×
Skakel na Engels

Kampering vir nie-kampeerders

Die vreugde van Suid-Afrikaanse kampeerterreine (vakansieverblyf wanneer al die blyplekke vol is) – plus ’n kampeerlys

 

 

Dis die begin van die somer. Dit was ’n laaang jaar. Jy sien uit na ’n wonderlike Desembervakansie. Jy dink: miskien vanjaar die Oos-Kaap – jy is mal oor St. Francis. Nee, sê die tieners, hulle wil na die osbraai naby Kenton gaan. Jou man sê hy sou verkies om sy studentedae (newels?) aan die Wildekus te herleef. Jy gaan aanlyn. Jaaiks! Wanneer het die Ook-Kaap so duur geraak? En al die kamers in die gesinsvriendelike blyplekke is vol bespreek vir die tyd wanneer julle daar wil wees! Van die ontvangsklerke lag sommer vir jou. Umhlanga? Ballito? Dieselfde storie.

 

Oukei. Kom ons kyk of ons ’n vakansiehuis aan die cooler kant kan huur. Wes-Kaapse webwerwe … ai tog! Van Plettenbergbaai, Knysna en Wildernis tot by Hermanus en self aan die Weskus kos die plekke wat huuragentskappe nog beskikbaar het twee maande se salaris, en jy moet dit vir ’n minimum van twee weke neem. Wat jy kan bekostig, is kilometers van die strand af, horribaal (en jy vermoed wat jy oor die muur kan sien op daardie foto van die ongelooflik stylvolle sement-agterplaas is die nasionale pad en/of ’n nywerheidspark/olieraffinadery).

 

Jammer om te sê, maar jy het te lank gewag. Ek weet! Daar is nog maande tot die Kerstyd, maar die gereelde besoekers het skynbaar al verlede jaar dieselfde blyplek vir vanjaar bespreek, waar hulle tot 3 Januarie 2014 vakansie gehou het.

 

Moenie bevrees wees nie! Hier is ’n werkbare plan. Dis dalk nie so glansryk as wat jy gehoop het nie, maar dit beteken julle kan steeds die vakansie geniet waarvan julle droom, met ’n wonderlike reisavontuur op die koop toe.

 

Wat van kampering? Tot onlangs het ek altyd gesê ek wil nie verder as 5 meter van ’n prop vir my haardroër wees nie, maar by ’n braai, laat een aand … wel, jy weet hoe dit gaan. Lieflike mense, wonderlike kampeerstories en ’n uitnodiging. Jip, ek het ja gesê. Het ek dit nie die volgende oggend berou nie! Maar weet jy wat? Dit was ’n heerlike naweek vir die hele gesin.

 

Dit het nie ’n arm en ’n been gekos om alles te kry wat ons nodig gehad het nie – ons het reeds twee gasligte en ’n kookplaat-hegstuk (wat ons vyf jaar gelede vir beurtkrag aangeskaf het) gehad. Al wat ons vir daardie eerste naweek moes koop, was ’n driemantent (hahaha!), wat ons op Gumtree gekry het. Ons het twee opblaasmatrasse geleen en die lang, dun kussings van ons verstelbare dekstoele opgerol en ’n jogamat elk vir die seuns saamgeneem (hulle het nie eens gekla nie)! Omdat ons net twee slaapsakke gehad het, het ek en my man ons dubbelduvet saamgeneem en dit het goed gewerk.

 

Ons vriende is Ernstige Kampeerders. Hulle het hierdie ONGELOOFLIKE sleepwa. Jy druk net ’n knoppie en voilà: ’n Tent so groot soos ’n Robberg-vakansiehuis kom tevoorskyn. Oukei, ek vergroot (maar nie veel nie  – kyk hier wat ek bedoel. Die sleepwa is volledig toegerus vir kampering – laaie vir dit, kaste vir dat, ’n yskas en ’n stoof … Dit het ook sonpanele om batterye/’n opwekker aan te dryf. (Die feit dat ek sowaar my hare sou kon droogblaas as ek wou, het baie te doen gehad met hoe baie ek daardie naweek geniet het.) Of miskien was dit die wyn en die lang, lui gesprekke en die asemrowende sonsondergange … My man het twee visse gevang, die seuns het dit gate uit geniet en – tot my verbasing – ek ook.

 

Oor die algemeen is ek gelukkig as my kinders en my man gelukkig is. Hier is dus wat ons vir dié Desember beplan: ’n lui rit al langs die N2 via Kaap St. Francisen Kenton tot by die Mdumbi-riviermond, en orals kampeer ons.

 

Ons het taamlik vinnig van die eerste twee tente ontslae geraak (ek het dalk my standaarde verslap, maar om in en uit my slaapkamer te kruip is een kniebuiging te ver). Ons nuwe tent is nie so groot soos Ernstige Kampeerders s’n nie, maar dit het drie vertrekke. Kan jy dink hoe opgewonde ek daaroor is? Jip, ons het die kleiner tente op Gumtree verkoop en die nuwe een daar gekry. Ons het ook ’n sleepkoppeling en ’n sleepwa gekry (nee, dis ook nie so groot soos Ernstige Kampeerders s’n nie – net iets wat beteken ons kan alles by kampeerterreine kry sonder dat ons ’n kind by die huis hoef te los!).

 

As jy tot hier gelees het, maar jou eenvoudig nie kan indink dat jy ’n ablusieblok kan deel nie, moenie stres nie – jy sal ook mense op Gumtree kry wat hulvakansiehuise adverteer. Maar jy sal moet gou spring – dit word vinnig opgeraap.

 

En laat weet my as jy een tussen Kaapstad en Keimond bespreek – ek sal dalk my haardroër moet inprop.

 

NS: Kampeerlyste …

 

 

Hier is my gunsteling-lys vir benoude eerste-keer-kampeerders. Moenie daaroor stres as jy nie elke item afmerk nie – ons matra is: “Laevlak-tegnologie is baie cooler”! En as jy agterkom jy het iets by die huis vergeet, sal daar iemand wees wat jou kan leen wat jy nodig het. (Ons het nie die eerste keer ’n skoppie en borsel saamgeneem nie. Nou doen ons dit.)

 

Daar is ook ’n cool iPhone/iPad-app genaamd Camping List vir R12 wat ek beslis voor Desember gaan aflaai. Probeer Camping Checklist vir androïede fone.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Weet wanneer is iets nagemaak

Bonang Matheba se onlangse boetiek-bemarking op Gumtree.co.za het baie ander fashionistas geïnspireer om hul ontwerperware op dié portaal vir geklassifiseerde...

Close