×
Skakel na Engels

Kry jou kinders om hul tablet eenkant te sit sonder ’n geveg

Die GHI het nuttige wenke om skermtyd te verminder en kinders se toegang tot apps te beperk
tablet kinders

Een uit tien van ouers sal hul kinders langer as drie uur per dag voor ’n tablet, slimfoon of ander elektroniese toestelle laat deurbring, wat ’n allemintige 21 uur per week beteken.

Boonop het meer as die helte van ouers erken dat hul kinders meer tyd op hul toestelle sal bestee as wat hulle die vorige jaar gedoen het, ten spyte daarvan dat 40% sê hulle dink hulle bestee reeds te veel tyd met hul tablet of slimfoon, het navorsing deur die veiligheidsagtewarefirma Avast onthul.

Dis kommerwekkend dat meer as die helfte (56%) van ouers besorg is oor waarna hul kinders kyk wanneer hulle tablette en slimfone gebruik, en ’n derde erken hulle weet nie hoe om te monitor waarna hul kinders kyk of tot watter apps en dienste hulle toegang het nie.

Hier by die Good Housekeeping Institute stem ons saam dat die gebruik van tablette en slimfone ’n fantastiese manier is om kinders op te voed en hulle op lang motorreise te vermaak, maar dit kan ’n stryd wees om seker te maak dat hulle nie te veel tyd met hul toestelle deurbring nie, en dit kan tot uitbarstings lei. Ons het vir jou ’n paar goeie wenke om dit makliker te maak om skermtyd te beperk en om te keer dat hulle toegang tot inhoud het waarna hulle nie behoort te kyk nie.

Beperk toegang tot sekere apps

Begin deur te keer dat kinders toegang tot sekere apps het op die foon of tablet wat hulle gebruik, hetsy speletjies of videodienste soos YouTube. As jy ’n iPhone of iPad het, gaan na Settings, General en Restrictions om te stel wat jou kind mag gebruik. Op Google Android-slimfone kan jy net apps beperk gegrond op volwassenheidsvlak. Om dit te doen, gaan na die Google Play Store en kies Settings. Rol af na die User Control-afdeling en druk op Content Filtering; kies dan die volwassenheidsvlak en kliek op OK. Windows-fone het ’n spesifieke deel wat as Kids Corner bekend staan en dit sal toegang tot sekere apps beperk.

Beperk hoe lank die toestel gebruik kan word

Sommige tablette en slimfone het ouerbeheermeganismes. Amazon Kindle Fire-tablette, waaronder die Kindle Fire Kids-uitgawe, het byvoorbeeld dié funksie in die bedryfstelsel ingebou. As jou toestel jou egter nie toelaat om dit te doen nie, is daar steeds maniere om skermtyd te beperk.

Op ’n iPhone of iPad het jy ’n funksie genaamd Guided Access nodig, wat op die Settings-menu aangeskakel kan word. Gaan na General, Accessibility en rol af na Guided Access. Skakel dit aan.

Maak nou ’n app oop en druk drie keer op die Home-knoppie. Van hier af sal jy areas kan kies wat jy nie wil hê wie ook al die foon gebruik toegang tot moet hê nie, byvoorbeeld die knoppie om lewens in ’n speletjie te koop. Druk ook die Options-sleutel in die onderste linkerhoek om ’n tydsbeperking te stel. Dit beteken dat die skerm swart sal raak nadat die gestelde tyd verby is en jy sal die Guided Access-kode moet intik om dit weer te gebruik.

Daar is nie ’n manier om skermtyd op Android direk te beperk nie, maar dit is waar die Screentime-app inkom. Dis maklik om te gebruik en dit werk goed om skermtyd te beperk.

Op ’n Windows-foon sal jy ’n Microsoft-rekening vir jou kind moet skep en dit dan by jou “Family” voeg en dan kan jy skermtydbeperkings stel. Hulle sal op ’n tablet of slimfoon op hierdie rekening ingeteken moet wees om te verseker dat die tydbeperkings werk.
 

Installeer kindervriendelike apps

YouTube en Sky het albei spesiale kinder-apps wat ’n tydbeperkingsfunksie het, en nadat die toegewese tyd verstryk het, sal dit nie werk nie. Die YouTube Kids-app is gratis om af te laai op iPhones, iPads en Google Android-toestelle, terwyl die Sky Kids-app gratis is, maar jy het ’n Sky TV-subskripsie nodig om toegang tot die programme te verkry.
 

Monitering

Om te weet watter apps en dienste jou kind gebruik, is noodsaaklik om hulle aanlyn veilig te hou. Met jonger kinders is dit maklik om dop te hou wat hulle doen, veral as hulle jou tablet of slimfoon gebruik en nie hul eie het nie. Maar vir ouer kinders wat dalk ’n toestel gebruik wanneer hulle ’n passasier in ’n motor is, of in hul slaapkamer, is dit veel moeiliker om te monitor. Dit is waar die Mobicipouerbeheer-app inkom. Die app, wat vir iPhones, iPads, Google Android-slimfone en -tablette, en Windows-toestelle beskikbaar is, stel ouers nie net in staat om te kyk watter webwerwe hul kinders besoek en watter apps hulle gebruik nie, maar laat jou ook toe om tydbeperkings vir gebruik te stel en bied ’n veilige blaaier sodat hulle nie per ongeluk toegang tot onvanpaste inhoud kry nie.
 
 

LEES OOK:

 
Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
7 dinge wat jou tiener wil hê jy nié op sosiale media moet doen nie

Noudat jy en jou kind "vriende" is, moet jy dalk meer op jou sosialemedia-etiket let

Close