×
Skakel na Engels

Maak self koekstokkies

Hierdie happiegrootte lekkernye is verbasend maklik om te maak

Het jy al ’n koekstokkie geëet? Dis die perfekte happiegrootte lekkerny! En dis verrassend maklik om self te maak. Dié variasie op stokkielekkers is ideaal vir enige partytjie, en oud én jonk sal mal wees daaroor!

 

Stappe:

 

  1. Bak ’n koek. (Dit maak nie saak watter geur nie.)
  2. Nadat jy die koek uit die oond gehaal het, maak seker dis heeltemal afgekoel voordat jy die koekstokkies begin maak.
  3. Gebruik jou hande of ’n lepel om die afgekoelde koek uit die pan te haal en plaas dit in ’n groot mengbak. Meng die koek om dit in fyn krummeltjies te breek. Jy kan dit met ’n elektriese menger doen of sommer jou hande gebruik. Maak seker dat daar net krummels oor is! (Dis morsige pret dié. As jy kinders het, sal hulle waarskynlik dol wees daarop om dié stap vir jou te doen.)
  4. Maak versiersuiker aan (enige geur!) en voeg sowat die helfte daarvan by die krummels sodat jy weer ’n deegagtige tekstuur kry. Indien die krummels nog droog is, voeg gerus nóg versiersuiker by. Maak seker alles is goed gemeng en dat daar nie dele van die koekkrummelmengsel sonder versiersuiker oorbly nie.
  5. Gebruik ’n koekieskepper (of ’n roomyslepel) om klein balletjies van die mengsel uit te skep. Vorm hulle mooi met jou hande; dan sal hulle nie so taai wees nie.
  6. Plaas die koekballetjies op ’n blad wat met bakpapier bedek is. Plaas dit dan vir so 10 minute in die vrieskas om ferm te raak.
  7. Smelt ’n bietjie sjokolade in kastrol oor warm water.
  8. Doop ’n stokkie (vir stokkielekkers of sosaties) in die gesmelte sjokolade, en druk dit dan in die koekballetjie. Druk die stokkies net minder as halfpad in die klein ronde balletjies; net so ver as wat dit stewig voel en jy die stokkie steeds gemaklik kan vashou.
  9. Doop die koekballetjie in die gesmelte sjokolade.
  10. Plaas eenkant om af te koel sodat die sjokolade kan hard word. (Jy kan die koekstokkies se stokkies in ’n blok polistireen (by nutswinkels te kry) druk sodat dit nie omval nie.)
  11. Sodra dit afgekoel het, doop elke koekstokkielekker nog ’n keer in die gesmelte sjokolade. Dis om seker te maak dat dit heeltemal daarmee bedek is. Wees versigtig hiermee – jy wil nie hê die balletjies moet breek en in die sjokolade beland nie. Skud elke balletjie liggies bo-oor die sjokolade sodat enige oormaat sjokolade kan afdrup.
  12. Nou kan jy lekker speel! Gebruik sjokolade sprinkels, versiersuiker of enige ander koekversierings om jou koekballetjies mee af te rond.
Stappe van WikiHow.
Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Maak mooi bêreblikkies

Maak hierdie oulike houers in ’n japtrap

Close