×
Skakel na Engels

Hoe om op te hou op die sluimerknoppie te druk

Dis koud en donker, en al wat jy wil hê, is nog ’n paar minute in die bed. Daarom druk jy die sluimerknoppie een keer. Oukei, twee keer. Dit kan tog nie skade doen nie? Verkeerd

 

HOEKOM JY DIT MOET VERANDER

Die manier waarop ons wakker word, het ’n invloed op die res van ons dag, het dr. Michael Decker, ’n Amerikaanse slaapspesialis aan The Huffington Post gesê. Gedurende daardie vroeë oggendure wanneer dit so verloklik is om die sluimerknoppie te druk, is ons in wat die paradoksale slaapfase (REM-slaap) genoem word – die fase waarin drome gewoonlik voorkom. Wanneer ons gedurende hierdie fase wakkergemaak word, is ons geneig om meer gedisoriënteer en moeër te voel as gedurende enige ander fase. En hoe skieliker ons wakkergemaak word, hoe erger is die uitwerking.

HOE OM DIT TE DOEN

Gelukkig kan jy jouself leer om vroeg wakker te word en dit te weerstaan om daardie sluimerknoppie te druk. Doen dit só:

  1. Kry ’n goeie nagrus.

Moenie skermtoestelle voor slaaptyd gebruik nie, want die blou lig wat dit uitstraal, stimuleer die brein en maak dit moeiliker om aan die slaap te raak. Vermy ook ’n aandete met vleis, want proteïen is moeiliker om te verteer en kan jou snags wakker hou. En moenie alkohol drink nie: Dit verminder die hoeveelheid REM-slaap wat jy kry en sal dus veroorsaak dat jy deurmekaar voel wanneer jy wakker word.

LEES: Hoe om ’n oggendmens te word

  1. Staan op om die alarm af te skakel.

Maak dit moeiliker om die sluimerknoppie te druk deur jou alarm aan die ander kant van die kamer te hou. En stel meer as een alarm, net ingeval. As dit regtig vir jou moeilik is om die sluimergewoonte af te skud, probeer om jou alarm te stel vir 10 tot 15 minute voordat jy moet opstaan. Dis nie ideaal nie, maar jy sal ten minste betyds by die werk wees!

  1. Lok jouself uit jou bed.

Stel jou alarm op jou geliefkoosde energieke deuntjie – iets wat jou uit die bed sal wil laat spring en aan die beweeg kom. As jy van koffie hou en ’n koffiemasjien met ’n tydtoestel het, stel dit vir 10 minute voordat jy moet opstaan. Mmm … volg nou daardie geur uit die bed uit!

LEES: 5 goed wat suksesvolle mense voor 09:00 doen

  1. Laat die lig inkom.

Blootstelling aan lig kan jou sirkadiese horlosie aan die gang kry om jou wakker te maak en jou energiek te laat voel. Maak dus jou gordyne oop sodra jy opstaan. Geen venster naby nie? Of nog donker buite? Skakel jou slaapkamerlig aan, want kunsmatige lig sal dieselfde uitwerking as natuurlike lig hê.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
6 webwerwe om te besoek wanneer jy nie kan slaap nie

Sukkel jy om te slaap? Het jy reeds skape getel en diep en stadig probeer asemhaal? Selfs al waarsku slaapkenners...

Close