Danksy Huletts se versiersuikerreeks kan jy die allermooiste koeke en kolwyntjies maak! Laat hierdie fantastiese eenhoringkoek jou vir jou volgende partytjie inspireer.
STAP-VIR-STAP-VIDEO: Eenhoring-kolwyntjiekoek
Resep
Bereidingstyd: 25 minute | Baktyd: 15 minute | Maak: 24 kolwyntjies
Bestanddele
200 g bruismeel
200 g Huletts-strooisuiker
200 g botter, saggemaak
4 groot eiers
2 t (10 ml) vanieljegeursel
2 t (10 ml) bakpoeier
verskillende kleure koskleursel
Vir die wit versiersel
500 g wit margarien, saggemaak
4 k Huletts-versiersuiker, gesif
2 t (10 ml) kleurlose vanieljegeursel (by spesialisbakwinkels te kry)
3 tot 4 e (45 tot 60 ml) melk
Om te versier
Vir die pienk hare en bruin wimpers: Huletts se aarbei- en sjokoladegeur-versiersuiker
Vir die groen en blou hare: oorskiet-versiersuiker en koskleursel
Metode
1. Vir die kolwyntjies: Voorverhit die oond tot 180 ⁰C.
2. Plaas die meel, Huletts-strooisuiker, botter, eiers, vanieljegeursel en bakpoeier in die bak van ’n staanmenger. Meng vir 1 minuut of totdat die beslag glad is.
3. Verdeel die beslag tussen 2 bakke en voeg 1 tot 2 e (15 tot 30 ml) koskleursel van jou keuse by elke bak. Meng goed.
4. Maak 24 kolwyntjiedoppies tweederdes vol en bak vir 15 minute. Haal uit die oond en plaas eenkant om af te koel.
5. Vir die wit versiersel: Plaas die margarien, Huletts-versiersuiker, en kleurlose vanieljegeursel in die bak van ’n menger.
6. Meng op hoog vir 2 tot 3 minute. Voeg die melk geleidelik by die versiersuiker en meng vir nog 3 tot 4 minute of tot lig, wit en donsig. Hou 1 koppie van die versiersel uit.
7. Om die koek te “bou”, pak die 24 kolwyntjies in die vorm van ’n eenhoring se kop.
8. Smeer die wit versiersel egalig oor die kolwyntjies om ’n gladde oppervlak te kry.
9. Gebruik die koppie versiersel wat jy uitgehou het om sy wang en neus te vorm. Om die wang mooi te vorm, smeer die versiersel in sirkelbewegings. Gebruik die punt van jou paletmes om die neus en neusgat te maak.
10. Vir die maanhare en wimpers, volg die aanwysings op die pakkies om van Huletts se aarbei- en sjokoladegeurversiersel aan te maak. Om die groen en blou hare te maak, meng groen en blou koskleursel by van die oorblywende wit versiersel.
11. Druk die wimpers en maanhare met ’n spuitsak uit. Maak seker die maanhare loop in verskillende rigtings.
Wil jy nog kolwyntjies versier? Huletts se reeks gegeurde versiersuiker is in verskeie geure beskikbaar – sjokolade, aarbei en cappuccino.
Aarbeigeur-versiersuiker
Pienk kolwyntjies sal enige dogtertjie se verjaardagpartytjie opvrolik! Gee jou vanieljekolwyntjies ’n bietjie flair met Huletts se aarbeigeur-versiersuiker. Versier jou kolwyntjies en tooi dit dan mooi met kleurryke lekkergoed, suikerstrooisels, of eetbare blinkerstof om jou meisiekind se dag ekstraspesial te maak.
Sjokoladegeur-versiersuiker
Sjokolade bly maar ’n gunsteling! Versier jou kolwyntjies met Huletts se sjokoladegeur-versiersuiker en kikker dit verder op met eetbare blinkerstof, lekkers of selfs blomme om dit feestelik te laat lyk. Of voeg ’n bietjie versiersuiker by melk om heerlike sjokolademelk te maak!
Cappuccinogeur-versiersuiker
Kolwyntjies is nie net vir kinders nie! Versier jou gebak met Huletts se cappuccinogeur-versiersuiker vir ’n heerlike namiddaghappie. Nooi dan vriendinne oor en geniet jul cappuccino-kolwyntjies saam met ’n koppie koffie.
* Maak die versiersuiker volgens die aanwysings op die pakkie aan.
Besoek Huletts op Facebook of gaan na Huletts se webwerf vir nog opwindende resepte.
LEES OOK:
7 briljante Instagram-koekiebakkers