×
Skakel na Engels

“Moeder van rooibos” sterf op 86

Dr. Annique Theron, stigter van die skoonheidshuis Annique, is ná ’n kort siekbed oorlede

Luidens ’n mediaverklaring van die skoonheidshuis Anique Health and Beauty is dr. Annique Theron gister vreedsaam oorlede ná ’n kort siekte.

Theron het in 1968 rooibos gebruik om haar jongste kind, Lorinda, se allergieë te genees. Daarna het sy rooibosvelsorg en -gewigsverliesprodukte ontwikkel en die maantskappy Annique in 1971 gestig. Deesdae is daar meer as 200 Annique-produkte wat na 18 lande oor die wêreld heen uitgevoer word.

Theron was 72 toe sy haar doktorsgraad in alternatiewe geneeskunde aan die Commonwealth Open University verwerf het. Ná haar uittrede het haar kinders die onderneming bestuur tot in 2010, toe hulle dit aan Ernest du Toit verkoop het, wat nou die uitvoerende hoof is. In 1997 is sy in Genève bekroon met die toekenning Vroue-innoveerder van die Jaar van die Wêreldorganisasie vir Intellektuele Eiendom, en in 2005 is sy as die ATKV se Ikoon van die Jaar aangewys.

Aanhangers van oraloor het hul ondersteuning vir en medelye met die familie op sosiale media uitgespreek. Theron laat haar vier kinders – Henk, Marius, Suzette en Lorinda – agter, asook sewe kleinkinders. Haar man, Meiring, is in 1990 oorlede.

 

 

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Wanneer om ’n dermatoloog te besoek

Sommige velkwessies verdien meer aandag as ander! Vind uit wanneer om hulp te kry

Close