×
Skakel na Engels

Kyk hier voordat jy selfoonboodskappe stuur terwyl jy bestuur …

Dié video is een van die aangrypendste wat ons al gesien het. Om selfoonboodskappe te stuur terwyl jy bestuur, is nóóit die moeite werd nie …

Het jy al ooit in die verkeer gesit op pad huis toe en jou foon dopgehou vir daardie belangrike e-pos, of om van jou man te hoor wat jy vir aandete moet maak? Hoe dikwels loer jy nie vinnig na jou foon net om tydelik meegevoer te raak nie, al is dit net vir ’n paar sekondes. Of hoe dikwels was jy nie al in ’n botsing betrokke omdat iemand anders op hul selfoon boodskappe gestuur (of gepraat) het terwyl hulle bestuur nie?

Wat ook al die rede is vir jou om op jou selfoon te kyk terwyl jy bestuur, vra jouself of dié rede werklik die moeite werd is. Sal dit ’n reuse-verskil aan jou lewe maak as jy die e-pos, teksboodskap of Facebook-kennisgewing eers 20 minute later lees? Sal dit ’n lewensveranderende tragedie verg om jou te laat besef hoe gevaarlik dit is om op jou foon doenig te wees terwyl jy bestuur?

Die boodskap? Daar is geen goeie rede om op jou selfoon besig te wees terwyl jy bestuur nie. Hou. Op. Daarmee. Stel jou Google Maps-app of jou GPS of musiekspeler voordat jy wegtrek. Moenie dat jou foon jou aandag aftrek nie.

Summer Break, ’n sosialemedia-werklikheidsprogram, het onlangs ’n video genaamd “No Good Reason” op YouTube gelaai en dit het soos ’n veldbrand op die internet versprei. Kyk hierdie aangrypende video waarin die akteurs van dié program hul redes gee waarom hulle hul foon gebruik terwyl hulle bestuur. Waarskuwing: Hou die snesies byderhand, want jy sal dalk ’n traan of twee wegpik. Ons het!

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
15 noodsaaklike artikels om in jou kar te hou

Hou die volgende noodsaaklikhede byderhand in jou motor, of jy nou ver of naby reis.

Close