×
Skakel na Engels

Hoe om slapeloosheid te oorkom

Rol jy heelnag rond? Ons kan jou help om soos ’n klip te slaap

Having trouble sleeping, insomnia caused by stress.

Tol jy aand vir aand ure lank in die rondte in jou bed? Of raak jy aan die slaap sodra jou kop die kussing raak, maar skrik kort-kort in die nag wakker? Die meeste van ons sukkel ’n bietjie met slaap. As jy dus soos die meeste van ons is en graag wil weet hoe dit voel om ’n goeie nagrus agter die blad te kry, lees gerus verder:

Ontdek jou slaaptipe

Tipe 1

Jy raak aan die slaap enkele minute nadat jy bed toe gaan, maar skrik kort-kort in die nag wakker en vind dit dan moeilik om weer aan die slaap te raak.

Wat is die probleem?  

Daar is waarskynlik iets wat jou uit die slaap hou. Daar is baie redes hoekom ons in die middel van die nag wakker skrik – ’n snorkende of rustelose slaapmaat, pyn, ’n behoefte om badkamer toe te gaan of probleme soos rustelose bene.

Die oplossing

1. Spreek die dinge aan wat met jou slaap inmeng, en probeer om ’n kopskuif te maak. As jy bed toe gaan met die vrees dat jy nie sal kan slaap nie en jou bekommer wanneer jy wakker skrik, sal dit moeiliker wees om weer aan die slaap te raak.

2. Moenie gaan slaap met ’n vol blaas nie en verskuif (of verban) die snorkende bedmaat na die spaarkamer. Paai rustelose bene deur hulle saans koel te hou en ’n waaier in die slaapkamer aan te skakel.

Tipe 2

Jy bring ure deur met in die rondte tol en jou gedagtes wat met jou weghardloop voordat jy daarin slaag om Klaas Vakie te verwelkom.

Wat is die probleem?

Jy ontspan nie voor slaaptyd nie, met die gevolg dat jou gemoed en jou lyf nog op hete kole verkeer.

Die oplossing

1. Stel vas wat jou persoonlik voor slaaptyd laat ontspan. Miskien is dit ’n lang, warm bad, ’n bietjie musiek luister of lees in die bed met ’n dowwe liggie aangeskakel.

2. Dink na oor enigiets wat jou pla lank voordat jy bed toe gaan – skryf die volgende dag se doen-lysie of enige bekommernisse wat jy het, neer. Dit sal jou help om daarvan te vergeet. 

Vyf ander dinge wat jy kan doen om ’n goeie nagrus te verseker

1. Moenie in die gewoonte verval om middagslapies te neem nie.

2. Moenie snags die horlosie dophou nie – staan liewer op en doen iets anders.

3. Voeg meer melk, eiers, kalkoen, hoender en vis by jou dieet – hulle is is almal bronne van die aminosuur triptofaan, wat klaarblyklik ’n kalmerende invloed uitoefen en jou lekker laat slaap.

4. Vermy ’n oordosis alkohol. Namate die alkohol gemetaboliseer word, sal jou brein op die gebrek daaraan reageer en jou wakker maak.

5. Nikotien is ’n stimulant – as jy rook, moenie dit ná 6nm doen nie.

Klik hier om uit te vind hoekom dit goed is vir jou om genoeg slaap te kry.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Die gesondheids- voordele van verlief wees

Dis wetenskaplik bewys dat liefde jou geestelik, fisiek, sosiaal en spiritueel gesond kan hou

Close