×
Skakel na Engels

Hoe om jou kinders sover te kry om in hul eie beddens te slaap

As die getrippel van klein voetjies elke nag om 03:00 by jou bed die oorsaak van sakke onder jou oë is, kan hierdie wenke van kenners jou dalk net help

 

Daar is baie redes hoekom ’n kind nie snags in hul eie bed wil bly nie, van ’n vrees vir die donker tot dat hulle nie weer aan die slaap kan raak nadat hulle wakker geword het nie en Ma en Pa se troos nodig het om hulle weer aan die slaap te kry.

As jy ’n groot genoeg bed en bewonderenswaardige verdraagsaamheid het wanneer jou engeltjie jou met die elmboog tref of raak skop elke keer wanneer hy omdraai, is dit orraait. Maar as jou kind se nagtelike besoeke vir almal uitputtend is, is dit dalk tyd om op te tree.

Die kinderslaapkenner Andrea Grace sê: “Om jou kinders te help veilig voel in sy of haar eie bed is een van die beste vaardighede wat jy hulle kan leer. Hulle sal jou voorbeeld volg wanneer dit by slaaptyd kom. Dit is dus regtig belangrik dat jy opgeruimd en selfversekerd daaroor is om bed toe te gaan sodat hulle verstaan dis ’n lekker manier om die dag te eindig eerder as iets om voor bang te wees.”

Doen dit só

Wees konsekwent. Dit is ’n mantra van ouerskapkenners, en daar’s ’n goeie rede daarvoor. Hou by ’n konsewente roetine – bad, storie, soentjie en goeienag – sodat jou kind weet wat om elke aand te verwag en troos daarin vind. Skep positiewe assosiasies rondom betyd en spesifiek hul eie bed – miskien het hulle byvoorbeeld ’n teddiebeer wat hu spesiale bedtydbeer is. Hoe veiliger hulle voel, hoe makliker sal hulle tot bedaring kom wanneer hulle snags wakker word.

Praat met hulle oor wat verwag word – en gee iets om hulle aan te spoor. “Sê iets soos: ‘Ek weet jy kan vanaand ’n soet meisie wees en die HELE nag in jou bed bly,’ ” sê Andrea. “Daar is niks mee fout om jou kind vir goeie gedrag te beloon nie – ons reageer almal goed op belonings en dit hang van jou af hoe jy dit wil doen. Jonger kinders sal dalk beter reageer op iets kleins die oggend nadat hulle heelnag in hul eie bed gebly het, terwyl ouer kinders, wat genot daaruit put om vir beloning te wag, dalk ’n groter beloning aan die einde van die week kan verkies. Dit is belangrik om die beloning te gee soos beloof as hulle in hul bed bly en om nie toe te gee wanneer hulle huil of kerm nie!”

Moenie by jou kind bly totdat hy aan die slaap raak nie. “Kinders moet self aan die slaap kan raak sodat hulle hulself tot bedaring kan bring as hulle snags wakker word en jy is nie daar nie,” sê Andrea. “As jy hulle streel of by hulle lê totdat hulle aan die slaap raak, sal hulle dieselfde verwag wanneer hulle 02:00 wakker word.”

Moenie oorreageer of kwaad word wanneer jou kind langs jou bed verskyn nie – as dit ’n langtermyngewoonte is, gaan dit tyd neem om iets te verander wat ’n outomatiese respons geword het as sy snags wakker word. “Sê iets soos: ‘Onthou jy ons het gesê jy gaan vanaand in jou bed bly? Gaan gou terug,’ ” sê Andrea. “Beperk interaksie tot ’n minimum. Sê: ‘Gaan kruip nou in; ek sal oor ’n paar minute kom kyk.’ En hou dan by jou woord – ongeag hoe moeg jy voel.”

Verwag ’n paar trane – dis heeltemal normaal. “Hou aan teruggaan, stel jou kind gerus en sê vir hom hoe goed hy vaar, maar moenie toelaat dat hy terug in jou bed klim nie. Wees gaaf, maar ferm. As jy hom 50 keer terugneem bed toe, maar die 51ste keer gee hy in, is al jou harde werk nie verniet nie. Wees kalm, maar bly by jou voorneme en teen die derde nag behoort jou kind tevrede te wees om heelnag in sy eie bed te bly – solank jy konsekwent is,” sê Andrea.

Hierdie artikel het oorspronklik op Good Housekeeping.UK verskyn.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
3 maklike resepte vir tuisgemaakte verf vir kinders

Verf is so ’n prettige manier vir kinders om hul kreatiwiteit uit te druk, maar dit kan duur wees. Gelukkig...

Close