×
Skakel na Engels

Jennifer Aniston en Justin Theroux se paadjies skei, maar hulle bly “boesemvriende”

Kan dié twee steeds sulke goeie vriende bly soos hulle sê hulle wil?
Jennifer Aniston

Jennifer Aniston en Justin Theroux het die hartseernuus gedeel dat hulle gaan skei. Die akteurspaartjie het op Donderdag (15 Februarie) ’n gesamentlike verklaring uitgereik waarin hulle beloof om hul “kosbare vriendskap” te behou ondanks die feit dat hul paadjies ná twee jaar se getroude lewe gaan skei.

Aniston en Theroux het aan Digital Spy in Brittanje gesê: “Om enige verdere skinderstories te vermy het ons besluit om ons skeiding bekend te maak. Die besluit was ’n gesamentlike en liefdevolle een wat ons einde verlede jaar al geneem het. Ons is twee boesemvriende wat besluit het om ons paadjie as ’n paartjie te laat skei, maar ons wil steeds ons kosbare vriendskap behou. Ons sou verkies om hierdie proses privaat te hou, maar omdat die skinderbedryf nie ’n goeie ‘storie’ kan weerstaan nie, het ons besluit om self die waarheid te onthul. Wat ook al anders van ons en ons egskeiding verkondig word, is nie direk van ons af nie, maar iemand anders se fiktiewe weergawe. Dis vir ons baie belangrik om die innige respek en liefde te behou wat ons vir mekaar het.”

Die twee het ’n paartjie geword nadat hulle in 2011 saam aan Wanderlust gewerk het, en het die volgende jaar verloof geraak. Ná hewige spekulasie in die media oor die akteurs se toekoms saam, het Aniston en Theroux in Augustus 2015 tydens ’n private seremonie voor (baie bekende) vriende en familie by hul Los Angeles-huis afgehaak.

Die media het egter gereeld gegis oor moontlike huweliksprobleme en die egpaar se besluit om nie kinders te hê nie – soveel so dat die voormalige Friends-aktrise onlangs ’n meningsblad oor die media se “mededingende bestudering en liggaamsafknouery” geskryf het.

“Nee, ek is nie swanger nie, maar wat ek wel is, is keelvol,” het sy geskryf. “Die afgelope maand het dit veral vir my duidelik geword hoe ons ’n vrou se waarde bepaal volgens of sy getroud en/of ’n ma is. Die hoeveelheid hulpbronne wat tans deur die media ingespan word om (vir die soveelste keer) vas te stel of ek swanger is, dui op hierdie knaende idee dat vroue op ’n manier onvolkome, onsuksesvol of ongelukkig is as hulle nie getroud is en kinders het nie. Tydens die onlangsste vervelige nuussiklus oor my lewe was daar ernstige skietvoorvalle, veldbrande, groot besluite deur die Amerikaanse hooggeregshof, ’n VSA-verkiesing en verskeie ander nuuswaardige kwessies waaraan ‘joernaliste’ hul hulpbronne kon bestee.”

Aniston was voorheen vir vyf jaar met die Hollywood-superster Brad Pitt getroud, wat self die afgelope twee jaar ’n egskeiding moes verwerk nadat sy huwelik met die aktrise Angelina Jolie verbrokkel het. Voordat hy Aniston ontmoet het, was Theroux 14 jaar lank in ’n verhouding met die stilis Heidi Bivens.

Van: Good Housekeeping UK

FOTO: Gallo Images/Getty Images

LEES OOK:

Vernaamste 4 optredes wat tot egskeiding kan lei

10 maatsoekwenke vir geskeides

“8 waardevolle lesse wat ek tydens my egskeiding geleer het”

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Jennifer Aniston se geheime vir fantastiese hare, vel en naels

En haar gunsteling naellakskakerings

Close