×
Skakel na Engels

Regte troue: Marelize en Matt se perfekte Skotse wintertroue

’n Ware feeverhaal met doedelsakke, tartan en vintage-detail
Skotse wintertroue

Marelize en Matt Wilké het hul huwelikslewe harmonieus begin met ’n vintage-troue op ’n koel wintermiddag. Die pasgetroudes het gedurende die plegtigheid en by die onthaal daarna liefde uitgestraal – en dit is versterk deur die nabye groep familie en vriende wat deel van hul wonderlike dag was. 

Die paartjie het seker gemaak hul troue is ’n familiegeleentheid. Matt se pa het hulle getrou, terwyl sy ma en suster Marelize in die familie verwelkom het deur haar satyntrourok met die familie se tartanpatroon te versier en haar deel van hul familiestam gemaak het. Toe het Marelize met die klank van die Skotse Hoogland-katedraal se doedelsakke met die paadjie afgeloop. Sowaar ’n droomtroue!

“Ons wou dit geniet en is oneindig geseën met ’n wonderwerk. Matt se pa, eerwaarde Terence Wilké, wat ons getrou het, het ’n paar dae voor die troue ernstig siek geword en is die Donderdag voor die troue uit die hospitaal ontslaan. Hy was op die dansvloer tot elfuur die aand!” sê Marelize.

Die paartjie het mekaar vier jaar gelede ontmoet toe ’n gemeenskaplike vriend hulle aan mekaar voorgestel het omdat hy ’n gevoel gehad het dat hulle van mekaar sal hou. Marelize was skepties en wou dit nie doen nie, maar haar vriend het volgehou en haar na Foresters Arms, ’n kroeg in Kaapstad, geneem, waar sy Matt ontmoet het. “My vriend het my heeltemal uitgeboul en my voorgestel aan Matt, ’n cool ou met ’n grys hoodie wat in die advertensiewese werk. Ek was nuuskierig.”

Ná hul ontmoeting is Matt vir drie weke Europa toe en het Marelize gedink dis die einde daarvan. “Matt het my op Facebook bevriend, maar was drie weke in Switserland. Toe hy terug in die Kaap was, het ons uitgehang … en gesoen … en sedertdien praat ons elke dag met mekaar. Dis nou al vier jaar.”

Dan is daar die storie van hoe hulle verloof geraak het. Marelize sê sy is heeltemal onverhoeds betrap – al het sy gesê sy sal deur enige planne kan sien. “Ek het iets gesê soos: ‘Jy weet, as jy my eendag wil vra om te trou sal ek reg deur dit sien. Jy kan niks vir my wegsteek nie.’ ”

Maar Matt het dit sowaar reggekry om haar te verras. Hy het haar op ’n romantiese rit geneem en toe het hulle aandete geëet in dieselfde restaurant waar hulle hul eerste afspraak gehad het: Bertha’s in Simonstad. Gedurende die ete het Marelize agtergekom Matt tree vreemd op. “Hy is minstens drie keer badkamer toe en het heeltyd oogkontak met die kelner gemaak,” vertel sy.

Ná ete het Matt gesê hy gaan Marelize op ’n spokejag saam met ’n paar vriende neem. Hulle het met die landingshoof langs geloop om vir die vriende te wag. Maar daar was geen spokejag nie, en toe Marelize omdraai om na haar foon te kyk, het Matt ’n ring uit sy hoodie gehaal (dieselfde een wat hy gedra het op die dag wat hulle mekaar ontmoet het) en haar gevra om met hom te trou.

“Ek het so histeries geskreeu dat die arme veiligheidswag gedink het Matt is ’n vreemdeling wat my teister! Daarna het dit ’n uur geneem voordat ek opgehou huil, lag en bewe het. Ons het ons twee beste vriende oorgenooi en sjampanje gedrink.”

Selfs toe sy ’n klein dogtertjie was, het Marelize altyd ’n algemene idee gehad van hoe haar troudag moes wees. “Ek was nog altyd dol oor Charlotte York se troue met Trey MacDougal op die kultusreeks Sex and the City: die tartan, die eenvoudige ruiker met wit rose, die tradisionele kerk, die doedelsakke.”

Min het sy geweet sy sou eendag ’n Skotse verloofde hê en dat sy alles sou kry waarvan sy gedroom het. Matt se Skotse agtergrond het ’n groot rol in die troudagbesluite gespeel en hulle het geweet hulle wil ’n tradisionele maar informele viering hê. “Ek wou iets hê waarna ek 20 jaar later kan terugkyk en nie sidder nie,” sê Marelize.

Marelize het geweet in Kaapstad kan hulle kies en keur wanneer dit by trou-venues kom. Sy wou nie die tradisionele wynplaastroue hê nie, en daarom het sy en Matt geluister na die raad van hul familie, wat die betowerende restaurant The Wild Fig voorgestel het. Dit het soos ’n rustieke plaasvenue gevoel, wat ideaal vir hulle was.

Toe hulle in die venue ingestap het, het die die verliefde paartjie geweet dis die plek waar hulle hul spesiale dag wou hou. “Ons was beïndruk deur die hulpvaardige bestuurder, die knus, rustieke, historiese interieur en die heerlike kos op die spyskaart,” sê Marelize. “Teen daardie Maandag het ek die arme eienaar met e-posse gebombardeer vir ’n besprekingsdatum en ’n kwotasie. En dit was dit!”

Die bruid se fassinasie met outydse Hollywood-glans en eenvoudige lyne het gelei tot haar pragtige satyntrourok wat haar hoërskoolvriend Elrico Bellingan en sy vrou, Ritza, van die handelsmerk Elrico Zarr vir haar ontwerp het.

Marelize wou haar figuur en pragtige rooi hare aksentueer. Daarom het sy ’n elegante roomkleurige skepping gekies wat haar kurwes vlei – die perfekte kombinasie vir so ’n pragtige bruid. Sy was baie gelukkig met die hele proses en die eindproduk.

Marelize het ’n belangrike wenk vir bruide wat ’n rok wil laat maak. “Kies ’n ontwerper met wie jy heeltemal gemaklik voel. Dit help nie jy kies die bekende handelsmerke as ’n neusoptrekkerige ontwerper jou geïntimideerd gaan laat voel nie.

“Omdat Matt se familie se tartan kleurryk is (rooi, groen en geel), het ons geweet ons moet die res eenvoudig hou,” sê Marelize. Die onthaalvenue met sy lae plafonne en warm beligting het ’n warm, knus gevoel geskep wat goed by die tartankleure gepas het. 

Die paartjie het geweet uitspattige, hoë blommerangskikkings gaan nie werk nie, en daarom het hulle klassieke wit blomme in glasvase gekies. Kerse het ’n warm gloed aan die tafels verleen en hulle het tikkies van die tartantema oral ingespan.

Marelize sê sy is so gelukkig oor hoe alles uitgewerk het en sy weet hulle was geseën om al hul vriende en familie (en die broodnodige reën in Kaapstad) by hulle te hê. “Dit het begin reën net toe ons by die venue aangekom het. Blessings galore. Ons wou albei ’n troue hê wat ál die gaste kon geniet, van ons oumas tot ons oudste vriende.”

Op die vraag waarvan sy die meeste van Matt hou, sê Marelize hoe lojaal hy is en hoe sag sy hart is – eienskappe waarvoor sy haar hele lewe gesoek het. Natuurlik is dit ook belangrik om te lag, en dis iets wat sy en Matt baie doen. “Matt het ’n ondeunde humorsin. Maar die belangrikste is dat hy die lojaalste mens is wat ek ken. Hy hou by sy woord. En agter al die humor en die rooi baard is ’n hart van goud.”

Venue: The Wild Fig Restaurant

Fotograaf: Leanne Steyn-Begley van Leanne Love Photography (https://www.leannelove.com/)

Dekor: Jenny Barber van Jenny B Flowers (www.jennybflowers.co.za/)

Bruid se hare en grimering: Suzanne Potgieter van Skoonlief

Strooimeisies se grimering: Suzanne Potgieter van Skoonlief saam met Isobel Kriel

Troukoek: Stephanie van Vuuren van Jack Rabbit Chocolate Studio (http://www.jackrabbitchocolate.co.za/About-Us/)

Spyseniering: The Wild Fig Restaurant

Musiek: Chris Gore van Event Music Solutions (http://www.eventmusicsolutions.co.za)

Bruidegom se pak: Will Carter van Staghorn Scottish Outfitting and Hire (http://www.scottishoutfitting.com/

Trourok: Elrico Bellingan van Elrico Zarr (http://www.luxo.co.za/the-editor.php)

Venue waar die bruid gereedgemaak het: Protea Hotel Mowbray (http://www.marriott.com/hotels/fact-sheet/travel/cptmw-protea-hotel-cape-town-mowbray/)

Trouringe: Claire Sandham van Reverie Designs (http://reveriedesigns.co.za/)  

LEES OOK:

5 skoonheidsbehandelings wat jy voor jou troue moet vermy

Vasvra: Watter trourokstyl pas by jou persoonlikheid?

7 tafelversierings sonder blomme vir troues

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
FOTO: Suzelle DIY se nuwe karakter, Tali

Suzelle-aanhangers sal in ekstase oor dié goeie nuus wees!

Close