×
Skakel na Engels

Laat jou grimering jou ouer lyk?

Dié 12 foute kan jou jare ouer laat lyk, maar met ons ekspertraad kan jy selfs jonger lyk as wat jy werklik is.
Laat jou grimering jou ouer lyk?

1. ’n Te ligte skakering

Namate jy ouer word, raak jou vel al hoe bleker. Jou geliefkoosde skakering kan jou dus later uitgewas laat lyk. Gebruik eerder ’n donkerder skakering.

2. Verbloemer wat aangeplak lyk 

Om te keer dat verbloemer in jou plooie insink en duidelike lyne vorm, wend dit slegs aan die binnehoeke van die dele onder jou oë aan om enige skadu’s te verbloem. Of vervang tradisionele verbloemer deur aksentgrimering wat jy met ’n kwas kan aanwend.

 3. Cruella de Vil-wenkbroue

Wenkbroue wat oordoen is, kan jou soos ’n strokieskarakter laat lyk! Hou jou voorkoms natuurlik deur yl dele met ’n poeier-oogpotlood in te kleur.

4. ’n Duidelike streep blosser

Om jou wange op te kikker wend blosser liggies in ’n sirkelbeweging op die appels van jou wange aan. Moenie ’n streep van jou mond na jou oor trek nie – dit is al hoe meer onvleiend hoe ouer word.

5. Lipstiffie wat “bloei”

’n Lippotlood sal keer dat dit gebeur. Hier’s nog ’n wenk: Wend dit eerder met ’n lipstiffiekwas as net so uit die buisie uit aan, en smeer dit van die middel van jou lippe af uitwaarts in.

6. Oordadige ooggrimering 

Olierige ooglede kan jou oogskadu ruïneer, maar as jy nog oogskadu bo-oor aanwend, kan dit jou ooglede swaar laat lyk. Wend eers ’n dun lagie deursigtige of roomkleurige basislaag aan om te keer dat jou oogskadu saampak.

7. ’n Droë vel

’n Roomonderlaag kan jou gesig uitdroog. As jy dit wel gebruik, wend eers ’n ryk bevogtiger of ’n bevogtigende basislaag aan.

8. Ongelyke oogomlyner

As jy ’n reguit lyn wil trek, moenie jou oë aan die buitehoeke trek nie. Lig eerder jou ken op, kyk af met jou ooglede halfpad toe en gebruik ’n vloeibare omlyner.

9. Vaal oogskadu

Bruin oogskadu het geel of rooi pigmente, wat jou oë moeg kan laat lyk. Beenkleur is dikwels te lig om pigmentasie te verbloem. Probeer dus salie- en juweelskakerings om die wit dele van jou oë helderder te laat lyk.

10. Room of poeier?

’n Roomoogskadu of -blosser kan jou ouer laat lyk as dié met ’n poeierbasis, want room kleef en pak op droë dele aan. Poeier is nie so ’n slegte keuse as wat baie van ons dink nie!

11. Lewelose wimpers

Mooi gevormde wimpers laat jou oë jeugdiger en wawyd wakker lyk. Gebruik gerus ’n wimperkruller om dit ’n bietjie woema te gee.

12. Dieselfde kleure oor en oor 

Vernuwe jou voorkoms deur ’n slag ’n ander kleur lipstiffie te kies. Oppas egter vir lipstiffies met ’n swaar tekstuur, want dit kan jou ouer laat lyk.

LEES OOK:

Alles wat jy van permanente grimering moet weet

Slim kunsies om grimering te verwyder

5 foute met ooggrimering wat jou ouer laat lyk

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Probeer grimeerstyle en -produkte voordat jy koop!

L’Oréal se slim nuwe app wys jou presies hoe jy sal lyk nadat jy grimering aangewend het, en dis maklik...

Close