×
Skakel na Engels

Meditasie kan die geheim vir gewigsverlies wees

Nuwe boek beweer dat vyf minute per dag kan help om jou kosdrange te beheer. Deur Jessica Bateman
meditation

In Meditate Your Weight sê die jogameester Tiffany Cruikshank dat vyf minute se meditasie per dag kortisolvlakke kan help verlaag – die streshormoon wat tot maagvet lei.

Danksy die ontspannende aard van meditasie kan dit diëters help om by hul eetplan te hou, want hulle sal nie so kwesbaar wees om na die koekies te gryp ná ’n moeilike dag nie.

En om in die gewoonte te kom om jou gedagtes te kalmeer kan jou die kans gee om te ontleed wat jou kosdrange veroorsaak het voordat jy daaraan toegee.

Tiffany deel haar stap-vir-stap-meditasiegids hier onder. Vir die volledige tweedagplan, lees die boek.

Mediteer om gewig dop te hou

1. Maak tyd om gereeld te mediteer – selfs al is dit net vir ’n paar minute elke dag. Kort maar gereeld is baie doeltreffender as lang tye wat jy ongereeld inruim.

2. Probeer om elke dag op dieselfde tyd te mediteer.

3. Kry ’n plek weg van moontlike steurnisse (radio, TV, rekenaars, fone en ander mense) en sit op ’n kussing op die vloer of gaan sit op die punt van ’n stoel en laat jou nek, rug en skouers ontspan. Moenie terugsit of te gemaklik raak nie, want dit kan jou aandag aflei of jou selfs aan die slaap laat raak, wat die doel verydel. ’n Toestand van “bewuste waaksaamheid” lewer die beste resultate.

4. Stel ’n tydhouer vir vyf minute.

5. Maak jou oë toe, of hou dit effens oop en fokus saggies op die vloer voor jou. Neem ’n paar oomblikke om op jou asemhaling te konsentreer en rustig te raak.

6. Wanneer jy rustig is, begin deur die sensasies van die buitelyn van jou liggaam op te merk – jou maag, jou heupe, jou bene. Dink jou dan in hoe jy sal lyk wanneer jy ’n gesonde gewig is. Hoe voel dit?

Kan jy jouself as slank voorstel? Hoe lyk jy? Hoe voel dit? Probeer om al hierdie sensasies in hierdie nuwe, gesonde lyf voor te stel.

Loop jy anders of dra jy jouself anders? Pas jou klere anders? Praat of tree jy anders op?

Dink aan jouself as slanker – gaan deur elke aspek van ’n volle dag. Visualiseer regtig al die detail en maak ’n punt daarvan om alles raak te sien wat anders voel.

7. Wanneer jou meditasie klaar is, skryf al die positiewe veranderinge wat jy in die slanker jy raakgesien het neer – in jou liggaam, jou gedagtes, jou stresvlakke, jou gesondheid, jou verhoudings, werksukses, alles.

8. Hou hierdie beeld van die slanker jy in gedagte en maak ’n punt daarvan om deur die dag van tyd tot tyd daarheen terug te keer. Hou dit in jou gedagtes vir net ’n paar oomblikke, maak jou oë toe en dink aan hoe jy gaan voel.

9. Herhaal hierdie meditasie elke dag vir ’n maand en verhoog jou meditasietyd na 10 minute as jy kan.

Hierdie punte kom uit Meditate Your Weight deur Tiffany Cruikshank. Beskikbaar by Takealot.

Foto: iStock/kieferpix

Van: Prima.co.uk

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Hoekom jy EINTLIK in die winter gewig aansit

Trooskos en minder fisieke aktiwiteit is nie die enigste faktore wat vir wintervet verantwoordelik is nie

Close