×
Skakel na Engels

Hoekom spring die beste oefening is

Spring verbrand meer kilojoules as draf, dit oefen jou kernspiere meer en dis boonop hope pret. Waarom sal jy nou nié van die trampolienneiging hou nie? Deur Cathy Struthers
spring

Spring is dalk net die prettigste manier om ’n volwasse oefensessie in te kry. En dit is nou weer groot nuus met trampolienparke wat oral in SA oopmaak. (Besoek jumparound.co.za of www.rushsa.co.za).

Wil jy dit probeer? As jy nie by ’n trampolienpark kan uitkom nie, gebruik jou kinders se trampolien (neem jou gewig in ag en moenie dat hulle saam spring nie) 
of belê in ’n klein wipmat.

6 REDES OM TE BONS

1. DIT VERBRAND KILOJOULES vinniger as ’n drafsessie. In ’n studie deur Nasa in die VSA is bevind dat trampolienspring 68% doeltreffender as draf is. Dit is trouens so intens dat “dit moeilik is om vir ’n uur aaneen te spring”, sê Dian Nissen, die Amerikaanse trampolienkampioen wie se pa die prototipe in 1934 uitgevind het. “Jy moet intensiteit en intervalle balanseer en die hele tyd beweeg.”

2. DIS LAE-IMPAK-OEFENING. Die mat absorbeer sowat 80% van die skok wanneer jy spring of op een plek draf. Jy versterk dus jou bene, maar dis nie so swaar op jou gewrigte nie.

3. JOU MAAGSPIERE SAL VINNIG VERFERM. “Jy moet leer om op ’n onstabiele oppervlak te beweeg,” sê Nissen. “Dit is wonderlik vir jou maagspiere omdat dit konstant moet werk.”

4. TRAMPOLIENSPRING STIMULEER DIE LIMFSTELSEL en skep ’n pomp-effek wat jou liggaam se detoksmeganisme aanhelp.

5. DIT KAN SELFS JOU BEKKENBODEM VERSTERK. “Raadpleeg jou dokter, maar as jou bekkenbodem swak is, sorg dat jou blaas leeg is voordat jy begin spring,” stel Nissen voor. “Die blote feit dat die oppervlak onstabiel is, beteken dat dit jou kernspiere en bekkenbodem sal versterk. Ek het kliënte wat bekommerd is oor urinêre inkontinensie, maar hoe meer hulle spring, hoe sterker word hul bekkenspiere.”

6. JY SAL HOPE ENDORFIENE HÊ EN GOED VOEL. “Iets gebeur met mense wanneer hulle op ’n trampolien klim,” sê Nissen. “Hulle word meegevoer deur die vreugde wat ’n springery verskaf.”

KRY SÓ DIE BESTE UIT JOU SPRINGERY

VERBRAND KILOJOULES: Doen eenvoudige spronge en sterspronge en probeer op een plek draf.

RAAK FERM: “Probeer hurktreë en hurksitte,” sê Joanna Edwards, die fiksheidskoördineerder van die Rush-trampolienpark in Brittanje. “Vorder na hoër-impak-hurkspronge en lae hurksitte.”

’N PLATTER MAAG: Bons liggies en lig albei arms tot by jou bors, met jou elmboë gebuig. Draai jou knieë na regs en jou lyf na links. Herhaal aan die ander kant.

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
6 moontlike redes hoekom jy nie gewig verloor nie

Doen en eet jy al die regte dinge, maar verloor steeds nie gewig nie? Hier is ’n paar foute wat...

Close