×
Skakel na Engels

Maandelikse rubriek: Die verlies van ’n geliefde

Niks berei jou voor op die skok en hartseer van wanneer jy skielik ’n ouer verloor nie, maar verdriet kan ’n paar belangrike waarhede onthul, skryf GH se rubriekskrywer Susan Hayden
Die verlies van ’n geliefde

Twee weke gelede het my 77-jarige pa iets ondenkbaars gedoen: Hy het gesterf. Die een dag het hy nog aan ons eetkamertafel gesit en eet en vier dae later het ons sy koel, bleek voorkop gesoen en die doodskleed oor sy vreedsame gesig getrek. En die ding van pa’s, veral as jy ’n dogter is, is dat jy so half glo dat hulle onoorwinlik is. My pa was die soort wat fietse van niks af gebou het, wat ’n groot, luidrugtige motorfiets gery het en wat feitlik enige iets kon bou of regmaak. Hy kon vir jou die spesie van die voël sê, die oorsprong van die boom, die datum van die oorlog en die naam van die skrywer. Hy het in ’n diep, gesaghebbende stem gepraat, stywe drukkies gegee en was eenvoudig nie die soort man wat goed gedoen het soos om dood te gaan nie.

Die dae ná sy skielike dood het in ’n waas van skok en pyn en, vir kort oomblikke, paniek verbygegaan. Wie sou ek vra as ek onseker was oor die grammatiese struktuur van ’n sin? Wie behalwe hy sou die besonderhede ken van die skepe wat by Kaappunt gesink het? En hoe was dit moontlik dat sy gemakstoel in die hoek van die sitkamer, die een waarop net hy gesit het, van nou af altyd leeg sou wees? Hoewel ek besef het hoe bevoorreg ek is om in my middel-40’s te wees en nog nooit ’n geliefde aan die dood afgestaan het nie, het die ontsaglikheid van die hartseer dat ek nooit weer sy gesig sou sien of sou hoor hoe hy my “darling” noem nie, my onkant betrap. Soms was die seer so swaar dat ek nie kon regop staan nie en onder die gewig daarvan moes swig en ’n bietjie gaan lê.

Lees: Die mite van die volmaakte huwelik deur Susan Hayden

En al wil jy die wêreld vir ’n rukkie laat stilstaan sodat jy tot verhaal kan kom en aan hierdie nuwe werklikheid gewoond kan raak, kom die son vreemd genoeg soos gewoonlik op en moet jy opstaan en deel van die wêreld van die lewendes wees en kos koop en klere opvou en petrol in die motor gooi. Maar verdriet lei tot ’n tyd van introspeksie, waar jy probeer sin maak van die hartseer wat jou siel vasklem. En ek het my, hoe clichéagtig dit ook al klink, tot die liriese woorde gewend van iemand wat in my pa se era gewild was – die profeet Kahlil Gibran. Dit het my aan ’n paar mooi en belangrike waarhede herinner: Die dood is eintlik nie baie anders of minder wonderbaarlik as geboorte nie, en as ons die wonder van ons hartseer in dieselfde lig kan beskou, sal die gevoel van verlies en onregverdigheid minder raak. Want sonder droefheid sal ons nooit die diepte en omvang van ons liefde begryp nie.

Op dae wat ek onder die duvet wou lê en van die wêreld wou vlug, het my man my gedwing om in die motor te klim en met my see toe gery. In die eerste week was ons seker by elke strand in Kaapstad. Met trane wat oor my gesig stroom, het ek in die water ingeloop en my pa genooi om hierdie wonderlike ding – wat hy vir soveel jare nie gedoen het nie – saam met my te ervaar. En in die koue branders van die windverwaaide Weskus en met die vrolike gejil van my kinders is ek daaraan herinner dat ék leef, en kon ek vir ’n rukkie dankbaar wees dat my pa toegelaat is om saggies uit sy moeë, gebroke liggaam uit te glip, soos klere wat te oud of verslete geraak het om te dra. En dat hy, vir die eerste keer in ’n lang tyd, vry was om saam met ons in die branders te baljaar en die wind, son en seesproei op sy gesig te voel.

Lees: Genoeg van die gevoel dat jy nooit genoeg voel nie deur Susan Hayden

Ná die tyd sou ons in die son sit en koue bier drink en trooskos eet, en hoewel my hartseer soos die gety rondom ons geëb en gevloei het, het ek verstaan wat Gibran bedoel het toe hy gesê het pyn is soos die “vernietiging van die skulp wat ons begrip omvou” en dit dwing ons om dieper te kyk en die onsienlike te sien. Dit is eintlik net in tye van diepe droefheid dat ons tyd maak om verder te kyk as wat ons weet en probeer uitvind wat dit alles beteken, hierdie reis van lewe en dood, en ons besef hoe onwaarskynlik dit is dat die vuur en energie van die menslike gees eenvoudig kan ophou bestaan. Hul tyd op aarde is verby, maar hul reise is nog lank nie klaar nie en diegene vir wie ons innig lief was, verlaat ons nooit werklik nie.

Wat ek die afgelope 14 dae geleer het, is dat, net soos die branders wat op jou afdreun en jou vir ’n oomblik laat vrees dat dit jou voete onder jou gaan uitslaan, die enigste manier om hartseer te oorkom is om daardéúr te kom. Jy kan dalk jou balans verloor, maar jy sal dit weer vind. En in dié tye van swaarkry waar jy rondspook en voel asof jy koers verloor het, word die liefde wat jou omring die kompas wat jou huis toe lei.

Susan Hayden is die stem agter die gewilde blog Disco Pants & A Mountain

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Maandelikse rubriek: Gevaar, tiener voor

Dalk is ek naïef, maar ek is nie oortuig dat om tieners groot te maak die nagmerrie hoef te wees...

Close