×
Skakel na Engels

Maandelikse rubriek: Versigtig! Tiener voor

Sjoe, hierdie ouerskapding darem!
Versigtig! Tiener voor

Met tye stap ek weg van nog ’n onsmaaklike onderonsie met my tiener en dink: Ek het sowaar nie die krag hiervoor nie. Dié werk is uitgeknip vir siele sterker as ek, en ek is glad nie so seker ek is opgewasse hiervoor nie. My omstandighede word natuurlik verder bemoeilik deur die feit dat my man oorsee werk; daarom doen ek die werk dikwels alleen en is ek gereeld in die minderheid in ons huis. Deesdae kry ek weer ’n bietjie beheer deur myself met ’n beker tee in my kamer af te sonder waar ek kosskole in die omgewing google. En ek kan maar net in my enigheid lag wanneer ek dink hoe die wiel gedraai het: My eie ma het huisgehou met my tienerstreke deur die aansoekvorms vir ’n streng, militaristiese kosskool op die kombuistoonbank uit te stal. Die vrees dat ek soontoe gestuur sou word, was genoeg om my tot my sinne te bring.

My ma het dit alles natuurlik op een of ander manier oorleef, ook meestal op haar eie, en ek weet ek kan ook. Boonop is dit asof my dogter ’n sesde sintuig het vir wanneer my ouer-energie bykans getap is, want dán sal sy vra dat ek haar by die roomyswinkel gaan aflaai. Nie dat sy haar geld daar sal gaan uitgee nie – nee, sy sal op een van die warmste dae van die jaar die hele hoofstraat afstap om vir my my gunsteling-sonneblomme te koop en dit dan sweterig en met ’n breë glimlag by die deur aan my oorhandig. Op daardie oomblik is sy maar net weer my dierbare dogtertjie wat my tevrede wil stel. Daar was ’n tyd, voordat ek kinders gehad het, dat ek stil geskok was wanneer iemand sou sê hulle wil nie kinders hê nie. Nou verstaan ek dit heeltemal. Ek kyk na dieselfde mense en dink: Ja, julle het reg gekies. Dié werk vra te veel selfloosheid en te veel opoffering van ’n mens. Julle het geweet dis nie vir julle nie, en bravo daarvoor.

Lees: 10 dinge wat tieners self behoort te kan doen

Terselfdertyd weet ek ook dat ouerskap van die beste dinge gee wat die lewe kan bied. En vir elke keer wanneer jy jou in ’n donker kamer wil toesluit en die fetusposisie wil inneem, sal daar ook oomblikke wees wat jou siel met die rykheid en betekenis vul wat nie deur enige iets anders in die heelal geëwenaar kan word nie. Dit kan wees om by die skool op te daag en te ontdek dat daar vyf 13-jariges is, en nie net twee nie, wat ’n saamrygeleentheid na die dansklas nodig het, en dan te grinnik as hulle almal in jou motor probeer inpas, die klankstelsel hul eie maak en gil wanneer hulle die seun op wie hulle almal verlief is oor die straat sien stap. Of die kere wanneer hulle hul gedagtes met jou deel en wat in hul lewe gebeur, en jy besef hoe standvastig hulle eintlik is, hoe selfversekerd, slim en pittig, en jy die genoegdoening kan ervaar dat jy gehelp het om dié wonderlike klein mensies te vorm.

En as jy ooit jouself op die skouer wil klop oor hoe goed jy die lewe verstaan, sal kinders grootmaak jou baie vinnig terugbring aarde toe. Dié taak bestaan uit meer instinktiewe optrede, gesonde verstand en nog meer raaiwerk as wat ons kinders ooit sou kon dink. Om kinders groot te maak, veral tieners, hou ’n mens baie nederig. Soms kry jy iets reg, soms maak jy foute, soms raak jy verbyster wanneer die kind vir wie jy liewer is as vir die maan en die sterre, vir die soveelste keer na haar kamer toe storm. En jy ontwikkel ’n diep, blywende dankbaarheid vir jou gemeenskap: die oumas, vriende, ma’s en pa’s aan die ander kant van die telefoon wat luister, lag, raad gee en hul eie stories met jou deel. Dis soos die uitdrukking sê: Jou beurt is jou beurt. Dit kan op soveel situasies van toepassing wees, maar tydens die mees uitdagende, onmoontlike oomblikke van ouerskap is dit ’n goeie uitdrukking om te onthou. En dat ook dít sal verbygaan.

Susan Hayden is die stem agter die gewilde blog Disco Pants & A Mountain

LEES OOK:

Beroemde ouers deel hul verantwoordelike benaderings tot ouerskap

“5 lewenslesse wat ek geleer het terwyl ek op my eie gereis het” (en waarom jy jou tiener alleen moet laat reis)

6 maniere om jou kinders van geslagsgelykheid te leer

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Maandelikse rubriek: Ruimte om te beweeg

#TussenMyEnJou

Close