×
Skakel na Engels

Meditasie: die nuwe detensie?

’n Skool in Baltimore verskuif die grense wanneer dit by dissipline kom
Meditasie

Hoewel detensie as ’n middel tot ’n doel gesien kan word, beteken dit die meeste van die tyd dat kinders na die muur sit en staar. Hulle leer geen lesse nie en dit moedig nie goeie gedrag aan nie. Met tyd is getoon dat hierdie vlak van dissipline nie die kind leer hoe om op te tree nie en dit takel nie die onderliggende faktore wat in die eerste plek tot wangedrag gelei het nie. Die Robert W. Coleman Elementary School in Baltimore, Maryland in die VSA het ’n oplossing daarvoor gekry: meditasie.

’N SKOOL SE VISIE

Pleks van na die hoof se kantoor gestuur te word of ure se detensie word leerlinge aan die Robert W. Coleman Elementary School na ’n meditasievertrek gestuur waar ’n opgeleide persoon hulle deur asemhalingsoefeninge en meditasie lei wat dan in alle dele van hul lewe toegepas kan word. Hulle bied selfs naskoolse jogaklasse vir die kinders aan om te geniet.

’N HELPENDE HAND

Die Holistic Life-stigting is ’n organisasie sonder winsbejag in Baltimore wat tot die welstand van kinders en volwassenes in onderbediende gemeenskappe verbind is. Die stigting het die meditasievertrek by die skool ingerig om die skool te help. “Dis ongelooflik,” sê Kirk Philips, die Holistic Me-koördineerder by Robert W. Coleman. “Jy sou nie kon dink dat klein kinders in stilte sou mediteer nie. En hulle doen dit.”

Philips sê by Robert W. Coleman Elementary was daar vir die 2015/2016-skooljaar geen skorsings nie. En in die nabygeleë Patterson Park High School, wat ook die aandagtigheidsprogramme gebruik, het die getal skorsings gedaal en bywoning het verbeter. Dit kan danksy verskeie faktore wees, maar dit is beslis nie ’n slegte idee om ons kinders te probeer leer  hoe ons wil hê hulle die wêreld moet behandel nie.

Lees ook: Verlaag só jou stresvlakke

WAT IS DIE POSITIEWE PUNTE?

  • Meditasie help kinders om beter in stresvolle situasies te reageer.
  • Dit help om hul ingesteldheid te verander en gee hulle ’n positiewe uitkyk op die lewe en skoolaktiwiteite.
  • Dit verminder gedragsprobleme by die skool en tuis.

GAAN KYK SELF

Die video toon die wonderlike werk wat by die Robert W. Coleman Elementary School in Baltimore gedoen word in samewerking met die Holistic Life-stigting. Dit wys wat die kinders self van die meditasiesessies dink en sluit insigte van die medestigter van die stigting in.

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief