×
Skakel na Engels

Kom ry fiets ten bate van die Rock Girl Safe Spaces-inisiatief

Rock Girl nooi jou uit om hulle by die Grand Daddy Hotel te ontmoet wanneer hulle hul deure vir ’n verdienstelike doel open

Die volmaan op Maandag 4 Junie sal nog ’n unieke 10km volmaan-fietsrit inlui, geborg deur die gasheer, die Grand Daddy Hotel in Langstraat, Kaapstad. Dis ten bate van die Rock Girl Safe Spaces-inisiatief, wat ’n openbarekuns- en opvoedingsveldtog op voetsoolvlak is om mense bewus te maak van die behoefte aan veilige ruimtes in ons stede en omliggende gemeenskappe. Rock Girl werk saam met kunstenaars en ontwerpers om unieke openbare bankies te skep wat as simboliese veilige ruimtes sal dien.

 

Registrasie vind vanaf 17h30 plaas en die rit begin om 18h30 by die hotel.  Dis nie nodig om vooraf te bespreek nie, tensy jy ’n fiets benodig. Die rit is oopgestel vir die publiek en akkommodeer fietsryers van alle ouderdomme en vermoëns. Die koste is R50 en sluit die fietsrit, BOS-ystee, peuselhappies by die Grand Daddy en vermaak deur die Nomadic Orchestra in. ’n Veiling sal vanaf 19h30 by die hotel plaasvind. Paul du Toit se kunswerk, twee nagte by die Grand Daddy Hotel en Old Mac Daddy sowel as ander waardevolle items sal opgeveil word.

 

Die Safe Spaces-veldtog is deel van Kaapstad se bod vir die 2014 Wêreldontwerphoofstad. Die eerste bankie is by die Design Indaba in Februarie 2011 ten toon gestel en in Februarie 2012 was tien bankies by die Indaba te besigtig. Die eerste bankie het nou ’n permanente plekkie by die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum (KIKS) gevind en sy sustersbankie is in Khayelitsha. Met die hulp van burgemeester Patricia De Lille, die Kaapstad-vennootskap, Investec, Travelstart, die Wallace Globale Fonds, Tafelberg Nasionale Park, die V & A Waterfront, Plascon/Earthcote, Cecile & Boyd en baie ander is daar nou 30 Safe Spaces-bankies in en om Kaapstad.

 

Elke bankie sal ’n sustersbankie in ’n voorheen benadeelde gemeenskap hê wat werklik ’n veilige ruimte bied. Die bankies is funksioneel, opvoedkundig, pragtig en boonop ’n inspirasie. Daar word gehoop dat burgers uit alle lewensterreine geïnspireer en gemotiveer sal word om maniere te vind om seker te maak dat vroue en meisies – en so ook almal anders – veilig teen geweld is.

 

Die Safe Spaces-veldtog is geïnspireer deur ’n groep Graad-7-meisies van Manenberg. Met die steun van plaaslike kunstenaars en ouers, sowel as gelykemunt-donasies van Freeworld Design Centre en Cecile & Boyd, het die leerders muurskilderye gemaak, hul eie Safe Spaces-bankie geïnstalleer, hul toilette opgeknap en ’n kunskamer gebou, en só die omvorming van hul hele skool begin. Hulle het ontdek dat jong vroue leiers in hul eie gemeenskappe kan wees en ander regoor die land kan inspireer.

Meer inligting oor Rock Girl kan verkry word by www.rockgirlsa.org of www.freeworlddesigncentre.com.

Om jou plek te bespreek, bel Bryony of Shameena by die Grand Daddy Hotel (021 424 7247) of e-pos reservations@granddaddy.co.za.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Dekor & Ontwerp -oggend ten bate van Prochorus Community Development

Ondersteun hierdie dag van ontwerp, inspirasie en kreatiwiteit ten bate van voorheen benadeelde groepe

Close