×
Skakel na Engels

Hoe om ’n wimperkruller te gebruik

Hierdie nuttige apparaatjie sal jou wimpers se voorkoms in ’n oogwink verander!
wimperkruller

Die meeste vroue wil hul oë beklemtoon en sal feitlik enige iets doen om die fokus op hul kykers te plaas. En dis presies wat lang, gekrulde wimpers doen – dit omraam en aksentueer jou oë. Maar hoe gemaak as jy nie met natuurlike lang wimpers gebore is nie?

Wimperkrullers bestaan al eeue lank, maar dit kan ’n bietjie verwarrend wees om te gebruik. Hier is ’n stap-vir-stap-gids om die beste resultate te kry.

Let wel

Anders as wat die meeste mense dalk dink, moet jy jou wimpers krul voordat jy enige produkte daaraan aanwend. As jy ’n wimperkruller bo-oor maskara gebruik, kan die produk aan die kruller vaskleef en jou wimpers uittrek. Die beste tyd om ’n wimperkruller te gebruik, is nadat jy oogomlyner en oogskadu aangewend het, maar voordat jy maskara aansit.

Lees: Kies ’n oogskadu vir jou oogkleur

Stap een

Maak die wimperkruller en jou oë oop en plaas jou boonste wimpers op die kussinkie van die kruller se onderste rand. Sorg dat die wimperkruller so na as moontlik aan jou wimperlyn is en maak die kruller stadig toe – oppas dat jy nie jou ooglid vasknyp nie! Hou die kruller vir 10 tot 15 sekondes toegedruk.

Stap twee

Vir ’n natuurlike kurwe, maak die kruller ná 10 tot 15 sekondes oop en skuif dit opper na die punte van jou wimpers toe. Druk die kruller versigtig toe en hou dit vir nog 10 tot 15 sekondes só. Herhaal dié proses ’n paar keer op verskillende plekke nader en verder van jou wimperlyn af totdat jy tevrede is met die definisie. 

Lees: 20 ongelooflike goed wat jy met klapperolie kan doen

Stap drie

Sodra jy tevrede is met die krul in jou wimpers kan jy maskara aanwend. Ongeag die kleur, maak seker jy gebruik ’n formule wat nie te swaar, dik of nat is nie, want dit sal maak dat jou wimpers hul mooi vorm verloor. Dit kan dalk ’n rukkie neem om aan hierdie proses gewoond te raak, maar as jy dit eers onder die knie het, sal jou wimpers – en oë – werklik modelmooi lyk.

Gesonde, vol wimpers sal beter krul en mooier lyk as wimpers wat in ’n swak toestand is. Versorg jou wimpers deur altyd jou grimering behoorlik te verwyder en deur saans klapperolie aan jou wimpers aan te wend.

FOTO: iStock/CentralITAlliance

LEES OOK:

5 maniere om jou oë te lig

Die 9 grootste foute wat jy met maskara maak

9 onbekende feite oor maskara

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Kies ’n oogskadu vir jou oogkleur

Hoe om jou oë trefkrag te gee!

Close