×
Skakel na Engels

Hoekom jy vir ’n oogtoets móét gaan

Nasionale Oogsorgbewustheidsmaand is van 19 September tot 16 Oktober. Wanneer laas het jy jou oë laat toets? Selfs al het jy nie ’n bril nodig nie, behoort dit ’n noodsaaklike gesondheidsondersoek op jou doenlysie te wees.
eye test

Met ongeveer 120 miljoen mense wêreldwyd wat weens ongekorrigeerde oogprobleme swak sig ervaar, is dit noodsaaklik om ooggesondheid voorop te stel. Maar as ek hier lees en ek dra nie ’n bril of kontaklense nie, of as daar niks met my sig fout is nie, hoef ek tog seker nie so dikwels vir ’n oogtoets te gaan nie? Verkeerd. ’n Oogtoets is net so belangrik soos ander jaarlikse ondersoeke, selfs net om die vroeë aanvang van probleme te keer. Die gerekende optometriegroep Mellins i-Style vertel hoekom ’n oogtoets ’n noodsaaklike deel van jou algemene gesondheidsroetine moet wees.

Hoekom moet ek vir ’n oogtoets gaan wanneer my sig goed is?

  • ’n Oogtoets kan vasstel of daar enige onderliggende oogbeserings of -infeksies is waarvan jy dalk nie bewus is nie.
  • Enige abnormaliteite of toestande soos katarakte, makulêre degenerasie of gloukoom kan vroeg genoeg opgespoor word.
  • Jou oë gee insig in jou algehele gesondheid, en ’n optometris is gewoonlik die eerste gesondheidsorgkenner wat sistemiese siektes soos hoë bloeddruk, diabetes en verhoogde cholesterol bespeur.

Wanneer moet ek onmiddellik vir ’n oogtoets gaan?

  • Wanneer jy skielik wasige of beperkte visie ervaar.
  • Wanneer jy gereeld hoofpyne kry wat nie met sinus of ander faktore verband hou nie.
  • Wanneer jy “swewende” objekte of enige ander ongewone donker kolle sien wat in jou visie “dryf”.
  • Wanneer jy skerp pyn in of om jou oë ervaar.
  • Wanneer jy ligflitse ervaar.
  • Wanneer jy agterkom dat jy gereeld skeel kyk.
  • Wanneer diabetes pas by jou gediagnoseer is.

Hoe kan ek beter vir my oë sorg?

Jou oë kan die spit van ’n ongesonde leefstyl afbyt. Maak seker jy volg ’n dieet met genoeg vitamiene en antioksidante en verlaag jou risiko vir chroniese siektes soos diabetes deur jou gewig stabiel te hou. Vermy nikotien. Let op jou familie se ooggesondheid om vas te stel of jy geneties geneig tot sekere oogtoestande is. As jy op ’n rekenaarskerm werk of deur de dag naby leeswerk doen, neem gereelde blaaskanse en gee jou oë oefening. En vestig ’n verhouding met ’n betroubare optometris, net soos jy met ’n dokter of ginekoloog sou doen. Jy het immers net een paar oë.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
6 oefeninge om jou oë te versterk

Het jy geweet jou oë het gereelde oefening nodig, net soos enige ander liggaamsdeel? Hier is 6 maklike oogoefeninge om...

Close