Aanhangers van die 1960’s-rolprent Breakfast at Tiffany’s met Audrey Hepburn en George Peppard sal verheug wees om te hoor dat Tiffany & Co. se oorspronklike juwelierswinkel in Vyfde Laan in New York onlangs ’n bistro geopen het. Dit heet The Blue Box Cafe, ter ere aan die handelsmerk se bekende verpakking.
Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.
Die eetplek, wat op Vrydag 10 November 2017 geopen het, is die toppunt van luuksheid. Al die dekor en bykomstighede is ontwerp om presies by die handelsnaam se kenmerkende blou te pas, met silwer en ander metaalkleur afwerkings. Die maatskappy het in ’n persverklaring gesê dis ontwerp vir “klante wag nog altyd daarvan gedroom het om by Tiffany’s ontbyt te eet”.
Die bistro is gedurende gewone besigheidsure oop wat beteken klante kan inloer nadat hulle na verlowingsringe gekyk het of sommer net om hul Audrey Hepburn-fantasie uit te leef. Gaste kan van die seisoenale spyskaart af bestel: ’n Tweegang-ontbyt kos $29 (sowat R417) en ’n tweegang-middagete $39 (sowat R561).
Die ontbytopsies sluit in ’n croissant en truffeleiers of seisoenale vrugte met avokado-roosterbrood. Vir ’n middaghappie sluit die spyskaart lekkernye in soos ’n “Fifth Avenue”-slaai met kreef en avokado of salm wat in olyfolie geposjeer is met kaviaar. Vir ietsie (’n bietjie) meer bekostigbaar sal ’n koffie jou $6 (sowat R86) uit die sak jaag.
As jy dus ooit in New York is, gaan maak ’n draai by The Blue Box Cafe namens al ons Breakfast at Tiffany’s-aanhangers hier by die huis!
FOTO: Instagram/sylviagiordano
LEES OOK:
7 heerlike ontbyt-vir-aandete-resepte