Een ding wat ons van mode- en skoonheidsneigings weet, is dat dit altyd iewers ’n terugkeer maak. Die nuutste grimeertendens onder selebs soos Kylie Jenner en Gigi Hadid was groot nuus in die 80’s, maar dis onlangs weer deur die modeontwerper Marc Jacobs gewild gemaak. Dit staan bekend as drapering en is goed op pad om kontoergrimering as die gewildste grimeerstyl uit te stof.
Lees: 3 nuwe maniere om jou blosser aan te wend
Hoe werk dit
Drapering is soortgelyk aan kontoergrimering omdat dit ook gebruik word om die gesig te definieer en sekere dele te beklemtoon en ander minder opvallend te maak. Wat dit egter anders maak, is dat blosser pleks van onderlaag gebruik word.
Jy kry dus ’n ligter, varser en jeugdiger resultaat. Hierdie tegniek, wat sowat 30 jaar gelede hipergewild was, maak van die natuurlike beenstruktuur gebruik en maak jou blosser die fokuspunt van jou grimeervoorkoms.
Lees: Hoe om kontoergrimering soos ’n kenner aan te wend
Só maak jy
Jy het twee skakerings blosser nodig om te “drapeer”: ’n donker een en ’n ligter skakering. Soos met kontoergrimering, wend jy die donker blosser aan waar jy skadu’s wil skep of beklemtoon, soos op die holtes van jou wange, en die ligter blosser word net bo dit aangewend.
Die twee word dan oor die bol van jou wang ingeskakeer om ’n natuurlike voorkoms te skep. Hierdie tegniek kan jou jonger laat lyk en jou ’n stralende, blosende gelaat gee, solank jy dit goed inskakeer en kleure gebruik wat jou veltoon komplementeer. Drapering is nou een grimeertendens wat ons hoop nog sommer lank gaan bly!
FOTO: iStock/PeopleImages
LEES OOK:
5 maniere waarop blosser die jare kan laat waai