×
Skakel na Engels

Kosse waarmee jy jou metabolisme kan versnel

Ai, as ons maar net vinniger gewig kan verloor! Hierdie gesonde, heerlike kosse kan jou metabolisme versnel.
  1. POMELO’S Hierdie pienk, pikante wondervrug is nie net ryk aan antioksidante nie, maar ook propvol vitamien C, wat verkoue gedurende die winter kan help beveg. Voeg ’n halwe pomelo by jou ontbyt om jou metabolisme te versnel.
  2. SELDERY Hierdie krakerige groentesoort staan nie verniet as dié dieethappie bekend nie; dit bestaan uit water en sellulose, wat jou langer versadig laat voel sonder om onnodige kilojoules in te neem. Maak seldery minder vervelig en omskep dit in ’n vullende peuselhappie; eet selderystokkies met hoemoes of gewone jogurt.
  3. APPELS Ja, ons almal weet teen die tyd ’n appel ’n dag laat die dokter wag, maar hierdie veselryke vrug kan op verskeie maniere geniet word en dit hou jou vir langer versadig! Nie lus vir ’n koue, krakerige appel in die winter nie? Eet gebakte appel met kaneel en gewone jogurt as ’n heerlike, warm soethappie, of appelskywe met grondboontjiebotter vir ’n vullende, krakerige happie, of voeg appel by jou hawermout vir ontbyt.
  4. VIS Vars vis is nie net vir die somer nie! Sluit gerus hierdie heerlike maer proteïen by jou dieet in en geniet die voordele wat dit bied. Vis is ryk aan proteïen, wat help dat jy vetmassa verloor en nie spiere nie.
  5. BRUINRYS Verruil jou gewone witrys vir bruinrys – dis ryk aan vesel wat jou insulienvlakke laag hou en jou honger in toom hou. Geniet in roerbraaie, met kerrie of bredie of in ’n “warm” slaai met lekker baie groente.
  6. GROENTEE Probeer jou bes om die smaak gewoond te raak, want slegs een koppie is propvol flavonoïede en antioksidante. Verruil minstens een koppie koffie per dag vir ’n koppie groen heilsaamheid.
  7. WATER Drink dit net. Ons hoef nie te verduidelik nie.
  8. KANEEL Hierdie spesery met sy kenmerkende smaak gee ’n tikkie soetheid en warmte aan bykans enige iets en help om die bloedsuiker te stabiliseer. Strooi oor jou hawermout, vrugte, of selfs in jou koffie!
  9. OLYFOLIE Gebruik as slaaisous en soteer daarmee. Olyfolie is ryk aan mono-onversadigde vette, wat kan help om kilojoules te verbrand.
  10. JOGURT Die moontlikhede is legio met hierdie proteïenryke, kalsiumryke happie. Gebruik dit as ’n plaasvervanger vir room of suurroom of as romerige slaaisous. Kies Griekse of ongegeurde jogurt.
  11. RISSIES Die capsaïsien in brandrissies help jou om meer kilojoules te verbrand. Voeg dit by jou gunstelingbredies, kerries of sop vir ’n bietjie skop!
  12. AMANDELS Hierdie klein, bruin goedjies is ’n briljante peuselhappie. Hulle is propvol mono-onversadigde vette, wat jou langer versadig laat voel.
  13. BROCCOLI Nie almal is lief vir groen groente nie, maar jy kan gerus leer om hierdie een te eet. Dit is ryk aan kalsium en vitamien C.
  14. DONKER SJOKOLADE Dekadent, heerlik en boonop goed vir die metabolisme? Ons sal dit so aanvaar, dankie! Donker sjokolade verlaag die streshormoonvlakke wat veroorsaak dat jou liggaam vet berg.
  15. AVOKADO Hierdie romerige heilsaamheid is heerlik in slaaie of op toebroodjies. Eet gerus – die mono-onversadigde vette, vesel en vitamiene is goed vir jou vel, versnel die metabolisme en dit laat jou langer versadig voel.
  16. HAWERMOUT Sukkel jy om so vroeg in die oggend proteïenryke eiers te eet? Kies warm, vullende hawermout – dit hou jou insulienvlakke laag en help jou gevolglik om vet te verbrand. As jy eerder graanvlokkies verkies, probeer om jou gunsteling-graanvlokkies vol suiker deur ’n gesonde bakkie hawermout te vervang.
Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Die 5 grootste foute wat jy maak wanneer jy afstof

Dit voel dalk soos ’n nimmereindigende stryd, maar hier is ’n paar wenke om die stof vir langer in toom...

Close