×
Skakel na Engels

Maandstonde-bestande onderklere is hier

Hierdie video gaan dalk maak dat jy anders oor jou maandstonde voel

Vroue is al lank op soek na maniere om hulle maandstonde ‘n bietjie gemakliker te maak en dit kom voor of THINX die oplossing het. Kyk na hierdie video om meer uit te vind.

Miki Agrawal, medestigter en “She-E-O” van THINX, het die maatskappy ná ‘n besoek aan Afrika gestig toe sy besef het dat baie meisies in ontwikkelende dorpies nie skool toe gaan wanneer hulle menstrueer nie. Hulle is geleer dat dit ‘n taboe is en dat hulle gedurende hul maandstonde “onrein” is. Baie van hierdie meisies leef in armoede en kan nie sanitêre doekies bekostig nie. Dit is waar haar idee vir “maandstonde-bestande” onderklere ontstaan het.

Tydens haar besoek aan Uganda het sy van die maatskappy AFRIpads te hore gekom. Die AFRIpads-maandstondepakkies, wat van ‘n hoëgehalte-tekstiel gemaak word en vir 12+ maande (menstruele siklusse) doeltreffende beskerming bied, is ‘n bekostigbare en ekovriendelike oplossing. Die ontwerp is ‘n “alles-in-een”-doekie wat met knopies stewig in ‘n broekie vasgemaak word. Ná gebruik kan die doekie opgevou en netjies gebêre word totdat dit gewas word. In samewerking met AFRIpads het Agrawal hierdie maandstondepakkies na meisies toe gebring wat nie weggooibare sanitêre doekies kan bekostig nie.

Nes die AFRIpad lyk en voel THINX se “maandstonde-bestande” onderklere soos gewone onderklere. Die versteekte tegnologie in die onderklere help om vroue se kommer gedurende hul maandstonde te verlig. Op ligte dae kan die “maandstonde-bestande” onderklere in plaas van ‘n doekie of tampon gedra word, en op swaar dae beskerm dit jou teen lekkasie. Agrawal het soortgelyke tegnologie as dié in die AFRIpads gebruik om gemaklike en duursame “maandstonde-bestande” onderklere te maak wat gewas en weer gedra kan word.

Alhoewel dit Agrawal se doel was om jong meisies in die ontwikkelende wêreld van behoorlike sanitêre doekies te voorsien, beklemtoon sy ook dat daar ‘n behoefte is om die taboe te verbreek en dat daar anders oor die natuurlikste deel van ‘n vrou se liggaam gedink moet word. Menstruasie is ‘n teken van goeie gesondheid en ‘n funksionerende voortplantingstelsel.

Besoek www.shethinx.com en lees meer oor die verskillende maniere waarop THINX vroue oor die wêreld heen se lewe verander.

Foto: iStock/dimatlt633

Lees ook:

5 wenke oor hoe om met jou dogter oor haar maandstonde te praat

Antwoorde op jou lastigste vrae oor maandstondes

8 redes waarom jou maandstonde ongereeld is

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
7 redes waarom jou urine vreemd ruik

Die reuk van jou urine kan heelwat oor jou gesondheid verklap - hieris 7 redes waarom dit vreemd ruik. Deur...

Close