×
Skakel na Engels

Kantoor-etiket: moets en moenies

Skep ’n vriendelike werkomgewing deur hierdie “goue reëls” te volg
Moets en moenies

Hoewel elke organisasie sy eie beleid oor sake soos kleredrag het, is daar ‘n paar algemene kantoormoets en -moenies wat deur die meeste maatskappye onderskryf word. As jy voel dat jou kollegas aan sommige hiervan herinner moet word, kan jy dit dalk uitdruk en by die waterkoeler of in die kombuis opplak (miskien wanneer niemand kyk nie!). Hou in gedagte dat kantoor-etiket nie daarop gemik is om jou werkplek in ‘n streng, onvriendelike omgewing te verander nie, maar om ‘n produktiewe ruimte te skep waar kollegas mekaar respekteer. Hierdie lys sal jou (en ander se) kantoormaniere opskerp:

MOET:

  • Gebruik oorfone wanneer jy na musiek luister.
  • Skakel jou selfoon se klank af. As jy ‘n dringende oproep verwag, kan jy jou selfoon naby jou hou sodat jy dadelik kan antwoord.
  • Trek gepas aan.
  • Maak die ketel vol vir die volgende persoon.
  • Onthou om jou eie kos voor ‘n naweek uit die yskas te haal.
  • Vervang die drukker se papier as jy die laaste bladsy gebruik het. 
  • Ruim op wanneer jy die kantoorkombuis gebruik het.
  • Wees betyds, en vra om verskoning as jy nie is nie.
  • Gaan die spelling van jou e-posse en werk na.
  • Neem ander in ag wanneer jy ‘n venster oopmaak of ‘n waaier of die lugversorger aanskakel – vra voordat jy dit doen. Dieselfde geld die gebruiik van ‘n e-sigaret of die aansteek van ’n gegeurde kers, of as jy wierook of essensiële olies wil brand.
  • Sê dankie wanneer ‘n kollega jou gehelp het of prys haar wanneer sy goeie werk gelewer het.
  • Hou jou lessenaar netjies sodat papierwerk en skryfbehoeftes nie op jou buurman se lessenaar beland nie.
  • Respekteer jou liggaam en jou kollegas deur tuis te bly wanneer jy siek is.

Lees: Kernklerekas vir werk vir minder as R1 600

MOENIE:

  • Moenie by skinderpraatjies betrokke raak nie.
  • Moenie jou skoene uittrek nie.
  • Moenie kos uit die kantoor-yskas haal wat nie aan jou behoort nie.
  • Moenie sterk gegeurde kos by jou lessenaar eet (as jy in ‘n oopplankantoor werk) nie.
  • Moenie lang, luide, nie-werkverwante gesprekke met ‘n vriend/kollega by jou lessenaar voer indien jy in ‘n oopplankantoor werk nie – gaan gesels eerder in die konferensiekamer of ‘n koffiewinkel. Dieselfde geld persoonlike gesprekke op jou landlyn  – vra die persoon om jou op jou selfoon terug te skakel sodat jy iewers anders kan gaan praat.
  • Moenie glimlaggies en emoji’s in werkverwante e-posse gebruik nie. En gebruik jou e-pos slegs vir werksake.
  • Moenie by jou lessenaar sit en tittewyt nie. Gaan kleedkamer toe as jy wil hare borsel, jou grimering wil opknap of wil tande borsel. En los die naelknippery vir wanneer jy by die huis kom, groot asseblief.

LEES OOK:

FOTO: iStock/monkeybusinessimages

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
6 wenke vir wanneer jy huisversekering kies

’n Huis is meer as net ’n blyplek. Maak dus seker jy het die beste versekeringsdekking vir jou gesin se...

Close