×
Skakel na Engels

Moenie dat die skelms jou met ’n “gemiste oproep” uitvang nie

Nog ’n foonbedrogspul in Suid-Afrika
“gemiste oproep”

Ons weet dis verloklik om terug te bel wanneer jy ’n gemiste oproep van ’n onbekende nommer gehad het, maar die plaaslike netwerkverskaffer MTN het sy netwerkgebruikers daarteen gewaarsku om internasionale nommers ná ’n gemiste oproep te skakel.

Daar is swendelary genaamd “Wangiri Fraud” wat die rondte doen. Volgens MTN beteken Wangiri “een lui en afsny” in Japannees, die taal van die land waarin die bedrogspul ontstaan het.

Hoe werk dit?

Dié skelmstreek is ’n soort foonbedrog waar die pleger lukraak selfoonnommers bel en dan ná een lui neersit. Op die ontvanger se foon lyk dit dan of hy of sy ’n oproep gemis het. Die meeste mense is in die versoeking om terug te bel, maar wanneer hulle dit doen, word hoë oproepratiewe gehef.

Dié wat terugbel, word gewoonlik met geoutomatiseerde advertensieboodskappe bestook. Nog ’n weergawe van Wangiri-bedrog doen die rondte op WhatsApp, waar gebruikers ’n WhatsApp-boodskap met ’n kontak-aanhegsel van ’n onbekende nommer ontvang.

Dit is waar die bedrogspul inkom: Die nommer in die kontakinligting is nie dieselfde as die een waarvandaan die boodskap gestuur is nie. As jy die nommer bel, kan dit jou baie geld kos omdat hoë oproeptariewe gehef word.

As jy terugbel, “speel ’n interaktiewe stemrespons (IVR), waarna jy met ’n oproepsentrumagent verbind word”, verduidelik ’n bedryfskenner. WhatsApp-gebruikers word gewaarsku om op die uitkyk na hierdie boodskappe te wees en nié terug te bel soos versoek word nie.

FOTO: iStock/Mixmike

LEES OOK:

5 wenke wat jou uit swendelaars se kloue sal hou

Hoe om jouself op die internet uit te wis

Hierdie nuwe WhatsApp-funksie sal jou lewe verander

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief