×
Skakel na Engels

Maandelikse rubriek: Gevaar, tiener voor

Dalk is ek naïef, maar ek is nie oortuig dat om tieners groot te maak die nagmerrie hoef te wees waaroor almal jou waarsku nie, skryf GH se rubriekskrywer Susan Hayden
tieners

Ons oudste dogter is vinnig op pad na haar tienerjare. As sy nie voor die yskas staan op soek na nog kos of haar oë rol elke keer dat ek praat nie, bring sy haar dae in die halfdonkerte van haar kamer deur waar sy aan miljuisende gesprekke op haar foon deelneem wat sy met verskeie vriende alle ure van die dag en nag voer. My eie tienerjare was ’n tyd van konflik en angs, en 30 jaar later geniet my ma dit steeds om my te herinner aan hoe gruwelooslik ek was – ek het dikwels uit die huis geglip wanneer ek kon en saam met vriende gekuier wie se ouers minder bekommerd was oor wat ons aanvang (ons het meestal na Bob Marley geluister, gemaak of ons mentolsigarette rook en dieselfde sinlose gesprekke gehad wat my dogter vandag voer).

En ek was beslis rebels, selfs al was dit taamlik onskuldig. Noudat ek oomblikke weg is van die ontvangkant van tienergedrag wonder ek egter of, as my ouers daardie lewensfase ’n bietjie anders hanteer het, ons nie baie van die trauma van daardie jare kon vermy het waarin ek soos die abnormaalste kind ooit gevoel het nie. Terwyl ek oor dié tyd nagedink het, het ek met ’n teorie vorendag gekom wat gesoute pa’s en ma’s van tieners waarskynlik sal laat lag, maar hier is dit nogtans: Ek glo dat die mate waarin kinders tussen die ouderdom van 12 en 20 onmoontlik raak om te beheer, ooreenstem met die soort ouerskap wat toegepas word.

Lees: Die mite van die volmaakte huwelik deur Susan Hayden

Met ander woorde, in huise waar ouers onwillig of nie in staat is om die natuurlike skeidings- en individuasieprosesse te vergemaklik wat so ’n noodsaaklike deel van adolessensie is nie, sal die kinders meer geneig wees om hulle teen die perke te verset en verwoesting te saai in ’n omgewing wat hulle nie die ruimte gee wat hulle nodig het om te groei en te ontwikkel nie. Want wanneer kinders die ruimte gegun word om tieners te wees, is daar sekerlik niks om teen te rebelleer nie, of hoe?

In my geval dink ek my ouers was onthuts deur die feit dat hul “goeie” dogter daarop aangedring het om haar eie keuses uit te oefen (soos om my pa se lang onderbroek, wat ek in pers geknoop-en-doop het, te dra wanneer ek by my grootouers gaan kuier) en om vas te stel hoe om in ’n wêreld te leef wat nie noodwendig dieselfde as hulle s’n was nie. Ek het dus baie teëstand van my ouers gekry wat my net slinkser en meer vasbeslote gemaak het om te ontsnap.

Lees: Genoeg van die gevoel dat jy nooit genoeg voel nie deur Susan Hayden

Maar as ouers – en dis my teorie – in staat is om hierdie lewensfase as normaal te beskou en kan verstaan dat sommige dinge onvermydelik is (jou tiener sál vir jou jok, sy sál slegte keuses doen en sy sal jou vir seker teleurstel) en tieners toelaat om hierdie moeilike reis na onafhanklikheid te onderneem, sal jy hulle dalk nie na mislukking dryf en jouself so verwyt wanneer dinge skeefloop nie (en dit sal heel waarskynlik skeefloop).

Ek het ’n rukkie gelede ’n studie gelees (wat deur ’n wetenskaplike en ma van tienerseuns uitgevoer is) wat bevestig het dat tieners anatomies gestremd is wanneer dit by goeie besluitneming kom. Dit het iets met die serebrale korteks te make wat onderontwikkel is, wat hulle daarvan weerhou om empatie te voel. Hulle kan letterlik nie begryp waarom party goed hul ouers rasend maak nie. Hoewel hulle dus fisiek volwasse is, is tieners in baie opsigte nog maar kind. Dit beteken egter nie dat daar nie ernstige gevolge sal wees wanneer ons dogter droogmaak nie, want ons is eintlik nogal streng ouers, maar ek glo die geheim om hierdie stormagtige tyd te oorleef is om jou nie oor die klein goedjies te kwel nie.

Lees: My kind die suikerslaaf deur Susan Hayden

Dis nie altyd maklik nie. Ek sukkel met haar buierigheid en ek mis haar, maar ek weet sy het nou nodig om hegte verhoudings met haar vriende te vorm. Soms lê ek op haar bed en dan vertel sy my van wat by die skool en in haar vriendekring aangaan, en ek is bly dat sy my in haar wêreld inlaat. Maar dis nou háár wêreld, en ek en haar pa bestaan net op die buiterand. En dis hoe dit moet wees. Ek kan haar raad gee en ’n voorbeeld stel, maar sy het haar eie lewe en gedagtes. En dis nie alles ondraaglik nie. Ek geniet dit om haar hare glad te stryk en haar en haar vriende na ’n partytjie te neem, en om te wag vir die stories en staaltjies ná die tyd. Hoewel dit ’n tyd van heelwat uitdagende oomblikke is, is dit ook ’n interessante en lonende ervaring om te sien hoe jou kind ’n volwassene word.

Miskien sal ek later oor my naïwiteit lag, maar vir nou kies ek om te glo dat solank ons die kommunikasiekanale oophou en ek te midde van haar sporadiese minagting probeer sterk staan, ons dalk oukei sal wees. As ek verkeerd is, is ek bereid om my woorde te eet.

Susan Hayden is die stem agter die gewilde blog Disco Pants & A Mountain

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Maandelikse rubriek: Klein monstertjies deur GH se rubriekskrywer Susan Hayden

Soms wonder ek of al die fokus wat ons as moderne ouers op ons kinders plaas werklik so ’n goeie...

Close