×
Skakel na Engels

Is jy op die rand van uitbranding?

Voel jy dikwels uitgeput, sonder motivering en uitgestres? Jy kan dalk aan uitbranding ly. Hierdie wenke kan jou help om te herstel en te keer dat dit weer gebeur.
uitbranding

’n Studie wat in 2014 deur die Amerikaanse Instituut vir Stres onderneem is, het getoon dat onbeheerde stres ’n negatiewe fisieke uitwerking op meer as 77% mense het, met 73% mense wat sielkundig beïnvloed word. “Dit lyk asof die verskynsel van uitbranding vermeerder, wat tot gevolg het dat mense stres ervaar en ’n gebrek aan lewenslus het – ’n gevoel asof jy nie in beheer van jou eie lewe is nie,” sê dr. Dorrian Aiken, ’n deeltydse dosent op die gebied van afrigting, organisatoriese transformasie en leierskapsontwikkeling aan die Universiteit van Stellenbosch Bestuurskool.

Sy beklemtoon wel dat stres nie noodwendig altyd ’n slegte ding is nie en dat dit daardie finale dryfkrag aan die meeste van ons gee om ’n taak af te handel. “Die uitdaging is om ’n balans te handhaaf, om genoeg stres te ervaar om optimaal en met passie en energie kan funksioneer, met genoeg rus- en hersteltyd. Hier is van die tekens en simptome in die verskeie stadiums van uitbranding.

Die eerste stadium

Mense ervaar angs en sukkel om stres te beheer. “Hulle ervaar dat hulle sukkel om daaglikse kwessies te hanteer en dat hulle selfs “ineenstort”. Slaapprobleme, veral as jy vroeg soggens wakker lê, vergeetagtigheid en ’n gebrek aan konsentrasie is ook vroeë waarskuwingstekens,” sê Aiken.

Die tweede stadium

Die waarskuwingstekens vir dié stadium sluit in afwesigheid, laatheid of ’n traak-my-nie-agtige houding met gereelde klagtes oor moegheid. “Uitstel, besluiteloosheid, oorweldiging deur werk en onttrekking is almal aanduidings. Daar is die gevaar van middelmisbruik, veral oor-die-toonbank-medikasie soos slaappille, gevolg deur nog ’n pil om hulle soggens te help wakker word,” sê Aiken.

Die derde stadium

In hierdie stadium verval die persoon gewoonlik in ’n diep depressie. “Daar is ’n chroniese gevoel van hartseer en uitputting. Hulle kan selfvernietigende gedagtes soos selfmoord ervaar omdat dit voel asof daar eenvoudig nie ’n uitweg is nie. Dinge wat gewoonlik genot verskaf, verskaf nie meer plesier nie en hulle word teruggetrokke en geïsoleerd,” verduidelik Aiken.

Kry hulp

Studies toon dat gereelde meditasie die immuunstelsel verbeter. “Meditasie verminder pro-inflammatoriese gene, wat tot vinniger fisieke herstel van stresverwante toestande lei,” verduidelik Aiken. Sy stel voor dat jy een probleem op ’n slag takel en dat jy jou daaglikse verpligtinge met familie en vriende deel, gesond eet en gereeld oefen en perke in jou persoonlike lewe en die werkplek stel.

Sy waarsku egter dat hierdie stappe vereis dat mense selfreflektief moet wees en die risiko van hul gedragspatrone, asook die oorsake daarvan erken, en hul stresvlakke gereeld evalueer en veranderinge vir beter gesondheid aanbring. Aiken stel voor dat as jy vermoed jy die risiko loop, dit ’n goeie begin is om ’n mentor, afrigter of vertroueling te kry om jou te help en van die kwessies te verander wat veroorsaak dat jy jouself uitbrand.

FOTO: iStock/conejota

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Is dit ’n paniekaanval – of stres?

In ons besige wêreld hoor ons dikwels: “Ek is besig om ’n paniekaanval te kry!” Maar is dit regtig so?...

Close