×

MAANDELIKSE RUBRIEK: My kind die suikerslaaf deur Susan Hayden

In die eerste van haar maandelikse rubrieke vir Goeie Huishouding ontdek Susan Hayden, ’n skrywer, blogger en ma van twee, dat ons as ouers soms net die beste (of is dit nou lekkerste?) bedoelings het

Ons jongste dogter het feitlik van die oomblik dat sy kon praat net vir een ding gevra: lekkers. Aanvanklik was haar beheptheid met suiker amusant. Toe raak dit ontstellend. Niemand anders in ons gesin het ’n suikertand nie. Waar het hierdie kind, wat as sy die geringste kans sou kry drie keer per dag sjokoladestrooisels met Smarties as bygereg en fudge vir nagegereg sou eet, vandaan gekom?

Ons het gou besef die meestal laissezfaire-houding wat ons teenoor ons ouer kind (wat nog altyd van slaaierige kos gehou het) se dieet gehad het, ongelukkig nie met mejuffrou Augustus Gloop sou werk nie.

Vir die eerste keer as ’n ouer moes ek dus ’n regte Pol Pot oor etenstye en kosblikkos raak – muffins is uit en saadbrood is in – en natuurlik self ’n goeie voorbeeld stel. Hoewel my man ’n mediese beroep beoefen en ek al heelwat navorsing en skryfwerk oor voeding gedoen het, is ons eintlik maar redelike standaardeters. Jy sal nie kasjoeneutjogurt of acai-bessies in ons yskas kry nie. En hoewel ons altyd ’n aansienlike voorraad groenkos het en baie slaai en groente eet, is dit glad nie benede ons om dan en wan Niknaks-toebroodjies vir aandete te eet wanneer dit ’n dol dag was en niemand krag het om wortels te skil nie.

Maar die laaste tyd moes ons ons ingesteldheid drasties verander, wat beteken ek moes redelik streng raak oor goed soos skoolkosblikke – en ook beter wegsteekplekke kry vir die Sweedse sjokolades wat die man in die huis van sy oorsese reise af saambring. Die kosblikdeel is nie so moeilik nie. As jy tyd maak om ’n paar aarbeie op te sny en altyd biltong en neute in die huis het, kan jy taamlik maklik interessante en smaaklike skoolhappies optower.

Dis egter ’n groter uitdaging om ons gunsteling-laataandritueel vol te hou, waar ons ’n paar blokkies sjokolade ná aandete en voor slaaptyd geniet wanneer ons eindelik tyd het om op die bank neer te val en te ontspan.

Om die versoeking buite sig te hou het ons gedink dit sal ’n goeie idee wees om ons sjokoladevoorraad van die boonste rak in die kombuiskas na die leë kroegyskas in die kelder te skuif. (Wyn hou nie lank in ons huis nie.) Bedags is dit ’n briljante wegsteekplek – nie eens ons slim klein suikerslaaf het al gedink om daar onder te gaan kyk nie. Maar saans is dit ’n bietjie moeiliker, want dan moet ons suutjies by ’n baie krakerige trap afklouter net ’n paar meter van die kinders se kamerdeur af.

Op ’n sekere tyd in die aand, wanneer die kinders veilig in hul beddens is, sal ons mekaar ’n kyk gee en dan klip-papierskêr speel. Die verloorder moet soos ’n ninja by die trap afsluip – een pynlik stadige tree op ’n slag – dan tot by ons versteekte skat kruip en weer by die trappe opklim sonder om ’n geluid te maak. Dis selfs moeiliker met die terugkomslag, want dan het jy ’n boks sjokolade wat skelmpies agter in jou pajamabroek ingedruk is.

Maar al is ons ook hóé saggies, dis asof kinders dieselfde sesde sintuig het wat ouers ervaar wanneer ons skielik besef dat die huis hopeloos te stil is en hulle waarskynlik kattekwaad aanvang. Jy sal millimeters van die spreekwoordelike eindstreep af wees wanneer die deur oopvlieg en twee gesiggies verskyn wat jou beskuldigend aankyk en daarop aandring om te weet wat jy onder gemaak het. En maak nie saak hoe onskuldig jy probeer voorkom nie, hulle het klaar snuf in die neus.

Jy sal so deeglik deursoek word dat selfs die grenswagte op enige internasionale lughawe beïndruk sal wees.

Dis onvermydelik dat die smokkelgoed ontdek sal word en ons dan nie anders kan as om die lekkergoed te deel nie – op voorwaarde dat hulle weer hul tande sal borsel. En ek glo dis waaroor ouerskap werklik gaan: Om die beste bedoelings te hê en die meeste van die tyd die regte ding te doen, maar ook om te aanvaar dat sommige reëls gemaak is om verbreek te word. En dat hierdie spontane oomblikke van lafheid en pret die beste deel van ons taak is.

Susan Hayden is die stem agter die gewilde blog Disco Pants & A Mountain

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief