×
Skakel na Engels

Maak jou woonstel of huis in ’n uur of minder skoon

Hoe gemaak wanneer familie of vriende onverwags oorkom en jy nóú moet skoonmaak? Kyk hier hoe jy die gemors kan takel en vinnig klaarkry.
skoon huis

Badkamer: 1 minuut

Begin met die badkamer. Verwyder alles op die wasbak, bad se rand, toilettenk en stortrak. Spuit die bad en stort met ’n veeldoelige reiniger. Verwyder enige vuil klere of handdoeke.

Slaapkamer: 5 minute

Selfs al gaan niemand in die kamer in nie, maak die bed op. Die kamer sal baie netjieser lyk as wat dit eintlik is. Tel klere van die vloer af op en pak die bedkassie reg. Organiseer jou kas op ’n ander dag – daar’s nie nou tyd hiervoor nie!

Woonkamer: 5 minute

Begin deur wollerigheid van die banke, oorgooidekens en kussings te verwyder en rangskik dan die dekens en kussings behoorlik. Maak die koffietafel en kaste netjies deur die afstandbeheerders, boeke en tydskrifte netjies reg te skuif en vat artikels wat los rondlê na die slaapkamer of badkamer toe. (Die naelvyl en naellak wat permanent op die armleuning lê? Jou gaste hoef dit nie te sien nie.) Gryp ’n vullissak en gooi ou katalogusse of brosjures daarin. Neem enige gebruikte glase of bekers kombuis toe

Kombuis: 10 minute

As jy regtig min tyd het en net een ding kan doen, was die skottelgoed. Laat die skottelgoed in die wasbak week terwyl jy die toonbank netjies maak en kosgoed wegpak. Daardie boks ontbytpap en oorblyfsels van jou ontbyt? Raak ontslae daarvan! Spuit vinnig ’n bietjie veeldoelige reiniger op die toonbank, stoof en ander sigbare oppervlakke en vee dit af.

 As jy nog tyd het, skakel die stofsuier aan en stofsuig die belangrikste vertrekke vinnig. Vee die kombuisvloer en maak die drom leeg as jy kan. Gaan terug na die badkamer en vee die oppervlakke en spieël af. Plaas die artikels terug op die bad se rand, wasbak en stortrak.

Laastens, steek ’n gegeurde kers aan die brand of spuit jou huis met ’n lekkerruiksproei. ’n Pot vars blomme kan ook ’n vertrek vinnig laat beter lyk!

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
7 kleurryke kopies

Raak ontslae van ’n grou winterluim deur ’n titseltjie kleur by jou klerekas te voeg.

Close