×
Skakel na Engels

Hoe om te weet of jou kind regtig begaafd is

Wat is die kenmerkende tekens dat jou kind uitsonderlik skerp is – en hoe kan jy hulle die beste ondersteuning gee?

“Begaafd” is die term wat ons gebruik om na ’n kind te verwys wat kenners sê ’n “hoër leerpotensiaal” het. En hoewel ons almal graag wil dink ons kinders is die beste in die klas, hoe weet jy wanneer hulle regtig verstandelik gevorderd is?

Die liefdadigheidsorganisasie Potential Plus UK (voorheen bekend as die Nasionale Vereniging vir Begaafde Kinders) raam hulle help elke jaar ongeveer 14 000 kinders met ’n hoër leerpotensiaal (HLP) in Brittanje met die doel om hul selfvertroue te kweek en hul potensiaal te help vervul. Denise Yates, uitvoerende hoof van Potential Plus UK, sê:

“Ons gebruik die term “hoër leerpotensiaal” eerder as “begaafd” omdat laasgenoemde negatiewe assosiasies kan hê. Baie ouers is te verleë om die woord “begaafd” oor hul kind te gebruik omdat dit kan lyk of hulle spog, en sommige onderwysers en kinders verkies ook om nie die term te gebruik nie. Om ’n kind in die verkeerde omgewing as “begaafd” te etiketter kan lei tot wat ons ’n bepaalde ingesteldheid noem – dat hul intelligensie ’n gegewe is wat nie op enige betekenisvolle manier verander kan word nie. ’n Kind wat sy/haar eiewaarde hierop grond, sal mislukking tot elke prys probeer vermy om hul eie geloof in hul vaardighede te behou en kan dalk nooit leer om gehard  teen kritiek of mislukking te wees nie – wat pynlike, maar noodsaaklike lesse is. Waar so ’n kind selfversekerd en gelukkig by die huis kan wees, kan hulle by die skool oorweldig voel weens die intense gewig van verwagtings wat mense van hulle het.

Hoe om ’n kind met HLP uit te ken

“Dit is moontlik om ’n begaafde kind van nie lank ná geboorte nie te eien,” sê die sielkundige prof. Joan Freeman, skrywer van Gifted Lives: What happens when gifted children grow up. Hulle hou hul koppe vroeër regop, het ’n baie direkte kyk en is vinnig in staat om te kommunikeer, nie met taal soos ons spraak verstaan nie, maar met ander verbale klanke. Hulle kan ’n baie ryk wisselwerking met hul versorgers hê.”

“Terwyl hulle grootword, is hulle gevorderd – wat spraak, lees en begrip betref. Ouers is bekommerd dat hulle nie genoeg stimulasie vir hul kind kan bied nie en dat gedragsprobleme sal ontwikkel as ’n gevolg daarvan, maar alle ouers kan stimulerend wees, eenvoudig omdat hulle volwassenes is, en daarom ’n veel breër kennisgrondslag het as selfs die slimste kinders.”

“Die verwagting van emosionele probleme in begaafde kinders is ’n algemene mite – in al my jare van navorsing. Ek het gevind dat die meeste begaafde en talentvolle kinders emosioneel normaal is. Die redes dat dié kinders hulle wangedra, is baie dieselfde as met ander kinders, maar ons neem maklik aan dis hul begaafdheid wat die probleem is … maar dit het meer met ander mense se aannames te doen. Hulle is dikwels nie meer problematies as enige ander kind nie.”

Drie maniere om jou HLP-kind te ondesteun

1. Gee hulle take wat hulle uitdaag; haal hulle uit hul gemaksone. Maar benader dit reg: Die doel is om hul belangstelling te prikkel en hulle te help om selfvertroue te hê om hul vaardighede te verbeter, nie om hulle te dwing om te misluk nie. As hulle verveeld of geïrriteerd met die taak raak, kan hulle bang vir mislukking wees. Wees gaaf en geduldig en maak dit makliker. Net so sal enige iets te maklik hulle vinnig verveel.

2. Help hulle om na hul portuur te neig (geesverwante kinders op dieselfde golflengte). HLP-kinders moet saam met ander mense soos hulle wees om te keer dat hulle geïsoleerd voel en hulle help om normaal te voel. Sommige verkies die geselskap van ouer kinders (of selfs volwassenes) om as klankbord vir hul idees te gebruik en speletjies mee te speel omdat hulle op komplekser maniere dink as kinders van hul eie ouderdom. “Om ’n kind egter weg van vriende na ’n klas van ouer, groter en volwassener kinders te skuif is oor die algemeen nie ’n goeie idee nie,” sê prof. Freeman. “Een van die belangrikste dinge om van hierdie kinders te verstaan is dat hul sosiale en emosionele ontwikkeling van hul intellektuele ontwikkeling kan verskil.” Dit kan ’n ingewikkelde taak wees – as dit lyk of jou kind ’n natuurlike portuurgroep het, is dit waarskynlik nie nodig om in te gryp nie. As hulle selfvertroue by die huis het, maar sosiaal onttrek, moet jy egter dalk weer dink oor saam met wie hulle hul tyd deurbring.

3. Leer hulle dat dit oukei is om te misluk. In die woorde van Barry Teare, skrywer van Help Your Talented Child: The essential guide for parents: “Mislukking as ’n resultaat van avontuurlike denke is een van die bestanddele van sukses op die hoogste vlak. Die enigste mense wat nooit misluk nie, is hulle wat niks doen nie of net maklike goed doen, wat uiteindelik nie vir hulle of enige iemand anders help nie.”

Slim kind:

  • Ken die antwoorde
  • Stel belang
  • Het goeie idees
  • Werk hard
  • Geniet hul portuurgroep
  • Absorbeer inligting maklik
  • Is tevrede met sy/haar eie werk

HLP-kind

  • Vra die vrae
  • Is uiters nuuskierig
  • Het ongewone, “lawwe” idees
  • Speel rond, maar toets goed
  • Verkies die geselskap van ouer kinders
  • Ken reeds die inligting
  • Is baie selfkrities

Van: www.goodhousekeeping.co.uk

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief