×
Skakel na Engels

Maak jy hierdie skoonheidsgereedskap skoon?

As jy jou grimeerkwaste dikwels gebruik, besef jy waarskynlik hoe belangrik dit is om dit skoon te hou. Maar as jy die res van jou noodsaaklike skoonheidsgereedskap afskeep, kan dit moontlik vol aaklige bakterieë wees! Wees eerlik – wanneer laas het jy hierdie artikels skoongemaak?
  1. Haartangetjie – Of jy nou jou getroue haartangetjie gebruik om jou wenkbroue netjies te hou of om ingroeihaartjies uit te trek, jy moet weet dat die olies op jou vel rondom die metaalpunte kan aanpak en die bakterieë weer in jou haarfollikels teruggeplaas kan word, wat nare knoppies en infeksies kan veroorsaak.
  2. Naelknippers en naelvliesieknippers – Jou naelgereedskap lyk dalk nie op die oog af “vuil” nie, maar jou naels is ’n broeiplek vir bakterieë aangesien jou hande daagliks aan die omgewing rondom jou blootgestel word. Jy het dalk nie die spoggerige UV-ligte wat professionele manikuriste gebruik om hul gereedskap te ontsmet nie, maar dit is belangrik om jou naelgereedskap met ’n alkohol-ontsmetmiddel of in kokende water skoon te maak.
  3. Haarborsels – Ja, dis dalk net hare en jou hare is tog skoon, maar dink net aan al die olies en velletjies op jou kopvel wat elke dag na jou borsel oorgedra word – nogal grillerig! Gebruik ’n ou kam om die hare tussen die borselhaartjies uit te haal, meng sjampoe met warm water in die wasbak en laat jou haarborsel vir ’n rukkie week.
  4. Die binnekant van jou grimeersakkie – Dink maar aan daardie krummels gebreekte oogskadu, ou potloodskaafsels van oogpotlode, lipstiffiemerke – ja, die binnekant van jou grimeersakkie kan taamlik vuil raak! Al dié vuiligheid kweek bakterieë, wat na jou gesig versprei kan word – dis nie goed nie. Vee die binnekant van jou grimeersakkie met ’n ontsmetlappie skoon of haal die grimering uit en gooi sommer die sakkie in die wasmasjien as die materiaal masjienwasbaar is.
  5. Wimperkrultang – Hierdie nuttige klein stukkie gereedskap kom daagliks in aanraking met jou ooggrimering, wat op die krultang aanpak. Enige iets wat naby jou oë gebruik word, moet liefs skoon gehou word aangesien jou oë baie vatbaar vir infeksies is. Maak dus seker dat jy jou krultang met ’n akoholoplossing spuit of dit met ’n ontsmetlappie afvee. Jy kan dit ook in warm water en met ’n ontsmetmiddel was en dit na die tyd deeglik afdroog.
Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
KOPKRAPPER-OPLOSSINGS OKTOBER 2015

KLIEK HIER VIR DIE KOPKRAPPER-OPLOSSINGS

Close