×
Skakel na Engels

Hoe om ’n nat selfoon te red

Het jy jou selfoon in die toilet laat val of ’n drankie daarop gemors? Moenie paniekerig raak nie – volg net dié moets en moenies

 

 

1. Haal jou foon uit die water

Hoe vinniger jy dit uit die vloeistof verwyder, hoe minder skade word aangerig.

 

2. Moet geen knoppies druk nie

Skakel dit af (as dit nog nie af is nie), maar weerstaan die versoeking om enige ander knoppies te druk, want die water kan onder die sleutels invloei.

 

3. Verwyder die battery en omhulsel

Probeer om nie jou foon te skud of te veel te kantel nie om te keer dat water in ander dele van jou mobiele toestel invloei. Verwyder ook enige ander bykomstighede soos oorfone. Plaas dit alles op handdoekpapier om droog te word.

 

4. Haal die SIM-kaart uit

Die meeste SIM-kaarte is waterbestand, maar haal dit liewer uit en plaas dit eenkant om droog te word.

 

5. Vee jou foon af

Gebruik handdoekpapier of ’n skoon, sagte lap om van enige sigbare vloeistof ontslae te raak, maar wees versigtig dat daar nie vesels in die spleetjies vassteek nie.

 

6. Maak jou foon droog met enige van dié metodes:

  • Gebruik ’n stofsuier om enige vloeistof op te suig. Nie te naby nie, want dit kan statiese elektrisiteit skep; of
  • Plaas jou foon in rou rys (of silikajelpakkies, soos dié wat in skoenbokse gebruik word) in ’n lugdigte houer. Die rys sal enige vog absorbeer.

 

7. Wag minstens 24 uur

Wees geduldig. As dit ná ’n dag steeds nat is, herhaal die droogproses. En maak seker al die ander dele, soos die SIM-kaart en die battery, is droog voordat jy dit terug in jou foon sit.

 

8. Skakel dit aan …

… en hou duim vas! Kyk of die skerm werk – veral as dit ’n raakskermtoestel is – en dat die foon nie enige vreemde geluide maak nie.

 

9. As dit nie aanskakel nie

Neem dit na ’n gemagtigde handelaar. Wees eerlik oor wat gebeur het. Kyk of vra of jou waarborg nog geldig is.

 

10. Wat om nié te doen nie

 

MOENIE ’N HAARDROËR GEBRUIK NIE

Afgesien van die hitte sal ’n haardroër die vloeistof selfs verder in die hoekies en gaatjies van jou foon inblaas.

 

MOENIE JOU FOON VRIES NIE

Mense het al voorgestel dat jy jou foon in handdoekpapier toedraai en dit vries, maar sodra dit ontvries het, kan dit tot selfs erger waterskade lei.

 

 

Het jy enige van dié metodes probeer? Laat weet ons, asseblief!

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
5 newe-effekte van jou selfoonverslawing

Ja, daar is nou selfoonverwante sindrome DEUR AMANDA HAWKINS

Close