×

A-lys-diëte wat jy in die nuwe jaar liefs moet vermy

Nuwe navorsing het onthul dat die A-lys-selebs dit nié altyd reg doen nie!
diëte

 

Dit is maklik om na beroemdes te kyk wanneer hulle viets en ferm op die rooi tapyt verskyn en te dink: “Hoe kan ek ook so lyk?”

Veral met die aanbreek van die nuwe jaar sal talle bekendes van hul dieet en gesonde eetplan vertel. So hoe weet ons watter een werk?

Volgens nuwe navorsing van die Britse Dieetkundige Vereniging (BDA) is daar ‘n paar A-lys-diëte wat hierdie jaar vermy moet word sodat jy fantasties kan lyk sonder om jou gesondheid in te boet.

Die BDA is die professionele vereniging en vakbond vir dieetkundiges in Groot Brittanje en Noord-Ierland en ken dus hul storie wanneer dit by diëte kom. Hierdie jaar het hulle aanbeveel dat die volgende vyf strategieë vir gewigsverlies vermy moet word:
 

1. Skoon eet

Wat behels dit? “Die idee is dat alle verwerkte kosse vermy moet word en dat slegs “skoon” kosse geëet word deur verfynde suiker uit te skakel, vars kos gaar te maak en in hulle natuurlike staat te kies,” verduidelik die BDA. “Sommige uiterste weergawes van hierdie skoon dieet sal gluten, grane en suiwel uitsluit, en in sommige gevalle selfs ‘n roukos-dieet aanmoedig.”

Die BDA-beslissing: “Los die skoonmaak vir jou kombuisoppervlak, nie jou kos nie! Alhoewel dit voordelig is om verfynde suiker te verminder en die inname van verwerkte kossoorte te beperk, is die konsep van “skoon” en “vuil” kosse kommerwekkend. In baie gevalle word kosse wat in werklikheid hoog in voedingswaarde is, soos dié wat volgraan, vrugte en suiwel bevat is, as ongesond voorgehou – sonder enige wetenskaplike bewyse.

“Tensy jy ‘n medies gediagnoseerde weerstandigheid of allergie vir hierdie kossoorte het, is dit heeltemal onnodig om hulle uit te skakel. Trouens, dit kan tot tekorte in jou dieet lei. Verder kan die plaasvervangers in skoon diëte – soos klapperolie en sekere versoeters – net so hoog in kilojoules wees, ewe min voedingswaarde bevat en duurder wees.”

2. Dieetpille (wat nie deur ‘n mediese kundige voorgeskryf is nie)

Wat behels dit? “Baie van hierdie pille sal glo voorkom dat vet deur jou liggaam opgeneem word, of ‘vet’ smelt, terwyl ander jou aptyt na bewering sal onderdruk of jou metabolisme sal versnel,” sê die BDA.

Die BDA-beslissing: Dieetpille behoort nooit gedrink te word sonder dat jy vooraf met jou dokter, apteker of dieetkundige gepraat het nie. Selfs gereguleerde gewigsverliesmedikase op voorskrif kan nare newe-effekte hê, insluitend diarree.

“Die styging in die hoeveelheid dieetpille wat aanlyn gekoop kan word, is onstellend. Hierdie produkte is dikwels ongereguleerd en kan middels bevat wat nie vir menslike inname gelisensieerd is nie, selfs plaagdoders wat in sommige gevalle tot sterftes kan lei.

3. Teetoks-dieet

Wat behels dit? Teetoks is kort vir “tee-detoks”. Daar is ‘n magdom detoks-tees wat deur beroemdes onderskryf word en beloof om jou vel te verbeter, opgeblasenheid te verminder en gewigsverlies te bevorder.

Die BDA-beslissing: ‘Tee-toksies! Hierdie tees bevat dikwels ekstra kafeïen in die vorm van guarana of yerba mate, diuretiese bestanddele soos perdeblom en netels, en die purgeermiddel senna, wat nie vir langer as ‘n week sonder mediese toesig gebruik moet word nie.

“Hierdie tees skep dalk die indruk van gewigsverlies en ontgifting, maar persone verloor gewoonlik net water. Enige verdere gewigsverlies is waarskynlik toe te skryf aan die gebruik van hierdie tees in plaas van hoë-kilojouledrankies of kosse as deel van ‘n vasdieet. In die lig van die gepaardgaande newe-effekte soos diarree, ontwatering, elektrolietwanbalanse, dermskade en ‘n gebrek aan wetenskaplike bewyse, stel ons voor dat jy hierdie dieet vermy.”

4. Die 6:1-dieet

Wat behels dit? Jy het dalk al van die 5:2- of selfs die 3:4-dieet gehoor. Die 6:1-dieet is die haastige niggie van hierdie onderbroke vasdiëte. “Dit behels dat jy vir ses dae normaal eet en dat sommige mense wat dié dieet volg, dan vir een dag ‘n week heeltemal vas, wat beteken dat hulle vir 24 uur glad nie eet nie,” verduidelik die BDA.

Die BDA-beslissing: “‘n Totale vas wat nie behoorlik gereguleer word nie, kan tot ‘n gebrek aan konsentrasie, moegheid en neerslagtigheid lei, en dit gaan jou nie produktiewer maak nie.

“Na gelang van jou ouderdom, gesondheid en leefstyl kan dit boonop gevaarlik wees om te vas. Indien jy wel wil vas, is dit belangrik om ‘n wetenskaplik gebaseerde plan te kies en ‘n mediese kundige te raadpleeg om seker te maak dat dit op ‘n gesonde en veilige manier gedoen word.”

5. Groensappe

Wat behels dit? Dis nie net beroemdes wat fanaties oor groensappe is nie.  Dit kan as plaasvervanger vir ontbyt, of ‘n peuselhappie gedrink word en is ‘n ander manier van detoks en gewigsbeheer. Hierdie sappe bestaan uit ‘n mengsel van vrugte, groente, poeiers, ensovoorts en beloof resultate soos ontgifting, verjonging en gewigsverlies.

Die BDA-beslissing: “Die liggaam is heeltemal in staat om homself te ontgif sonder die hulp van hierdie groen konkoksies. Om ‘n ongesonde dieet met ‘n groensap aan te vul gaan nooit ons swak voedselkeuses vergoed nie.

“Verder voeg mense bestanddele soos neute, klapperolie en hele avokado’s by hulle groen ontbytsappe – wat beteken dat hierdie sappe tot 1 700 kilojoules per glas kan bevat. As jy boonop steeds jou gewone ontbyt eet, is jy meer geneig om gewig op te tel as te verloor. ‘n Groen sap is nie ‘n toweroplossing nie! Eet jou groente en vrugte heel en beperk sappe/smoothies tot 150 ml per dag.”

Waarom volg jy nie eerder die voorbeeld van beroemdes soos Kirstie Allsopp nie, wat haar onlangse gewigsverlies van 12 kg aan die uitskakeling van suiker, verwerkte kos en alkohol toegeskryf het. Ons weet dit is veel minder aanloklik as detokstee, maar waarborg beter en blywender resultate!

Via: Prima

 

Lees ook:

6 maniere om jou dieet weer op dreef te kry

30 goed wat ons nou weet oor dieet ná 40

4 dieetmites wat jou dokter wil hê jy moet ophou glo

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief