×
Skakel na Engels

Hygge: die haarkleurneiging op pad na wêreldoorheersing

“Hygge” jou hare met warm kleure soos bruin, koper en goue skakerings sodat jy net so snoesig lyk as wat jy voel
Hygge
 Wanneer dit by haarkleurneigings kom, het ons so te sê alles gesien. Van bonkige ligstrepe tot ombré-lokke, daar is altyd iets nuuts om te beproef, en die kleurneiging hierdie herfs is ’n treffer, want dit is besonder veelsydig en pas by amper almal.
 
Die woord “hygge” (uitgespreek “hoo-ga”) kom van die Deense term wat ruweg as snoesigheid vertaal kan word. Die tendens was kort voor lank in die VSA te sien waar dit gedurende die koue wintermaande groot byval by die Amerikaners gevind het, nie net wat skoonheid betref nie, maar ook in hul modes en huisdekor. Dit beteken dat die neiging ongetwyfeld Suid-Afrika toe sal kom, net betyds vir ons winter, en ons kan nie wag nie! 
 
Wat het snoesigheid nou eintlik met hare te doen? Wat haarkleur betref, word die hygge-neiging deur kleure soos sagte bruine, warm koper en ryk, botterkleurige blonde skakerings gekenmerk. Dit is met ander woorde uit met koue, platinumwit lokke en in met sagter, natuurliker en warmer kleure. Die hygge-palet bevat genoeg skakerings vir elke gelaatskleur. 

 
Nog ’n voordeel van hierdie nuwe neiging is dat die kleure nie veel instandhouding verg nie – jy het nie nodig om vir gereelde opknapsessies te gaan nie. Gerief kan ’n stappie verder geneem word deur hare in sagte golwe en slordige bollas te dra – want daar is niks wat snoesig spel soos ’n was-en-dra haarstyl nie! 

 
En net ingeval jy bekommerd is oor hoe hierdie kleure in die somer gaan vaar – stylkenners voorspel dat goue, brons en selfs vlamrooi skakerings heeljaar die botoon gaan voer. Beroemdes soos Emma Stone, Lily Collins en Jessica Alba word reeds met hierdie neiging gesien en die res van Hollywood sal ongetwyfeld hul voorbeeld volg. Die beste manier om gemak te ervaar is immers om dit te dra. 
 
 

Hair is inspired by ? today -thx @jennifer_yepez #honestbeauty

A post shared by Jessica Alba (@jessicaalba) on

 
 Gaan jy jou hare hierdie winter met ‘n “hygge” bederf? 
 
FOTO: iStock/max-kegfire

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief