×
Skakel na Engels

Hoe om jou skeermes langer te laat hou

Hier is 5 maklike reëls om jou skeermes skerp en reg vir aksie te hou. Deur Samantha Escobar

Daar is niks soos die gladde gevoel nadat jy jou bene geskeer het nie, maar dit kan met ’n hoë prys kom. Om maand op maand en jaar op jaar skeermesse te koop kan duur raak, maar as jy joune reg behandel, kan jy die koste beperk. Gebruik hierdie wenke van kenners om die meeste uit jou skeermes te kry – en te keer dat dit roes.

1. Knip eers korter indien nodig

As jy vir die eerste keer in ’n lang ruk skeer of ’n deel van jou lyf skeer met meer hare as ander dele, soos die bikinigedeelte, beveel Gabriel Davidov van JF Men Master Barber and Men’s Specialist aan dat jy eers ’n knipper gebruik om te keer dat hare die skeermes verstop.

2. Berei jou vel behoorlik voor voordat jy skeer

Wat jy met jou vel doen voordat jy skeer, is net so belangrik soos hoe jy jou skeermes behandel. As jy byvoorbeeld jou vel afskilfer voordat jy skeer, help dit om van al die dooie velselletjies ontslae te raak wat jou skeermes kan verstop en dit kan ook keer dat jy ’n skeeruitslag kry. “As jy die regte skeerolies en -rome gebruik, sal dit jou ’n gladde afwerking gee,” verduidelik Davidov. “Gebruik warm water voordat jy skeer om die porieë oop te maak en die hare te versag.” Dit sal minder stremming op die lem paas en dit langer laat hou.

3. Spoel die lemme heeltemal af nadat jy geskeer het – elke keer

Dinge wat jou skeermes minder doeltreffend maak, sluit die seperige produkte in wat jy gebruik om ’n skuim te verkry. “Die meeste lemmetjies is met Teflon bedek. Residu van skeerrome kan dié bedekking laat oplos en die lemme stomp maak of laat roes,” sê Davidov. Verstopte skeermesse kan ook veroorsaak dat jy minder glad skeer.

4. Bêre jou skeermes op ’n koel, droë plek

Humiditeit kan skeermesse laat roes. Kies dus ’n koel plek om jou skeermes te bêre. “Die ergste ding wat jy kan doen, is om jou skeermes op ’n warm, vogtige plek te los met die lemme wat in ’n poel seperige water lê,” sê die dermatoloog dr. Whitney Bowe. Dit kan nie net die lemme laat roes nie, maar ook die risiko vir ’n bakteriële of swaminfeksie verhoog – jig! Druk jou skeermes liggies droog nadat jy dit gebruik het en kies dan ’n plek buite die stort om dit op te hang.

5. Beskerm dit wanneer jy reis

Dis maklik om jou skeermes sommer net in jou sak te gooi wanneer jy inpak, maar dr. Bowe waarsku dat hoe meer wrywing en druk die lemme aan blootgestel word, hoe vinniger sal dit beskadig word. “Baie gesofistikeerde skeermesse het ook allerhande skarniere en draaispille, en as jy dit nie reg bêre nie, sal dit uiteindelik nie meer glad oor al jou lyf se kontoere kan beweeg nie,” voeg sy by. Davidov beveel aan dat jy jou skeermes in ’n houer bêre wanneer jy reis of dit ten minste met handdoekpapier toedraai om te keer dat dit teen iets hards stamp en buig of stomp raak. En: Wil jy regtig hê dit moet aan jou klere vashaak?

Bonus: Hoe om te weet wanneer dit tyd is om die skeermes weg te gooi

Selfs al sal dit jou skeermes in ’n goeie toestand hou vir solank moontlik as jy hierdie roetine volg, is dit belangrik om te weet wanneer dit tyd is om dit weg te gooi. “Wees versigtig dat jy ’n skeermes nie te lank gebruik nie,” het ’n woordvoerder van Fillette Venus aan Goeie Huishouding gesê. “Dit sal nie net verseker dat jy glad skeer nie, maar ’n ou, stomp lem kan veroorsaak dat jy jouself makliker raak skeer.” As die lem stomp of geroes is, vervang dit so gou moontlik.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Waarskuwing oor skeermeslemmetjies

Jou badkamer kan nare bakterieë huisves

Close