×
Skakel na Engels

Maandelikse rubriek: Sonde met die bure

Tensy jy op ’n groot plaas in die Klein-Karoo woon, moet jy maar vir lief neem met jou bure se doen en late, skryf GH se rubriekskrywer Susan Hayden
Susan Hayden

Naas Spanx en Miley Cyrus kan daar in ons leeftyd niks erger wees om ’n stryd mee te voer as met slegte bure nie. Hulle gaan nêrens heen nie en as jy jou huis besit, gaan jy ook nêrens nie. Julle het dus geen keuse as om in wedersydse bitsigheid te leef nie, en om oor die heining te gluur wanneer jy hulle die gras hoor sny of hulle met hul blaffende hond verbystap. Enige iemand wat Kaapstad ken, sal weet dat Groenpunt – waar ons gekies het om ons te vestig toe ons na Suid-Afrika teruggetrek het – soos ’n spoggerige favela (krotbuurt) is. Jy kan nêrens behalwe boontoe bou nie, wat beteken dat wanneer jy op jou dakstoep staan daar basies een tree tussen jou en iemand anders se batmitswa is. Jy deel ook jou mure. As die ou langsaan besluit dis ’n 70’s-Sondag kan jy netsowel jou klokpypjeans afstof en vir jou ’n Tequila Slammer skink, want jy gaan saam jive, of jy nou daarvan hou of nie.

Ons was tot dusver eintlik nog baie gelukkig met die mense wat in ons straat woon. Aan die een kant het ons ’n afgetrede hotelier in sy sewentigs wat ’n rooi Porsche bestuur en vriende is met ’n groep flambojante 60-jarige vroue wat met vereboas vir middagete opdaag en eers die volgende dag huis toe gaan. Aan die ander kant het ons ’n regte barones, wat ons op Kersdag vir drankies nooi. Ons aanvaar die uitnodiging net om by ons aankoms al die hoofakteurs van die nuutste Hollywood-treffer op haar stoep te vind waar hulle Kaapse Vonkel sit en drink. (Ons maak altyd of ons niemand herken nie terwyl ons vir mekaar sulke kan-dit-waar-wees-kyke gee.)

Lees: Die mite van die volmaakte huwelik

Dis net die buurman agter ons wat soms ’n bietjie van ’n probleem is. Ons vermoed hy het onlangs met sy kêrel opgebreek, want daar was ’n geskreeu en nou hou hy partytjie asof dit 1999 is. In so ’n digbeboude buurt moet jy maar vergunning vir geraas verleen. Nugter weet, my kinders kan lawaai wanneer hulle Marco Polo speel. My oudste het ook ’n hele jaar lank “Vader Jakob” op die blokfluit geoefen en ons is dankbaar dat die mense in ons straat nog hoegenaamd met ons praat. Wanneer iemand in die buurt dus af en toe ’n partytjie of ’n braai hou wat jolig raak, gaan slaap ons met oorpluisies en probeer om ons nie daaraan te steur nie. Maar ek vermoed selfs al het die ou agter ons in ’n verlate vallei in die Gamkaskloof gewoon, sou jy steeds sy Whitney Houston-musiek hoor wanneer jy deur die Swartbergpas ry. Soms lê ons 03:00 nog wakker en wonder of die hele geselskap van The Adventures of Priscilla, Queen of the Desert ná First Thursday vir ’n nagsopie oorgekom het. En hoewel ons elke rede in die wêreld het om hom stil te maak, is ek ’n bietjie huiwerig om dit te doen omdat ek hou van die wedersydse verdraagsaamheid in ons buurt.

Ek weet wanneer ek en my man dalk ’n vurige gesprek het, kan almal en selfs hul worshond hoor waaroor ons stry, maar hulle is beleef genoeg om anderpad te kyk. En ons het boonop ’n plonspoel feitlik reg onder die betrokke buurman se kamervenster met ’n pomp wat ’n irriterende slurpgeluid maak. As dit óns gek maak, moet dit hom teen die mure uitdryf. Maar hy laat ons en ons swembadpomp begaan, en die vriendskaplike energie wat daaruit voortvloei, maak dit die moeite werd om ’n paar wilde aande te verdra.

Die ou dame twee huise van ons af het onlangs aangebied om haar seun se troetelhaan op te pas terwyl hy op vakansie was. Dit was met groot verwarring dat die mense van Groenpunt een oggend 04:00 deur die gekraai van ’n plaasdier wakker geword het. (Sien, ek het vir jou gesê dis soos ’n favela.) Ons het dae lank in ons pajamas in die straat op en af gestap voordat ons uitgevind het waar die geraas vandaan kom. Ons het almal die haan (die aantreklike Mnr. Spikkels) ontmoet. Die dame het verskoning gevra en ’n paar dae later was hy terug by die huis. Hoewel ek nie daarvan hou as my slaap onderbreek word nie, weet ek van ’n hele paar rusies tussen bure wat oor ’n klein dingetjie begin het en heeltemal handuit geruk het. Ek sal dit nie kan verdra om in ’n stryd te wees met die mense wat rondom my woon nie.

En die beloning vir ons verdraagsaamheid teenoor ’n paar irritasies is dat wanneer my motor dood is terwyl my man oorsee is, die Porsche-ou met sy batterylaaier oorkom; dat wanneer vriende onverwags opdaag die barones ons toelaat om in haar wynyskas in te vaar; en dat ons weet iemand sal ons bel wanneer ons (weer) vergeet het om die motorhuis se deur toe te maak. Want tensy jy op ’n groot plaas in die Klein-Karoo gaan woon, kan jy jou eenvoudig nie oor die klein goedjies kwel wanneer dit by jou bure kom nie.

Susan Hayden is die stem agter die gewilde blog Disco Pants & A Mountain

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
MAANDELIKSE RUBRIEK: Die mite van die volmaakte huwelik deur Susan Hayden

Geen paartjie in die wêreld kan tye van twyfel en ongelukkigheid vryspring nie. Die belangrike ding is om te weet...

Close