×
Skakel na Engels

Hoekom essensiële olies deel van jou skoonheidsroetine behoort te wees

Maak gerus op Moeder Natuur staat wanneer dit by jou skoonheidsroetine kom
olies

Die gesondheidsvoordele wat met essensiële olies verband hou is bekend, maar hierdie olies het ook eienskappe wat dit wonderlik vir enige skoonheidsroetine maak. Hier is ’n paar maniere om dit te inkorporeer sodat jy al die natuurlike voordele daarvan kan verkry.

 

Teeboom

Teeboomolie is so fantasties vir aknee dat baie produkte dit as hoofbestanddeel bevat. Dit het antibakteriële eienskappe, dit droog puisies uit en keer dat dit verder versprei. Wend teeboomolie direk met ’n wattestokkie aan ’n puisie aan en los dit oornag aan. Teen die volgende oggend behoort die puisie kleiner en minder rooi te wees.

Jasmyn

Soos wat ons ouer word, verlang ons na die plomp, soepel vel wat ons in ons jeug gehad het. Een manier om jou vel se elastisiteit te verbeter sonder om in duur produkte propvol chemikalieë te belê, is om ’n bietjie jasmynolie gemeng met ’n draerolie soos soetamandelolie in ’n 50-50-ratio aan jou vel te masseer nadat jy jou gesig in die aand gewas het. Daar is ook bewys dat hierdie olie rekmerke help verdof, dus kan dit aan enige geaffekteerde dele aangewend word. En dit ruik boonop fantasties!

Patsjoelie

Hierdie essensiële olie dien as ’n saamtrekmiddel wat nie net die omset van velselle stimuleer nie, maar ook help om ’n los vel stywer te maak. Patsjoelie help om olierigheid te verminder en kan verligting bied aan simptome van velprobleme soos psoriase, ekseem en dermatitis. Meng dit met ’n draerolie en masseer dit aan jou vel.

Jojoba

Jojoba is beslis ’n veelsydige staatmaker met soveel gebruike. Dit is ryk aan antioksidante, het antiswam- en anti-inflammatoriese eienskappe en bevat vetsure wat goed is vir die vel. Jy kan dit op ’n watteskyfie plaas en as grimeerverwyderaar gebruik – dit is nie net doeltreffend nie, maar behandel ook tegelykertyd die vel.

Naeltjie

Daar is baie produkte beskikbaar vir mense wat voller lippe begeer, maar skrikkerig vir naalde is. Naeltjie-olie is ’n natuurlike alternatief. Meng dit met ’n bietjie heuning, wend dit aan jou lippe aan en los dit vir ’n minuut of twee aan. Spoel dit dan af. Die resultate is onmiddellik en dit is veilig om te gebruik. Toe, tuit daai lippe!

Laventel

Een van die bekendste en mees geliefde olies, laventel, is bekend daarvoor om stres te beveg en jou te help ontspan. Wat jou vel betref, help dit om die selle te vernuwe en om sonvlekke en littekens te verdof. Dit is vir alle veltipes geskik en werk die beste as ’n verfrissingsmiddel – maak dit deur 20 druppels olie met 100 ml gedistilleerde water te meng.

Peperment

Almal wil graag ’n vars asem hê en pleks daarvan om geld aan mondspoelmiddel te bestee, kan jy jou eie met pepermentolie maak. Meng twee koppies gedistilleerde water, twee teelepels koeksoda en vyf druppels pepermentolie. Dit sal help om jou tande wit te hou en om gaatjies te keer.

Foto: iStock/gorbachlena

LEES OOK:

Nuwe skoonheidsneiging: kremetartolie
Hoe om jou vel en hare winterbestand te maak
5 plantremedies teen verkoue

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Hoe om gesigolies en -serums reg aan te wend

Ja, daar is ’n regte en ’n verkeerde manier om dit te doen. Volg hierdie maklike stappe om die maksimum...

Close