×
Skakel na Engels

Is jy emosioneel afsydig in jou huwelik sonder dat jy dit besef?

Dis baie maklik om in hierdie strikke te trap. Red só jou huwelik. Deur Cortney Fries
huwelik

Die dag toe julle voor die kansel gestaan het, het jy “een” met jou geliefde gevoel. Maar emosionele afstand kan met verloop van tyd opbou – dikwels sonder dat jy dit besef – en voor jy weet, voel julle myle van mekaar af en dalk nie eens meer verlief of lief vir mekaar nie. Ongelukkig gebeur dit om ’n rede … en jý kon moontlik tot daardie rede bygedra het. Hierdie onopsetlike gedrag bou mure en skep afstand tussen julle, maar dit hoef nie so te bly nie. Leer hoe om die kloof te oorbrug en weer gelukkig in jul huwelik te wees.

Jy bring jou stres in jul huwelik in

Kom ons wees eerlik: Wanneer jy ’n spul sperdatums moet haal en jy bekommerd is dat jou seuntjie nooit gaan leer om die potjie te gebruik nie, is jy waarskynlik nie jou sagmoedige self nie (niemand van ons is nie). Dr. Gary Lewndowski Jr. sê dis omdat sodra jy begin stres, dit ’n egosentriese ervaring word. “Jy gee minder om vir ander mense. Die fokus val op jóú druk en jóú tekort aan hulpmiddels,” sê hy. Dit kan ook daartoe lei dat ’n huweliksmaat se oë begin dwaal, of dat jy dit wat jy het as vanselfsprekend begin aanvaar.

Jy behandel jou maat soos jou kind

Die feit dat jy jou kinders se ma is, beteken nie dat jy soos een teenoor jou man moet optree nie. “Jou maat is in staat om te besluit hoe om sy/haar eie lewe te lei,” sê dr. Kathy McMahon. “As daar iets is wat hy/sy herhaaldelik doen wat jou ongelukkige maak, moet jy eers uitvind waarom dit jou pla en dan daaroor praat in plaas daarvan om hom soos een van die kinders te ‘korrigeer’ of te straf.”

Jy is permanent op Instagram

Hier is ’n skokkende statistiek: Paartjies met kinders praat ongeveer 35 minute per week met mekaar, volgens navorsing wat deur dr. John Gottman gedoen is. Ons weet dat jy besig is, dat jy werk toe jaag en kinders heen en weer karwei, maar wanneer julle langs mekaar sit, is dit belangrik om op jou maat ingestel te wees en nie op jou foon nie. Gottman se navorsing het aan die lig gebring dat paartjies wat positief op hul maat se skimpe vir aandag (’n knipoog, glimlag, mooi woorde) reageer, 86% van die tyd getroud bly terwyl dié wat skei, slegs 36% van die tyd op mekaar ingestel was. Wanneer hierdie pogings geïgnoreer word, kan jou man (of jy) onbelangrik voel. Wees bedag op hierdie leidrade en skakel jou foon af. McMahon stel voor dat julle oor die jongste gebeure gesels of – sjoe! – dat jy hom slaapkamer toe neem. ” ’n Bietjie aandag kan ’n reuse-belegging in jul verhouding wees,” sê sy.

Jy aanvaar dat hy altyd daar gaan wees

Die idee dat jy en jou man “altyd later, wanneer die kinders net ’n bietjie ouer is, weer vir mekaar kan tyd maak,” is ’n slegte plan, sê McMahon. “Mense verander deur die jare en baie paartjies besef met ’n skok dat hulle vreemdelinge vir mekaar is wanneer die kinders uit die huis gaan.” Dr. Anjali Bhagra stel voor dat julle eerder die twee-en-twee-reël volg. “Betoon vroegoggend vir twee minute dankbaarheid en dink aan wat jy alles waardeer, en probeer dan om in die eerste twee minute van die aand geen kritiek te lewer nie (vermy ’n opmerking soos: ‘jou hemp sal beter lyk as jy dit insteek’)”, sê sy. Dit sal julle gehegter maak, sê sy, want soos Ma altyd gesê het: Dis die gedagte wat tel.

Julle praat nooit oor jul vuil wasgoed nie

Letterlik. Paartjies het gewoonlik ’n onderlinge begrip van wie vir wat verantwoordelik is, sê Winch. (Een van julle was gewoonlik skottelgoed terwyl die ander die asblik uitneem). Maar hierdie pligverdeling behoort telkens hersien te word wanneer die eise van die lewe verander. (Julle word ouers of een van julle kry ’n bevordering wat meer kantoorure vereis).  “Anders kan ’n maat ergerlik raak of oorwerk voel en dan begin hy of sy ’n wrok koester,” sê Winch. Wanneer laas het julle gekyk hoe dinge tuis funksioneer? Trek sommer ’n skryfding nader (regtig – skryf dit neer sodat dit gedoen word!) en herverdeel die take sodat julle albei gelukkig is en die werklas regverdig is.

Julle vergeet om die suksesse te vier

Om die goeie tye te vier is net so belangrik soos om jou maat tydens ’n afdanking of ’n ernstige uitval met ’n familielid te ondersteun. “In ons gejaagde lewe is dit maklik om positiewe prestasies te ignoreer, want dit is ’n teken dat alles goed gaan,” sê dr. Shelly Gable. Maar om die meeste van gelukkige oomblikke te maak – en dit regtig te vier – wys aan jou maat dat jy verstaan wat belangrik is, en dis ’n bevestiging dat jy ook daar sal wees wanneer dit nie goed gaan nie, sê sy. Dit beteken nie dat julle elke keer wanneer hy/sy ’n doel bereik moet partytjie hou nie. Maar vra jou maat om jou van een goeie ding te vertel wat daardie dag gebeur het en gesels dan verder oor die besonderhede. “Jy ken hom goed, dus kan jy oor die waarde daarvan uitbrei,” sê Gable. “Dit kan ’n gevoel van eiewaarde versterk en is wonderlik vir jul emosionele band.”

Julle baklei nie meer nie

’n Woordewisseling is iets wat ’n mens wil vermy, of hoe? Vals. Wanneer julle daardie stryd gewonne gee, het julle gewoonlik ook die stryd om jul huwelik laat vaar. Julle het emosioneel van mekaar “geskei”, sê prof. Diane Gehart. In plaas daarvan om ’n uitval te vermy, moet julle dit verwelkom: ” ’n Woordewisseling kan tot groter intimiteit lei indien die paartjie daardeur werk en die verhouding herstel,” sê die verhoudingsterapeut Carrie Cole. Moet dus nie vir argumente terugdeins nie: Hoe onaangenaam dit ook al is, kan dit ook wys dat jy nog omgee.

Hy is nie meer jou hoogste prioriteit nie

Wanneer jy jou vriende, kollegas en selfs jou iesegrimmige ou buurvrou bo jul verhouding stel, weet jy dis tyd vir skadebeheer. As jy weer wil voel soos toe jy voor die kansel gestaan het – toe jou maat die eerste persoon was met wie jy opwindende nuus, frustrasies of probleme gedeel het – moet jy daaraan werk om jul verhouding eerste te stel. Wanneer jy jou maat se plek in jou lewe herbevestig het, sal die band tussen julle ook herstel word.

Julle gaan nie meer op romantiese afsprake nie

Die lewe is besig en dit is maklik om in ’n roetine te verval. Maar as jy nie kan onthou wanneer laas julle twee ’n aandjie uit was nie, is dit nie ’n goeie teken nie, sê die terapeut Jane Greer. Trouens, dit is ’n teken dat julle baie vinnig ’n plan vir meer gehaltetyd moet maak. Dit hoef nie uitspattig of duur te wees nie, maar tyd saam met jou maat kan die intimiteit in jul verhouding herstel, of julle nou by een van jul gunsteling-restaurante gaan eet of ’n reuse-boks springmielies in die bioskoop deel.

FOTO: iStock/nd3000

Bron: Good Housekeeping US

LEES OOK:

12 goed wat skadeliker vir jou verhouding is as verneukery

9 tekens dat jy in ’n zombie-huwelik vasgevang is

9 dinge wat egskeidingskenners wens jy het geweet voordat jy getroud is

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Vra jou maat hierdie vrae vóórdat julle trou

Speel oop kaarte voor die groot dag

Close