×
Skakel na Engels

Jennifer Hudson se dieetwenke

Die ster deel haar geheime oor gesond eet én ’n persoonlike afrigter verduidelik hoe jy haar raad vir jóú kan laat werk

Art Streiber

Wil jy weet hoe Jennifer Hudson 37 kg afgeskud het? Dié maand gaan ons 30 van haar gewigsverliesgeheime met julle deel. Hier, in Jennifer se eie woorde, is die dieetwenke wat haar gehelp het om haar lyf terug te kry. Elizabeth Josefsberg, die gekwalifiseerde persoonlike afrigter wat Jennifer gehelp het om by die Weight Watchers-program te hou, gee boonop haar kennersraad oor hoe jy Jennifer se wenke vir jóú kan laat werk. Ons gaan aan waar ons verlede week met haar motiverende wenke opgehou het. Later die maand deel ons ook Jennifer se fiksheidswenke.

 

Kos en snoepgoed

7. Jennifer sê: Aangesien ek altyd op pad êrens heen is en so in die verbygaan eet, was dit belangrik om maaltye te vind wat my lank sal versadig hou. Die kere dat ek wel rustig sit en eet het, het ek heeltyd gedink: “Hoe en waar kan ek dié maaltyd vir myself beter maak?”

Wat jy kan doen:  Om seker te maak dat jou maaltye meer vullend is, voeg meer maer proteïen en vesel by. Voeg byvoorbeeld een groente of vrug by elke maaltyd of peuselhappie en eet minstens twee keer per dag maer proteïen.

 

8. Jennifer sê: Hoewel ek aanvanklik teen dié beginsel gekant was, het ek mettertyd geleer dat dit wys is om ʼn bepaalde hoeveelheid koolhidrate te eet aangesien dit as jou liggaam se “brandstof”dien.

Wat jy kan doen: Eet ʼn gebalanseerde dieet met beheerde porsies koolhidrate. Ons word al jare lank teen koolhidrate gewaarsku, maar koolhidrate is ʼn belangrike makrovoedingstof wat ʼn belangrike rol in menige ligaamsproses speel. Koolhidrate is nie alleen verantwoordelik vir ʼn toename in gewig nie en moenie as die vyand beskou word nie.

 

9. Jennifer sê: Kosse wat baie kunsmatige geurmiddels bevat, bevat dikwels ook baie suiker, vet en sout om daardie kos lekker te laat smaak. Sulke kosse is egter nie vullend nie en ook nie meer deel van my dieet nie.

Wat jy kan doen: Deur minder geprosesseerde kosse en meer natuurlike kosse te eet sal jy versadiger en beter oor jouself voel. ʼn Appel en ʼn happie laevetkaas sal jou meer en vir langer versadig laat voel as ʼn pakkie aartappelskyfies. Dis te danke aan die water, vesel, proteïen en klein bietjie vet in die gesonder snoepgoed.

 

10. Jennifer sê: My tipiese ontbyt bestaan nou uit een van drie opsies: fajitas gevul met repies geroosterde hoenderfilet saam met bruin rys,  ʼn omelet van eierwitte en met gerookte salm, of ʼn hoender-en-groente-omelet. As ek lus is, voeg ek ʼn bietjie kaas by die eiers, maar anders bly ek daarsonder.

Wat jy kan doen: Ontbyt is die belangrikste maaltyd van jou dag. Volgens navorsers sal jy jouself heel moontlik later in die dag ooreet as jy ontbyt oorgeslaan het. Deur ʼn behoorlike ontbyt te eet verseker jy dat jy gesonder en meer energiek is.

 

11. Jennifer sê: As ek lus is vir ietsie sout en krakerig, eet ek gerookte amandels. As ek lus is vir ietsie soet en krakerig, strooi ek ʼn bietjie Splenda (ʼn kunsmatige versoeter) oor die amandels.Dis iets anders, maar dit hou die vergrype onder beheer.

Wat jy kan doen: Amandels is ʼn gesonde en vullende peuselhappie, maar let op jou porsies. Kikker die peuselhappie op deur iets soos vars vrugte saam met die neute te eet.

 

12. Jennifer sê: My goue reël met snoepgoed is om eerder die ware Jakob as ʼn namaaksel te eet. Ek is veral versot op gemengde vrugte en spanspek. As ek byvoorbeeld lemoensorbet wil hê, sal ek eerder ʼn vars lemoen as die sorbet eet. Ek is tog agter die lemoengeur aan, so ek kan net sowel iets eet wat vesel en voedingstowwe bevat, eerder as iets wat vol chemikalieë en kunsmatige geurmiddels is.

Wat jy kan doen: Dit is belangrik om te besef wát dit is waarna jy smag en om ʼn reeks gesonde alternatiewe vir elke variasie te hê. Byvoorbeeld, as jy gewoonlik aartappelskyfies geëet het as jy na iets sout en krakerig gesmag het, vervang dit nou deur springmielies wat nie met olie gemaak is nie. Dit sal dieselfde effek hê, maar bevat minder kilojoules.

 

13. Jennifer sê: Dit is vir my uiters vervelig om heeltyd dieselfde ding oor en oor te eet. Dit was nog altyd een van die dinge wat my diëte gekelder het. In die verlede het ek dan die roetine verbreek deur iets te eet wat nie goed vir my was nie. Nóú weet ek egter dat ek dinge kan verander deur kreatief met my maaltye en snoepgoed te raak.

Wat jy kan doen: Belê in ʼn paar lekker speserye, souse, mosterds en olies. ʼn Gewone stukkie geroosterde vleis kan heeltemal anders smaak as dit anders gegeur word. Geur byvoorbeeld een aand ʼn hoenderborsie met ʼn lemmetjie-en-koljander-speserymengsel en die volgende aand met ʼn braaivleissous. Dis gevaarlik om verveeld te wees met jou kos. Wees dus voorbereid daarop en dink vooraf aan alternatiewe.

 

14. Jennifer sê: Ek het geleer om myself ʼn bietjie te kul sodat ek die slaggate kan vermy wat my in die verlede ondergekry het. Pinkberry se bevrore jogurt was een van my gunstelinge. Wanneer ek Los Angeles besoek het, het altyd by die Pinkberry-restaurant aangegaan sodra ek van die vliegtuig af geklim het. Nou, in plaas daarvan om dadelik Pinkberry toe te gaan, wag ek tot aan die einde van my besoek om myself te bederf. Sodoende stel ek myself nie in die versoeking om twee keer tydens een besoek te gaan nie.

Wat jy kan doen: Stel vir jouself grense en belonings op en leer hoe om die slaggate te vermy. Sit ʼn paar rand opsy vir elke kilogram wat jy verloor. Gebruik dan dié geld om nuwe klere te koop as jou oues te groot is. Sulke belonings sal jou help om op jou doelwit te bly fokus en steeds al die kos te geniet waarvan jy hou.

 

Vyf lesers sal elk ’n eksemplaar van Jennifer Hudson se inspirerende boek I Got This: How I Changed My Ways And Lost What Weighed Me Down, wen.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Jennifer Hudson deel haar wysheid oor gewigsverlies

Om jou lyf te verander moet jy eers ’n kopskuif maak. Jennifer deel 6 geheime oor hoe om gemotiveerd te...

Close