×
Skakel na Engels

Hoekom jou elmboë droog raak en hoe om dit te keer

Velkenners onthul die faktore wat droë elmboë veroorsaak en hoe om dit te keer. Deur Vicky Chandler

Ons vel ly onder sporadiese weerveranderinge – met ons elmboë een van die grootste sondaars van droë, skurwe vel. Ons het met twee velkenners gepraat om uit te vind presies hoekom ons droë elmboë kry, en hoe om dit irriterende probleem te behandel.

Hoekom kry ons droë elmboë?

Dit gaan oor die kliere in jou elmboë, of gebrek daaraan, wat ongewenste droogheid veroorsaak, sê dr. Mervyn Patterson, kosmetiese dermatoloog by Woodford Medical.

“Die vel op die elmboog is heeltemal anders as ander vel op ons liggaam,” sê hy. “Dis geneig om baie dikker te wees om meganiese rekking te weerstaan, en is droër omdat dié deel beduidend minder vetagtige kliere, die olie-afskeidende dele van die vel, bevat.”

Trouens, ons elmboë en die onderste deel van ons bene produseer minder van die lipiede wat belangrik vir die boonste laag van ons vel is. Dit beteken dat meer ongewenste uitwendige faktore ons elmboë kan affekteer, en dit behou minder water.

Dr. Noor Almaani, konsultantdermatoloog by The Private Clinic of Harley Street, het ons van ander unieke faktore vertel wat ook tot droë elmboë kan bydra. Dit sluit in:

  • Wrywing van byvoorbeeld klere, of wanneer die elmboë op harde voorwerpe rus.
  • Algemene liggaamsdehidrasie
  • Rook
  • Hormoonveranderinge, soos die menopouse
  • Oorerflike toestande soos ekseem

Word droë elmboë met enige ander mediese toestand verbind?

Sommige toestande en medikasie kan ook die oorsaak van jou droë vel wees. Sowel diabetes as skildklierprobleme word met droë elmboë en knieë verbind.

“Toestande soos skildklierprobleme of diabetes ontwrig die vel se funksie oor die algemeen en word met droë vel oor die hele liggaam verbind, wat droogheid op die elmboë vererger,” sê dr. Patterson.

“Bo en behalwe dit word sekere medikasies soos vitamien A-derivate ook met droë elmboë verbind,” sê dr. Almaani.

Dit is ook belangrik om te onthou dat die meeste gevalle van droë elmboë nie weens ander toestande of onderliggende primêre velsiektes ontstaan nie, maar weens die ontwrigting van gewone vel. Trouens, droë vel en iets soos psoriase is twee heeltemal verskillende dinge.

“Psoriase is ’n velsiekte, waar die liggaam se eie immuunstelsel die vel aanval,” sê dr. Patterson. “Ontsteking is ’n gevolg van oorproduksie van lae velselle wat dan opmekaar ophoop en psoriase-aanpaksels vorm.”

Wenke om droë, skurwe elmboë te versag:

1. Vermy reininging met produkte met ’n seepbasis, veral skerp alkaliese sepe en opaktiewe middels.
2. Probeer om afskilfering met skuurrome en glikoliese materiale te vermy.
3. Verseker dat die beskermende vellaag gesond bly deur gewone olierige bevogtigers te gebruik.
4. Vermy lang, warm stortbaddens. “Dit kan tot die uitputting van tussensellulêre lipiede en uitdroging van die buitenste laag van die vel lei,” sê dr. Almaani.
5. Moenie te veel skrop of jou vel afskilfer nie. Dis dalk die moeite werd om kussinkies of opgestopte materiaal te gebruik wanneer jy jou elmboë vir lang tye op harde oppervlakke laat rus.

Van: www.goodhousekeeping.co.uk

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief