×
Skakel na Engels

Jou sterre: November 2014

Ons het op ’n sterrereis gegaan vir jou voorspellings. Maak hierdie maand een om te onthou! Deur Tracy Shaw

Skerpioen

 

(24 OKT. – 22 NOV.)

 

 

Daar lê ’n potensieel produktiewe maand vir jou voor. Besluit dus wat jy wil bereik en werk daarvoor. Span vasberadenheid en sjarme saam in en jy sal berge kan versit sonder om mense die josie in te maak.

VERHOUDINGS Laat jou geliefdes weet dat jy hulle waardeer. Komplimenteer hulle, sê dankie en wys jy is lief vir hulle.

SELFSORG Oppas dat jy jouself nie fisiek ooreis nie. Besef wanneer dit tyd is om af te skakel en te rus.

GELDSAKE Weerstaan die versoeking om geld uit te gee tot ná die 20ste.

PERSOONLIKHEID Skerpioenvroue is gevoelvol en intuïtief. Jou air van geheimsinnigheid is aantreklik, maar jy laat net ’n paar mense in jou binnekring toe juis omdat jy so verskriklik privaat is. Wanneer iets vir jou belangrik is, volhard jy ondanks alles. Jy is ’n getroue vriendin, ’n hartstogtelike maat en ’n beskermende ma. Hegte verhoudings is vir jou belangrik.

INNERLIKE KRAG Jou emosionele dapperheid maak dat jy sterker aan die ander kant van lewenskrisisse uitkom en dat jy ander in moeilike tye kan ondersteun.

SWAK PUNT Jou opmerksaamheid kan jou agterdogtig oor mense se bybedoelings maak. Jou grootste uitdaging is om te leer wanneer om dinge te aanvaar vir wat dit is.

KLEURE Donkerrooi, rooibruin en houtskoolgrys.

EDELSTENE Topaas en jaspis.

 

 

Boogskutter

 

(23 NOV. – 22 DES.)

 

 

Baie dinge kom tot ’n einde, maar daar’s nog nie nuwe vooruitsigte nie. Fokus vir eers op die praktiese reëlings om al die los drade bymekaar te bring.

VERHOUDINGS Jy kommunikeer nie so goed soos gewoonlik nie en dit verwar jou vriende en familie. Maak dit duidelik dat jy in ’n fase van selfondersoek is.

SELFSORG Wanneer jy bedruk voel, bederf jouself met liefde, vertroeteling en ’n groot dosis geduld.

GELDSAKE Kry meer waarde vir jou geld deur ’n georganiseerde koper te wees.

 

 

Steenbok

 

(23 DES. – 20 JAN.)

 

Dié maand is dit uit met die oud en in met die nuut. Jy het vernuftige reserwes tot jou beskikking om jou te help ontslae raak van alles wat op gedra, te klein of nie meer bruikbaar is nie.

VERHOUDINGS Omdat jy vasbeslote is, kan jy intimiderend voorkom. Versag jou woorde deur taktvol te wees. Só sal jy minder geneig wees om ander se gevoelens seer te maak.

SELFSORG Die ondersteuning van een goeie vriend aan wie jy dinge kan toevertrou, maak die juk ligter.

GELDSAKE Spaar meer deur huishoudelike reëlings te reorganiseer.

 

 

Waterdraer

 

(21 JAN. – 19 FEB.)

 

 

Beraam planne en pas vindingryke oplossings op praktiese probleme toe. Dit sal tyd neem om jou planne uit te voer – wees dus geduldig.

VERHOUDINGS Om ’n voorsprong by die werk te kry, pas emosionele intelligensie toe om uit te vind wat mense se motiverings is. Of jy met jou kollegas, die bestuur of die publiek kommunikeer, luister tussen die lyne.

SELFSORG Verlig frustrasie met veeleisende fisieke aktiwiteite soos tuinmaak of om meubels te herrangskik.

GELDSAKE Tensy jy boekhou, sal jou geld rondom die 20ste vinnig opraak.

 

 

Vis

 

(20 FEB. – 20 MRT.)

 

 

Daar’s lig aan die einde van ’n skynbaar wanhopige situasie. Namate die situasie verbeter, help die regte mense jou om stappe te doen. Vertrou jou intuïsie rondom die 13de.

VERHOUDINGS Dis nie maklik om sterk te staan teen ’n eiewillige vriend nie, maar om stil te bly sal dinge vererger. Eerlikheid is die oplossing. Wees dus dapper en pak die bul by die horings.

SELFSORG Om rondom opbouende, opgewekte mense te wees bring die beste in jou na vore.

GELDSAKE Volg spaarwenke en bestee jou spaargeld aan ’n spesiale bederf.

 

 

Ram

 

(21 MRT. – 20 APR.)

 

As jy ekstra moeite doen om noodsaaklike veranderinge aan te bring sal jy die vrugte pluk. Doen een ding op ’n slag en wees pragmaties pleks van idealisties.

VERHOUDINGS Met al die eise wat aan paartjies gestel word, kan probleme maklik onder die mat ingevee word, maar dan bou wrewel op. ’n Eerlike gesprek sal probleme oplos.

SELFSORG Wees verstandig deur gereeld te eet en aan die einde van elke dag te ontspan.

GELDSAKE Wag totdat jy kan bekostig wat jy wil hê voordat jy met opknappingswerk aan jou huis begin.

 

 

Bul

 

(21 APR. – 21 MEI)

 

Om aan die verlede vas te klou hou jou terug. Begrawe ou koeie – jy sal die lewe opnuut geniet. Verwag ’n aangename verrassing rondom die 26ste.

VERHOUDINGS Pleks van jou gewone spontane self te wees kry jou hardkoppige kant ’n bietjie blootstelling. Die ander mens wil ook nie kop gee nie, maar ná die 16de kom julle altwee tot inkeer.

SELFSORG Jy het die dissipline om by ’n gesonde eetplan te hou.

GELDSAKE Oppas vir die drang om spandabel te wees rondom die negende.

Tweeling

 

(22 MEI – 21 JUN.)

 

Doen minder, maar gee 100% en jy sal produktiewer wees. Dit geld by die huis én jou werk. Verminder afleidings en konsentreer op dit wat belangrik is.

VERHOUDINGS Kantoorpolitiek kan byna al jou aandag verg. Vermy dit én die versoeking om jou in skinderstories te verlekker.

SELFSORG Maak gereeld tyd vir kort blaaskanse en plesier en jy sal makliker by jou roetine kan hou.

GELDSAKE Jou hulpbronne is uitgeput, maar ’n positiewe ontwikkeling wink aan die einde van die maand.

 

 

Kreef

 

(22 JUN. – 23 JUL.)

 

Bestuur die eise van dié emosioneel uitputtende maand deur nie aan verwagtinge of vrese vas te klou nie. Wees dankbaar vir klein seëninge.

VERHOUDINGS Jou man is geneig om groot besluite so gou moontlik te wil implementeer, maar jy het dinktyd nodig. Vra hom om begrip hiervoor te hê, maar stel ’n tydsbeperking.

SELFSORG Koop vir jou iets mooi somers.

GELDSAKE Daar’s bykomende uitgawes vir jou kinders, maar gelukkig het jy geld daarvoor.

 

 

Leeu

 

(24 JUL. – 23 AUG.)

 

Jy sien weer mense en plekke uit jou verlede en dit bring herinneringe terug. Dis emosioneel verrykend om gebeure – goed én sleg – te herleef wat jou gevorm het.

VERHOUDINGS Wees kreatief wanneer jy gesinsuitstappies beplan. Meng pret en opvoeding deur aktiwiteite te kies wat julle ’n kykie in verskillende kulture of geskiedkundige tydperke sal gee.

SELFSORG Met ’n bietjie vooraf beplanning kan jy ektyd in jou besige skedule inpas.

GELDSAKE Jy het ’n oog vir dinge wat met min geld opgeknap kan word.

 

 

Maagd

 

(24 AUG. – 23 SEPT.)

 

Om jou heeltyd die ergste in te dink is verlammend. Doen wat jy kan vir nou. Veeleisende take wat jou volle aandag verg, sal jou daarvan weerhou om alles te oorontleed.

VERHOUDINGS Ouerskapuitdagings is ’n geleentheid om tendense uit jou eie jeug te ondersoek. Jy heg waarde aan goeie gedrag, maar moedig ook gesonde selfuitdrukking aan.

SELFSORG Gee jouself toestemming om ontslae te raak van een las wat jy al te lank saamdra.

GELDSAKE Dis goed om verstandig te wees, maar moenie suinig raak nie.

 

 

Weegskaal

 

(24 SEPT. – 23 OKT.)

 

Jy is van nature tegemoetkomend, maar vertrou jou instink om nie jou waardes prys te gee nie. Sodra mense sien jy is ernstig, sal hulle ondersteunend en selfs bemoedigend wees.

VERHOUDINGS ’n Voortdurende familiekwessie veroorsaak weer spanning. Dié keer is daar die moontlikheid om die wortel van die kwaad te ondersoek en die saak konstruktief op te los.

SELFSORG Dit sal terapeuties wees om in of naby water te wees. Ontspan dus in die bad, swem of stap op die strand.

GELDSAKE Gaan jou uitgawes na en stel ’n begroting op. n

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Agter die skerms – November 2014

Die November-uitgawe van Goeie Huishouding is nou te koop. Hier is ’n kykie agter die skerms van ons mode-fotosessie

Close