materiaal kan hê wanneer dit gemeng word nie. Lees altyd die waarskuwing- en bestanddele-etikette op skoonmaakprodukte – en moet nooit die volgende meng nie:

Dreinskoonmaker + dreinskoonmaker

“Ek sal nooit aanbeveel dat twee verskillende dreinskoonmakers gemeng word of selfs dat een direk ná die ander gebruik word nie,” sê Forte. “Dis kragtige formules en kan selfs ontplof wanneer dit gekombineer word.”

Gebruik een produk volgens die aanwysings op die verpakking (net ’n halwe bottel is gewoonlik genoeg per behandeling). As dit nie werk nie, moenie ’n ander produk probeer nie. Bel eerder ’n loodgieter, sê Forte.

Waterstofperoksied + asyn

Jy het dalk gehoor dat jy vrugte of werkoppervlakke om die beurt met waterstofperoksied en asyn moet spuit en die oppervlak tussen elke spuit moet afvee. Kenners sê dié metode is veilig, maar moenie die twee produkte in dieselfde houer meng nie. Wanneer jy dit kombineer, skep dit perasynsuur, wat giftig kan wees en die vel, oë en asemhalingstelsel kan irriteer.

Bleikmiddel + asyn

Die kombinasie klink asof dit ’n kragtige ontsmettingsmiddel kan maak, maar die twee moet nooit gemeng word nie. “Saam produseer dit chloorgas, waarvan selfs lae vlakke ’n gehoes, asemhalingsprobleme en branderige, waterige oë kan veroorsaak,” sê Forte.

Bleikmiddel + ammoniak

Bleikmiddel en ammoniak produseer ’n giftige gas genaamd chloramien. “Dit veroorsaak dieselfde simptome as bleikmiddel en asyn – saam met kortasemrigheid en borspyn,” sê Forte. Baie glas- en ruitskoonmakers bevat ammoniak. Moet dit dus nooit met bleikmiddel meng nie.”

Bleikmiddel + ontsmettingsalkohol

Jy het waarskynlik al van chloroform gehoor. Jy weet, die goed wat ontvoerders in die flieks gebruik om hul slagoffers te bedwelm? Hoewel dit jou dalk nie sal laat flou word nie, kan hierdie kombinasie irriterend en giftig wees.

Maak dit ’n reël om nooit bleikmiddel met enige iets anders as gewone water te meng nie. “Selfs ander produkte soos venster- en toiletreinigers kan bestanddele soos sure of ammoniak bevat en dit moet nie met bleikmiddel gemeng word nie,” sê Forte.

Foto: iStock/KucherAV

Hierdie artikel het oorspronklik op www.goodhousekeeping.com verskyn.

LEES OOK:

10 goed wat jy moet weet oor die hergebruik van gryswater

5 huisskoonmaakfoute

Sê nee vir sulfate!

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Okion se kompakte 3-in-1- reinigingstel vir digitale kameras en video-opnemers

Maak deeglik skoon

Close